Efesiërs (4)

Efesiërs (4) – Francois Malan

2.6 Geestelike oorlog teen die magte van die bose (6:10-20)

Hierdie gedeelte som die temas van die brief op in ‘n vergelyking met die wapenrusting van die Here en sy Gesalfde, wat optrek om sy volk uit die ballingskap in Babilonië te verlos, soos beskrywe in Jesaja 11:4-5; 59:17 en ook 49:2; 52:7 en met die Romeinse soldaat se toerusting in gedagte.

2.6.1 Word sterk in en deur die Here (6:10-13; 3:16)

Dit is die Here Jesus wat ons versterk (in Christus Jesus 2:6; Christus in ons; in liefde 4:17; in die Here 5:8; 6:1), volgens die werking van sy liefde, sy magtige sterkte in ons (1:19-23; 3:17-19).

Die gelowiges verkry die krag van God deur God se volle wapenrusting aan te trek (die nuwe mens in 4:24). Soos ‘n voetsoldaat ten volle toegerus moet wees vir ‘n veldslag, moet die gelowige ten volle afhanklik wees van God se sterkte, God se eie wapenrusting, wat Hy aan ons verskaf, naamlik Homself (om soos Hy te wees, 4:24; 5:1; Jesaja-tekse).

Die rede waarom gelowiges in die krag van die Here moet lewe, is dat hulle staande kan bly (4:14-16), weerstand kan bied teen die duiwel se listige aanslae (4:22,27-31). Ons is in ‘n man-tot-man-stryd gewikkel met die duiwel en sy trawante, wat die wêreld en ons self probeer inneem en teen God mobiliseer (maar vir wie Christus oorwin het, 1:20-22).

As die gelowiges ten volle voorbereid en bewapen is met die wapenrusting waarmee die Here hulle beklee het, sal hulle ook op dae van spesiale aanvalle weerstand kan bied en staande kan bly.

2.6.2 Staan vas! met God se volle wapenrusting beklee (6:14-17)

Die opdrag om vas te staan word gegee saam met ‘n verwysing na die gawes wat God voorsien om in die stryd teen die vyand vas te staan:

  • gereedheid om die waarheid van die evangelie uit te leef (1:13; 4:15,21,25; 5:9; Jes.11:5), en die duiwel geen vatkans te gee nie (4:27) word vergelyk met die leervoorskoot wat die Romeinse soldaat aantrek om sy bobene te beskerm,

  •  God se geregtigheid, om soos Hy, en volgens sy wil, reg op te tree teenoor ander (4:24; 5:1,9; Jes.59:17; 11:5) word vergelyk met ‘n soldaat se brons borsplaat wat sy hart beskerm teen pyle en die vyand se swaard,

  •  geskoei met bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig en uit te leef (2:14-18; Jes.52:7; 40:9-11),

  •  geloof in die Here en sy beskerming (1:13,15,19; 3:12,17; 4:5,13; geloof as gawe van God 2:8 en 6:23; Spr.30:5) as die skild teen die brandende pyle van die bose se misleiding, versoekings en vervolgings (5:6) word vergelyk met die groot skild wat die soldaat se hele liggaam beskerm teen swaarde en brandende pyle,

  •  God se verlossing (2:5-8; Jes.59:17), waarmee Hy die gelowiges uit die mag van sonde en dood verlos het, en in die ryk van Christus oorgeplaas het, as die helm wat die gelowiges moet opsit om hulle denke te beskerm teen dwaling en sondige begeertes (4:22; 5:6), word vergelyk met die soldaat se brons helm wat van sy kop tot sy wange beskerm,

  •   die woord van God (evangelie) is die swaard waarmee die Gees die gelowige toerus om die bose aan te val deur getuienis en verkondiging van God se verlossing en oordeel (Jes.11:4), wat vergelyk word met die kort swaard van die soldaat vir man-tot-man-geveg.

2.6.3 Waak en bid (6:18-20)

Voortdurende afhanklikheid van God in gebed is noodsaaklik om vas te staan in die stryd teen die magte van die duisternis wat nie in dié bedeling eindig nie. Bid daarom altyd tot God, gelei deur die Gees (2:18; 5:18), met elke soort gebed en smeking, waak met alle volharding om nie te verslap nie, tree in vir alle mede-gelowiges (1:15; 2:14-18) en vir Paulus (3:7-9), die evangelie se gesant in boeie, om dit vrymoedig te verkondig, selfs voor die keiser tot wie hy geappelleer het (Hand.9:15; 25:12).  

Slot en seën (6:21-24)

Paulus beveel sy medewerker Tigikus by hulle aan. Hy bring waarskynlik die brief na hulle toe (soos ook die brief aan die Kolossense, Kol.4:7-8).

Hy sluit die brief met ‘n gebed dat die vrede (2:14-18) en liefde met geloof (3:17-19) van die Vader en van Christus deur hulle na ander toe sal vloei, en dat God se genade (1:6,7; 2:5,7,8; 4:7) en onsterflikheid (1 Kor.15:42), die seëninge van die nuwe bedeling, met almal sal wees wat ons Here Jesus Christus liefhet, deur aan Hom toegewy te wees in ‘n persoonlike verhouding.

 

Skrywer: Prof Francois Malan