Ek cope nie meer nie: Gee uitdrukking aan jou eie gevoelens – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Moenie bang wees vir jou emosies nie. Ons word dikwels wys gemaak dat dit verkeerd is om jou emosies te toon. Tog het ons almal emosies. Iemand het eenmaal gesê dat ons nie kan help dat ons gevoelens het nie, want gevoelens ís.  Ons is wel verantwoordelik vir wat ons met ons gevoelens doen.

Paulus sê in Efesiërs 4:26 (p. 631): As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Jy moet ook nie kwaad gaan slaap nie. Die emosie is nie sleg nie, maar die manier waarop jy die emosie hanteer. As jy jou woede op so manier hanteer dat jy ander mense daarmee seermaak of verkleineer, is jy op die verkeerde pad. Oppas om uitdrukking aan jou emosies te gee soos die vrou wat vir haar man wat oorsee is, sê: “Ag, ek voel so terneergedruk. Dit is byna of jy nie weg is nie.”

Druk jou emosies positief uit sonder om aanstoot te gee. Jy hoef regtig nie skaam te wees as jy bly of hartseer of kwaad word nie. Dit is gawes wat God vir ons gegee het om ons gesond te hou. Op dié manier word spanning, geluk en on­ge­luk­kigheid op ’n natuurlike wyse ontlaai anders krop dit net in ons op.

Skep dus vir jou geleentheid om jou emosies positief uit te druk. Om te kan cope is dit belangrik om jou eie emosies te identifiseer en om uitdrukking daaraan te gee. Jy moet dus weet wanneer daar woede en frustrasie binne jou is en jy moet ook ’n kanaal skep sodat jy daarvan ontslae kan raak. Indien emosies soos woede en frustrasie opgekrop en terug­gehou word, kan dit vir jou maar net teenspoed uitspel. Daar is verskillende maniere waarop jy daaraan uitdrukking kan gee:

  • Praat daaroor. Vertel vir mense wat jy vertrou hoe jy voel. Moet net nie maak soos die vrou wie se man gesê het nie: “Weet jy, ek het vir twee weke nie met my vrou gepraat nie; ek wou haar nie onderbreek nie.”

Praat beteken dat jy ook sal luister: luister na jou emosies aan jou binnekant, maar ook hoe mense wat jy vertrou jou probleem sien. Luister na die pad wat hulle dink jy moet neem en dink daaroor na. Dit mag snaaks klink, maar as jy alleen is, gesels met jou plante of diere. Dit sal hulle miskien nie help nie, maar vir jou sal dit. Dit mag lyk of jy met niemand praat nie, maar in werklikheid praat jy met jouself. Jy hoor wat jy dink! Dit as sodanig het al genesende krag vir jou emosio-nele lewe.

  • Skryf dit neer, veral as jou emosies jou kop ’n bietjie deur­mekaar maak. Daar was ’n meisie wat vreeslik baie kon praat. Die studente het gesê sy praat om te hoor wat sy dink. Jy kan ge­rus jou emosies en gedagtes neerskryf om te sien hoe jy voel. Dit sal jou help om te sien wat in jou aangaan en jou pro­bleme te identifiseer.

As jy byvoorbeeld neerskryf dat jy sleg of kwaad voel en vir jouself vertel waarom jy so sleg voel, het jy al ’n goeie wegspringpunt: “Ek is kwaad, want Piet het my in die steek gelaat.” Die logiese pad wat jy dan sal moet volg, is om vir jou­­self neer te skryf wat die oplossing is. Gaan dit help om kwaad te bly? Moet jy jou vriendskap met Piet verbreek? Sou dit die moeite werd wees? So gesels jy eintlik met jouself en kan jy die hele saak uit ’n ander hoek begin sien.

  • Huil as dit nodig is. Ons is mos skaam om te huil, veral die manne onder ons. Dit is die teken van ’n “softie”, of so het iemand gesê en nou glo almal hom. Huil is net so deel van jou as wat jou arms of bene deel van jou is. Jy gebruik nie altyd jou bene nie, maar hulle het ’n baie belangrike funksie. As jy wil loop, moet jy hulle gebruik, anders kom jy nêrens. So het die Here ook vir ons die vermoë gegee om te huil. Ons moet nou nie heeltyd oor alles blêr nie, maar as die emosionele druk te kwaai raak en die spanning laai op, is huil die manier waarop ons hierdie druk kan verlig. Daarom is dit baie goeie medisyne om te huil as dit nodig is.
  • Gee fisieke uitdrukking aan jou emosies. Soms is dit nodig om fisiek uitdrukking aan jou spanning, frustrasie en angs te gee. Dit kan op verskillende maniere gedoen word. Neem ’n kussing en slaan dit byvoorbeeld met ’n raket of jou vuiste. As jy dit doen, beteken dit nie dat jy beheer verloor nie, maar dat jy van die emosie ontslae raak wat jou juis hinder om volledig be­­heer te behou oor jou lewe. As jy skaam is om jou kussing te slaan, probeer liewer ’n slaansak (dit is nou nie ’n skuilnaam vir jou man nie). As jy voel dat jy wil gil, gil. So ’n enkele lang gil is ook ’n manier waarop jy van jou frustrasie ontslae kan raak. Dit is jou bondgenote in die stryd teen spanning of druk wat dreig om jou onder te kry.

Hou rekening met die Here

Nou moet dit nie klink of alles net van jou afhang nie. As Christene weet ons dit is nie so nie. Daar is die treffende verhaaltjie van die man wat die pragtigste tuin gemaak het. Die leraar stap toe verby en sê: “Meneer, jy en die Here het darem die mooiste tuin hier gemaak.”

“Ja,” antwoord die man, “maar jy moes die tuin gesien toe die Here alleen hier gewerk het!”

Met die eerste aanhoor mag ’n mens vra of die man nie ’n bietjie vermetel is nie. Maar as jy ’n weer ’n keer daaroor nadink, begin jy die diepte snap van wat hier gesê word. Sonder die Here sou daardie man nie eers daar gewees het nie. Sonder die reën wat val en die saad wat ontkiem, sou daar geen blom gewees het nie, al het die arme man hom doodgewerk. Maar die Here gaan maak nie sy tuin vir hom nie. Die Here gee vir hom wat hy nodig het om sy tuin te maak. Daarom was die leraar reg toe hy gesê het dat die man en die Here se tuin mooi lyk.

Maar die teendeel is ook waar. Die man kon die tuin opge­mors het. Hy het tog ook beheer oor die talente en krag wat die Here vir hom gegee het. Hy kan daarmee mors. ’n Mens mors daarmee as jy toelaat dat dit in negatiwiteit verstrik raak. Dit is soos bossies in jou tuin. Dit teer op die water en grond wat bedoel is vir die blomme. Daarom kan ’n mens eintlik nie sê dat dit nie saakmaak hoe negatief of positief jy dink en leef nie, veral nie as jy ’n Christen is nie. Natuurlik maak dit saak, want dit bepaal hoe jou en die Here se tuin gaan lyk. Daardie tuin is die manier waarop jy leef.

Dit is so ’n vreugde om saam met die Here die tuin van jou lewe te maak. Lees net wat sê mense wat die vreugde daarvan ontdek het:

Daar is een groot wens in my hart: Dit is dat ek my hele le-we lank by die Here mag wees. Sy wonderlike nabyheid wil ek dag en nag beleef … Here, vat my hand. Wys my hoe om reg te lewe … Lei my (vlg. Ps. 27:4, 11, p. 891, 892).

Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde omvou (vgl. Heb. 4:16, p. 726).

Ek is tevrede soos ek is. Ek is soos ’n babatjie wat veilig in ’n ma se arms lê. Die wêreld kan maar vergaan, maar ek voel veilig en tevrede. Dit gebeur as jy op die Here vertrou (vgl. Ps. 131:2, p. 1030).

By Hom lê jou krag, al gaan Hy nie jou lewenstuin vir jou maak nie. Hy gaan jou help waar jy hulp nodig het; Hy gaan jou lei waar jy leiding nodig het; Hy gaan jou wys hoe om reg te lewe.

Systap slaggate

Daar is ’n paar slaggate wat ’n mens op jou pad terug na ’n positiewe selfgesprek moet vermy.

  • Die gekleurde glas-effek. Ruite wat van verskillende kleure glas gemaak word, is mooi, veral as die son daardeur skyn. Maar dit is nie bedoel om die wêreld aan die ander kant mooi te sien nie. Loer jy deur die rooi deel, lyk die hele wêreld vir jou rooi en deur die groen glas is alles weer groen.

Dieselfde is waar van die manier waarop ons na die lewe kyk. Ons kies vooraf die manier (of kleur) waarop ons na die situasie gaan kyk. Piet kom aangestap en ek hou nie van Piet nie, daarom gaan ek in alles wat hy sê of doen fout soek om vir my te bewys dat ek reg is om nie van Piet te hou nie. Jy gaan hom dus deur die glas van kritiek bekyk. Daarom moet Piet later by iemand anders hoor van dit of dat wat hy gesê het wat glo so sleg was. Intussen het hy dit nooit so bedoel nie; jy het daardie woorde deur jou kritiese oog so gesien en ver­draai dat dit sleg klink. Alle ander kleure word geïgnoreer. Piet kan watter ander dinge ook al doen wat mooi is, maar jy sal dit miskyk.

’n Mens moet jouself positief hou. Dit is wat Paulus in 1 Korintiërs 13:7 (p. 554) bedoel het toe hy oor die liefde gepraat het: “ … (L)iefde glo altyd die beste van ander mense … ”  Moenie toelaat dat jy net op die negatiewe fokus nie. Veral Perfeksionis en Skeidsregter is lief om dit te doen, want dit wys vir hulle dat hulle self darem nie so sleg is nie.

Om prakties te raak: Sê bewustelik vir jouself dat jy by negatiewe of moontlike negatiewe dinge verby gaan kyk. Jy gaan op die positiewe konsentreer. En as die negatiewe opduik, moenie daaroor sit en bekommer nie. Vee dit met ’n “En wat daarvan!” weg; dit gaan jou nie ’n slegter mens maak om dit te ignoreer nie – inteendeel.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print