Draai die briek aan

image_pdfimage_print

 

Love is from God the way heat is from fire, or the way light is from the sun. Love belongs to God’s nature – John Piper

 

Draai die briek aan

Ons beweeg al hoe vinniger. Ons het ‘n obsessie met besig wees; ons wil dinge al hoe vinniger doen. Die pas waarteen ons lewe is buite beheer. Jesus was nooit gejaagd nie; Hy was nie deur die lewe oorweldig nie. Tog het Hy ‘n groot sending gehad wat Hy in ‘n baie kort tydjie moes afhandel. Jesus was nie gejaag nie, want Hy het teen God se pas beweeg. Om te jaag is die wêreld en nie God se pas nie.

 

Wat kos ons gejaagde lewe ons?

  1. ‘n Gejaagde lewe vernietig ons verhouding met God.

As ek met God wil verkeer, vereis dit stilte en ek moet aandag gee. Jesus het dikwels aan die wêreld onttrek om te bid. In hierdie stil oomblikke ontvang Hy die krag om sy taak voort te sit. In hierdie stil tye kry Hy die nodige wysheid om tussen God se planne en dié van die wêreld te onderskei. Tensy ek tyd met God alleen deurbring, sal die spoed van die wêreld my verstaan van God verwring. Angs, onrustigheid en ontevredenheid is jou voorland. Bedaar en erken dat Ek God is (Psalm 46:11).

 

  1. ‘n Haastige lewe verminder my vermoë om ander lief te hê

Dit is geen wonder dat die groot liefdeslied (1 Korintiërs 13) begin met: Die liefde is geduldig. Verhoudings kan net ontwikkel in ‘n rustige omgewing – iets wat haastige mense nie het nie. Hoe vinniger jy lewe, hoe minder is jou vermoë om ander lief te hê.

 

  1. ‘n Gejaagde lewe vermeerder die krag van versoeking

Ons leef in ‘n kultuur van onmiddellike bevrediging. In hierdie kultuur is dit vir Satan maklik om mense te verlei. So baie van ons foute – buitehuwelikse seks, dronkenskap, dwelms, ens – is omdat ons onmiddellike bevrediging soek. As jy geduld aanleer en leer hoe om te wag, sal God vir jou die dinge op sy tyd gee.

 

  1. ‘n Gejaagde lewe maak jou ongevoelig vir ongeregtighede.

‘n Gejaagde lewe beteken dat jy sonder diep gevoelens lewe. Jy het nie die tyd of die energie om te dink aan dinge buite jou snelbaan nie. Jy word onbewus van die gebrokenheid van die wêreld om jou. Ongeregtigheid en onderdrukking breek God se hart. As ons harte nie breek vir die dinge wat God se hart laat breek nie, is dit tyd om briek aan te draai.

 

  1. ‘n Gejaagde lewe bevorder wettisisme

In vandag se wêreld is inligting onmiddellik beskibaar. Met al hierdie inligting sou ‘n mens dink dat gelowiges meer van God as ooit tevore weet. Dit is die probleem: inligting leer my van God, maar dit verbind my nie met Hom nie. Kennis alleen lei tot wettisisme. Om God waarlik te ken, vereis wysheid en onderskeidingsvermoë. Hierdie eienskappe kry ons slegs deur nadenke, afsondering, gebed en in die geloofsgemeenskap. Dit gebeur nie oornag nie.

 

  1. ‘n Gejaagde lewe verwring jou doel en verminder jou passie

In ‘n gejaagde kultuur word jou lewensdoel bepaal deur wat jy doen – dit wat jy kan sien en vashou. Maar God se idee van doel is nie oor doen nie, maar oor word. Wat word ek?  Jy kan baie goeie dinge vir God doen, maar as dit nie kom uit ‘n verhouding met God nie, gaan jy nie jou lewensdoel bereik nie.

 

‘n Gejaagde lewe kyk na buite vir antwoorde op die groot lewensvrae. ‘n Lewe geleef teen God se pas kyk na binne vir hierdie antwoorde. Spoed is belangrk in jou lewe. As jy nie teen God se pas beweeg nie, sal jy nie die lewe deur God se lens sien nie.  Ek dink nie God is met ons uitputting beïndruk nie. Uitbranding is nie ‘n teken van trou nie.

 

Haal jou voet van die petrolpedaal af.

 

 

image_pdfimage_print