Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(2) – Die Ou Testament

image_pdfimage_print

Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(2) – Die Ou Testament – Fanie Snyman

Voorbeelde word gegee van die verskeidenheid van stemme wat in die Ou Testament opklink, en redes word gegee waarom hierdie verskeidenheid tog in een bundel tereg gekom het. 

Eerstens word gelet op voorbeelde van verskillende stemme wat in die Ou Testament gehoor kan word.

  • Genesis 1 en 2 beskryf dieselfde skeppingsgebeure, maar met twee verskillende verhale daaroor. In Genesis 1 word gesê dat die wêreld in ses dae geskape is en dat God op die sewende dag gerus het. Daar word ook gesê dat die mens op die sesde dag as die beeld van God geskep is. In Genesis 2 kry ‘n mens ‘n ander prentjie. Hier word niks van die ses-plus-een-dag skeppingspatroon vermeld nie. Verder kry mens die indruk dat die mens aan die begin geskape is, dat hy eintlik die middelpunt van die skepping is, en dat God die tuin as ‘t ware rondom die mens aanlê sodat dit kan dien tot sy versorging en genieting.
  • Die tien gebooie vind mens opgeteken in Eksodus 20 en Deuteronomium 5. In Eksodus 20 word die vierde gebod (om die Sabbatdag te onderhou) gemotiveer uit die skepping: ‘n mens moet op die sewende dag rus van jou arbeid omdat God op die sewende dag gerus het van al sy arbeid. Maar in Deuteronomium 5 word dit gemotiveer vanuit die uittog uit Egipte – omdat God Israel verlos het uit Egipte, moet Israel die Sabbat onderhou. Dus, een en dieselfde gebod, met twee verskillende motiverings.
  • Daar is ook ‘n verskeidenheid van maniere waarop gelowige Israel deur die eeue aan hulleself gedink het as God se volk. Aan die begin is daar ‘n enkele gesin (Abraham, Sara en Isak). Latere geslagte identifiseer hulle met Abraham as die vader van alle gelowiges. Hierdie familie groei uit tot ‘n stam of clan, wat uiteindelik uitmond in die twaalf stamme van Israel wat losweg as ‘n teokratiese stammefederasie bekend kan staan. Die gedagte hier is dat God die alleenheerser is. Uiteindelik word Israel ‘n volskaalse monargie met konings aan bewind. Israel is nou ‘n nasie soos ander nasies. Maar die konings regeer by die grasie van God en word steeds deur God tot verantwoording geroep. Die klem val sterk op die nasionalistiese. In die ballingskapsperiode dink Israel aan hulleself as slegs ‘n gelowige oorblyfsel. En ná die ballingskap het die sterk nasionalistiese motief op die agtergrond getree en dink Israel meer aan hulleself as ‘n godsdienstige gemeenskap. Dus, mense met dieselfde geskiedenis, maar met verskillende godsdienstige selfidentifikasies oor tyd heen.
  • Die verskillende korpusse van boeke in die Ou Testament belig ook verskillende aspekte van die verhouding met God. In die Pentateug (Genesis-Deuteronomium) is dit gehoorsaamheid aan die tora (wet van God) wat vooropstaan. In die profetiese boeke is dit weer geregtigheid en liefde. In die Psalmbundel is gebed baie belangrik. En in die Wysheidsliteratuur (byvoorbeeld Spreuke, Job, Prediker) is dit weer ‘n suksesvolle en bevredigende lewe wat beklemtoon word. Iets soos Bybelse spiritualiteit is dus ‘n ryk geskakeerde saak, en dui nie net op een aspek nie.

Die vraag is nou verder wat die rede is waarom hierdie verskillende stemme van die Ou Testament in een boek saamgebind word?

Die openbaring in die Ou Testament is nie staties, monolities, en in graniet gegiet nie, maar is dinamies op spesifieke tye afgestem. Oor ongeveer ‘n duisend jaar het daar ‘n ryke verskeidenheid van gebeure en godsdienstige belewenisse gemanifesteer, maar dit is telkens die Een God wat daardie gebeure en belewenisse lei.

As God Homself aan Moses bekendstel in Eksodus 3:15, doen Hy dit as die God van Israel se voorgeslagte: die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is dus nie ‘n ander God wat Israel uit Egipte lei as die Een wat Abraham in Ur van die Galdeërs geroep het nie.

Daarom kan ons sê dit is hierdie Een God wat die ryke verskeidenheid van boeke en temas in die Ou Testament bymekaar hou, wat gemaak het dat latere geslagte die stem van een en dieselfde God in die verskillende stemme gehoor het en hierdie boeke tot een bundel saamgebind het. 

 

Outeur:  Prof Fanie Snyman

image_pdfimage_print

You may also like...