Ek cope nie meer nie: Hoekom voel ons bang en gestres? – Jan van der Watt

Ons almal sukkel partymaal maar

In die ou lewe kry jy nie altyd wat jy verwag nie. Die lewe bly ’n spel waarin jy nie altyd wen nie. Ons almal land maar partymaal plat op ons rug op die krytvloer en ons almal kry dan die gevoel dat ’n mens nie jou situasie regtig baasraak as jy so op jou rug lê nie. Daardie beklemming dat jy nie cope nie, pak jou dan beet.

Die gevoel van mislukking wat ’n mens soms beetpak, die vrees vir wat gaan gebeur en die onsekerheid oor dinge, is soos kanker wat jou krag stukkie vir stukkie wegvreet. Op ’n punt raak dit te veel en dan is daar moeilikheid. Dan voel dit of alles gelyk op jou afkom. Jy kry die gevoel dat jy nie meer kan nie. Ons almal loop een of ander tyd onder die gevoel deur. Daarom mag ’n mens die gevaar nie onderskat nie.

Dinge is deurmekaar, maar hoekom?

Alles het verander

Die sosioloë sê as 20% van die dinge in ’n samelewing verander, begin daardie samelewing se waardes uitmekaar val. Die onsig­bare bande wat maak dat mense lekker en in vrede in groepe kan saambly, begin verdwyn. Mense raak dan onseker en weet nie meer wat van hulle verwag word nie.

Wat sleg is, is dat daar dan nie meer duidelike, oorkoepe­lende, algemeen aanvaarde waardes is wat mense rigting gee en help om hulle besluite te neem nie. Mense is soos die man wat gevra het dat hy asseblief nie ’n horlosie vir Kersfees moet kry nie, want hy hét een. Met die één is hy ten minste seker hoe laat dit is. Maar as hy nog ’n horlosie gaan kry, gaan hy nooit seker wees nie. Dit gaan hom net deurmekaarkrap. So is ons as mense ook. Ons kan net met sekerheid en oortuiging funk­sioneer as ons seker weet wat van ons verwag word. Ons het reëls en waardes nodig om behoorlik te funksioneer. Neem dié reëls weg of verander hulle te vinnig, dan is daar probleme. Dan begin mense onseker en bang voel: hulle cope natuurlik nie meer so goed nie, want hulle weet nie hoe nie. Die reëls wat vir hulle gesê het hoe, is weg.

Veral in Suid-Afrika het dit die afgelope paar jaar ’n groter­wordende probleem geword. As ’n mens mooi dink, het daar meer as 20% van die dinge in Suid-Afrika verander; dit is nader aan 80%. Dit het ’n geweldige las op ons mense en samelewing geplaas. Ons het gesien hoe vinnig die politiek, ons finansies, ons werksituasie en die geleenthede vir ons kinders verander het. Dinge het inderdaad so vinnig verander dat ons nie mooi kon byhou nie. Dikwels het ons nie genoeg tyd om regtig nuwe waardes in die plek te sit van dit wat weggeval het nie. ’n Mens kry die gevoel die wêreld hardloop onder jou uit. Jy weet nie meer wat om van ander te verwag of wat hulle van jou verwag nie. En dit is ’n ideale teelaarde vir die opbou van die gevoel dat jy nie cope nie. Mense weet nie meer hoe nie, en dan sê hulle net: “Ek gee nie meer om nie. Ek het probeer aanpas, maar elke keer nes ek dink ek het aangepas, is alles al weer anders. Nou is ek klaar probeer; alles en almal kan gaan vlieg.” Dan begin elkeen doen en dink wat hy wil en mense gee nie meer regtig vir mekaar om nie. Byvoorbeeld, in die ou dae was dit belangrik vir ’n firma om trots te wees op hulle naam en werk. Hulle sou jare aan ’n goeie naam werk, want dit was belangrik. Vandag kry ’n mens te dikwels net die teenoorgestelde. As die mense jou geld in hulle sak het, gee hulle nie meer om nie, of hulle nou goed gewerk het of sleg. Daardie ou waardes van werkstrots en integriteit is weg.

Daar is nog ander voorbeelde. Dink maar aan Sondae. In die ou dae het almal geweet wat gebeur op Sondae. Deesdae is niemand meer seker wat is reg of verkeerd nie. Eers is ’n mens uit die kerk geskors omdat jy gedans het; nou kan jy die dansvloer aan die brand skoffel sonder dat die leraar ’n oog knip. In die ou dae het mense gedink dat apartheid Bybels is; deesdae blyk die teenoorgestelde waar te wees. Wat moet ’n mens dan glo? G’n wonder mense begin onseker voel nie.

Ek word stuurman van my eie skip

Al die onsekerhede en veranderings maak jou natuurlik al meer verantwoordelik om self jou eie lewe te “skep”: jy moet leer om self te cope en moet self besluit wat vir jou belangrik is en wat nie. Jy moet nou self sê wat jy glo en wat jy wil doen om so self betekenis aan jou lewe te gee. En as ’n mens jou varkies nie hier bymekaar hou nie, loop dinge verkeerd. So word ’n mens in ’n sekere sin die skepper van jou eie lewe en geluk. Dit gaan nie meer oor wat ander mense wil hê jy moet doen nie, maar om wat jý glo jy moet doen.

Dit is juis hier waar ons vrese en onsekerhede ons kan baasraak. Ons kan angstig raak omdat ons voel ons het nie meer behoorlike beheer oor ons kinders, ons huwelik, ons finansies, ons werk en so aan nie. Die gevoel van konstantheid en stabiliteit is net nie meer daar nie. Die gevolg is dat ons oneffektief en hulpeloos begin voel – nie dat ons dit noodwendig is nie, maar ons begin so voel. Emosies begin in ons lewe oor­loop en ons baklei of huil of voel baie vinniger depressief as vroeër. Dit kan maak dat jy vergeet om regtig met genot te leef omdat die vrese en angs se donker skadu oor jou val en so jou lewe vir jouself donker laat lyk.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt