Eienskappe van dwaalleraars in die gemeente

No verse of Scripture yields its meaning to lazy people. —A.W. Pink

Eienskappe van dwaalleraars in die gemeente

Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom (2 Petrus 2:1).

Daar word vandag baie oor dwaalleraars en dwaalleer geskryf. Daar was vals profete – dit is geskiedenis. Hulle was ‘n voortdurende probleem in die Ou Testament – geen wonder hulle moes gestenig word nie. Maar dit volk was maar traag om hulle te hanteer. Daarom het hulle toegeneem met rampspoedige gevolge vir die geestelike lewe van God se mense. Maar dit gaan nie net oor die verlede nie – so sal daar ook onder julle vals leraars kom.

Onder julle? Petrus skryf aan die kerk; hy praat hier van mense in die plaaslike gemeente. Hy praat nie van New Age mense op televisien nie; hy praat van lidmate.

In ons gemeentes groei die onkruid en koring saam – daar is nie so iets soos ‘n suiwer gemeente nie. Maar hoe herken ons ‘n vals geloof en dwaalleraars? In 2 Petrus 1 lees ons van opregte gelowiges; in 2 Petrus 2 lees ons van  vals gelowiges. Colin Smith sit hierdie twee hoofstukke langs mekaar om die verskil duidelik na vore te bring.

  • Verskillende Bron. Waar kom die boodskap vandaan. Petrus sê dat hulle hulle nie op versinsels of legendes verlaat het toe hulle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het nie. (1:16). En die vals leraars? In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit (2:3). Die ware leraar se bron is die Bybel; die dwaalleraar se bron is sy eie kreatiwiteit – hulle maak hulle eie boodskappe op.
  • Verskillende boodskap.Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien – vir die ware leraar  staan Jesus Christus sentraal. Vir die vals leraars staan Jesus op die rant: Hulle sal verderflike  dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën (2:1). Let op die woord insmokkel – min mense in die gemeente sal Jesus openlik verloën. Die beweging weg van Jesus Christus is baie subtiel. Luister mooi en jy sal hoor dat Jesus Christus nie noodsaaklik vir sy boodskap is nie.
  • Verskillende posisie. In watter posisie laat die boodskap jou? Die ware Christen kan die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur (1:4). Luister hoe beskryf Petrus die vals Christen: Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf, want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf (2:19). Die ware gelowige is vry van die verderf; die vals Christen is ‘n slaaf van die verderf.
  • Verskillende karakter. Watter soort mense produseer die boodskap? Die ware Christen werp alles in die stryd om sy geloof te versterk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding,  die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense (1:5 – 7). Die vals leraars is uitdagend en verwaand en erken nie gesag nie (2:10). Hulle oë is die ene wellus … en is bedrewe geldwolwe (2:14).
  • Verskillende oproep. Hoekom moet ons na die boodskap luister? Die ware gelowige het die boodskap van die profete –  hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (1:19). En die vals leraars? Met wellus en losbandigheid verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op dwaalweë verkeer  (2:18). Die ware Christen vra: “Wat het God in sy woord gesê?” die vals leraar vra: “Wat wil die mense graag hoor?”
  • Verskillende vrugte. Watter gevolg het die boodskap in die lewe van die mense? Die ware gelowige sal met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken (1:8).En die vals leraars? Hierdie mense is droë fonteine – Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou (2:17. Belowe baie; produseer niks nie.
  • Verskillende einde. Waarheen lei die boodskap? Die ware Christen: En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (1:11). En die vals gelowiges? So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort … hulle ondergang is onafwendbaar (2:1, 3).

So sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hier het ons ‘n duidelike waarskuwing. Wat moet ons hiermee maak?

  • Die gemeente moet beskerm word – daar is mense wat meer skade as goed gaan doen. Hulle lyk asof hulle goeie mense is, maar hulle aanvaar nie die gesag van die Bybel of dat Christus alleen ons Verlosser is nie. Ons moet hulle verwelkom, want hulle het Christus nodig, maar ons moet keer dat hulle enige invloed in die gemeente uitoefen.
  • Skeptici sal sê dat die kerk vol valsheid is – hulle het dit nog altyd gedoen. Natuurlik is daar sulke mense in die kerk, maar hulle teenwoordigheid is geen rede om die opregtes te verwerp nie.