Dissipelskap: Wat is ‘n dissipel?

The less we read the Word of God, the less we desire to read it, and the less we pray, the less we desire to pray. –George Mueller

Dissipelskap: Wat is ‘n dissipel?

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

Kom ons begin deur na twee basiese vrae te kyk:

  • Wat is ‘n dissipel?
  • Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?

Wat is ‘n dissipel?

Die woord dissipel word vertaal met leerling, vakleerling of volgeling. In die tyd van Jesus Christus het die dissipels hulle rabbi (= leermeester) gevolg. Waar hy gegaan het, het hulle gevolg. Hulle leer van sy onderrig, maar ook deur te kyk wat hy doen – hulle doen wat hy doen. Jesus Christus het sy dissipels geroep om Hom te volg. Hulle het nie geweet waarheen Jesus hulle gaan neem nie. Hulle weet wel wat dit beteken om te volg – hulle gaan oral waar Hy gaan en sien alles wat Hy doen.

As Jesus Christus ons roep om sy dissipels te wees, moet ons Hom volg. Ons boots Hom na en volg sy bediening. In die proses word ons meer en meer soos Hy. Maar ons glo vandag dat ons ‘n Christen kan wees sonder om Jesus Christus te volg of soos Hy te wees. ‘n Volgeling wat nie volg nie, is tog ‘n onsinnige idee. Dit is glad nie wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.

Die konsep van ‘n dissipel wees, is maklik om te verstaan, maar nie so maklik om uit te leef nie. Hoekom nie? Want, as ek sê dat ek ‘n dissipel van Jesus Christus is, beïnvloed dit my hele lewe.

Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?

Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19.

Dit was Jesus se woorde aan die eerste vier dissipels wat Hy geroep het om Hom te volg. Net voor dit sê Hy: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (4:17). As iemand vir jou sê dat die koning op pad is, wat doen jy? Jy maak seker dat jy gereed is om hom te ontvang.

Bekering beteken omdraai; van rigting verander; loop in die teenoorgestelde rigting. Dit vereis optrede. Jesus Christus sê vir die mense dat hulle hulle moet voorberei, want die Koning is op pad. Hoe berei ons voor vir hierdie Goddelike koninkryk?

  • Besef dat jy op die verkeerde pad is: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23).
  • Maar God in Jesus Christus het alles verander: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).

Alles gaan oor Jesus Christus: wie Hy was en wat Hy gedoen het. ‘n Belangrike aspek van bekering is dat ons ophou glo dat daar iets is wat ons kan doen om onsself te red. Iemand anders het reeds vir ons sonde betaal. Dit is vir ons iets vreemd, want dit is nie hoe ons moderne mense oor die lewe dink nie – elkeen vir homself is ons benadering. Dat ons op Iemand anders se offer vir ons moet vertrou, is nog vreemder vir ons. Maar hierdie optrede van God is reeds in die Ou Testament duidelik. Dink maar net hoe Hy sy volk uit Egipte gelei het.

Een aspek van dissipelskap wat ons dikwels ignoreer, is die koste – om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees, kos iets. Daarna kyk ons volgende keer.