Dit is Ek, wat magtig is om te red (Jesaja 63:1-6) – Francois Malan

Die wonderlike digwerk van hoofstukke 60-62 veronderstel ‘n beslissende ingryping van die Here in die lewe van die hele wêreld, waardeur Jerusalem verhoog sal word met die Here se vyande diensbaar aan haar. So ook in hierdie kort gedig, maar met ‘n kragtiger ingryping van die Here, wat hier voorgestel word as ‘n stryder wat sy wil met geweld sal toepas om die wêreld reg te maak, met heenwysings na die eindoordeel.

63:1 Die vraag word gestel soos van ‘n wag: ‘ Wie is dit wat van Edom af kom?…’ dit wil sê uit die gebied suid van die Dooie See (teen dié tyd was die Here se oordeel oor Edom al voltrek, deur mense uit Arabië, vgl. Obadja 1:1-14)

‘…wat daar uit Bosra (hoofstad van Edom) kom , in klere met skerp kleure/rooi gekleur? Die een – glorieryk gekleed, krom gebuk onder die grootheid van sy krag – Dit is Ek – die Een wat so bekend is dat sy naam nie genoem hoef te word in Israel nie (Eks 3:14; die Dooie See manuskrip voeg by: die Here; maar nie die Griekse Septuaginta nie) – wat in geregtigheid praat, magtig om te red.’ Die Een wat kom word aangedui met sy tipiese kenmerke: geregtigheid tsedakah in sy handelinge, en verlossing hosji‘a (in Griekse vorm is dit Jesus, Mat 1:21) deur sy optrede. Hy kom die verkeerde  dinge in Israel regstel, om Israel waarlik te verlos en leefbare omstandighede vir hulle te skep.

Edom kom van die woord ‘rooi’ moontlik weens die rooi rotsformasies in die land waar Esau (rooi; Gen 25:25; 36:1) en sy afstammelinge  gewoon het. Die stam btsr van Bosra word ook gebruik vir druiwe pluk, wat die klere van die plukkers rooi vlek. Die Here word hier geteken as ‘n soldaat wat uit die stryd kom, met sy mondering rooi gevlek van die bloed van Edom wat meegewerk het aan die wegvoering van Juda in ballingskap (Obadja 10-14) – in Mk 14:23-25 verwys Jesus na die wyn van die Nagmaal as sy bloed waardeur die verbond verseël word en wat vir baie mense vergiet word.

63:2 Die Here word voorgestel as iemand wat die wynpers getrap het en sy klere is rooi gevlek, soos die wag Hom bekryf. Die Hebreeuse term vir ‘rooi’ ’adom is van dieselfde stam  as die naam Edom  ’edom.

63:3-6 Die antwoord op die tweede vraag van die wag word in hierdie vier digverse gegee. Die naam van die spreker word nie genoem nie, maar daar is geen twyfel oor wie die spreker is nie. Drie motiewe kom in die verse tot uitdrukking:

v3 Die wynpers word tipies gebruik om oordeel uit te druk; hier as beeld vir die bloed van die vyande van die Here, wat deur die massiewe oordeel van die Here getref word (vgl. Joël 3:13 ; Openb 14:19; 19:11-13). Die Here sê dat Hy die oordeel alleen moes voltrek, sonder hulp of bystand – van ander volke soos Assirië en Babilon wat Israel vertrap het in die verlede?  Aan die kruis waar Hy die oordeel op die sonde van die hele wêreld op Homself voltrek, roep Jesus hardop: My God, my God, waarom het U my verlaat (Mark 15:34).

v4 Die tyd van die straf  oor sy vyande was ook die tyd van die verlossing vir sy volk, soos ‘n hersteljaar vir Israel.

v5-6 Twee beelde word gebruik: die bloed wat vloei soos sap uit die wynpers, en die wyn wat die mense laat steier in dronkenskap. So het bloed op die grond gevloei. Deur hulle in sy toorn oor te gee aan hulle eie begeertes het die mense mekaar en hulleself vernietig (Rom 1:18, 28-32).

Skrywer:  Prof Francois Malan