Ek cope nie meer nie: Nie die werklike gebeure nie maar my opvatting bepaal hoe ek reageer – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Net so het ons idees oor God, ons godsdiens en wat dit vir ons beteken, oor hoe ons al die dinge sien wat rondom ons gebeur en so aan. Ek sien myself byvoorbeeld in ’n bepaalde ver­houding met God (of dalk nie). Hoe ek daaroor dink, sal maak dat ek God vertrou of nie. Dikwels sê ek maklik ek vertrou God, maar as ek in ’n krisis land, tree ek anders op. Dit wys vir my dat ek in my kop nie ernstig oor God was nie.

Dink nou maar aan Petrus. Hy beloof hoog en laag dat hy die Here nie sal verlaat nie. As hy egter staan en kyk hoe die Here gevang en in die tronk gegooi word en besef dit kan sy lot ook wees, ontken hy skielik dat hy enigiets met Jesus te doen het. Wat het nou skielik verander? Wel, in sy kop het hy ’n waarde aan Jesus en aan sy eie lewe toegeken … en sy eie lewe het gewen. Wat hy gemeen het met hom kon gebeur, was vir hom erger as om Jesus te verraai.

Dit is dus (van die meeste mense?) waar dat ’n mens eers dínk voor jy dóén. Selfs al tree jy impulsief op, is jou reaksie nog gebaseer op hoe jy die situasie in daardie breukdeel van ’n sekonde opsom. Die feit dat jy eers dink voor jy doen, kan jou baie help. As jy die manier waarop jy dink, kan verander, sal die manier waarop jy optree ook verander.

As dit waar is, is die volgende ook waar: As jy goed dink, doen jy goed; as jy goed doen, voel jy goed; as jy goed voel, dink jy goed.

Dink goed en jy sal goed doen en voel

Jy is deel van die wêreld in jou kop; eintlik kan ’n mens sê dat jy die wêreld in jou kop ís. In jou kop is jy heeldag besig om met jouself te gesels, dikwels sonder dat jy dit eers besef. As jy in die oggend opstaan, is jou eerste gedagte al eintlik ’n gesprek, met jouself. As jy jou oë oopforseer en dink: “Ag nee, opstaan-tyd!” is jy besig om met jouself te praat. Dat jy so negatief dink oor die dag gaan dit sommer vir jou moeilik maak om op te staan ook. Die geleerdes praat van ’n selfgesprek of “self-talk” in Engels. Dit is hoe jy oor dinge dink en voel en hoe jy dinge vir jouself verklaar en uitredeneer. Die ergste is dat jy jouself gló as jy so met jouself praat, al is dit hoe ver van die kol af. As jy dink ’n ding is so en jy het vir jouself dit gesê, glo jy dit; dan ís dit so, ten minste vir jou. Daarom is die self­gesprek dikwels irrasioneel en sien die persoon dikwels die slegste scenario, net soos dié vrou wat die omkapmasjien wou gaan leen. Haar gesprek was irrasioneel en onwaar en boonop was dit die slegste scenario moontlik, maar sy het dit geglo. Jou wêreld soos jy dit sien, is dus vir jou die waarheid en daar­volgens reageer jy. Voordat jy iets anders gaan glo, gaan dit eers baie oorreding kos.

Hierdie gesprekke vind eintlik outomaties plaas en word be­paal deur jou wêreld (universum) waarvan ons netnou ge­praat het. Jou “gespreksgenote” in die selfgesprek is jou idees en opvattings in jou kop oor ander mense en dinge. Die hele ge­sprek vind subtiel plaas sodat jy dit baie keer nie eers agter­kom nie. Dikwels is dit net kort, telegrafiese sinne soos “Ag nee,” “Ek het so gedink,” “Al weer hy,” “Verduiwels!” of so iets. Daardie woorde alleen dra ’n hele klomp emosie met hulle saam en vertel ook wat die uitslag van jou selfgesprek is. Dit sê dan ook sommer in ’n sekere sin hoe jy gaan reageer. Ons sê baie keer mense reageer voor hulle dink, maar eintlik is dit nie so nie. Daardie selfgesprek vind plaas, al is dit baie vin­nig. As jy jouself leer om jou selfgesprekke negatief te voer en altyd die slegste moonlike scenario kies, sal dit jou lewens­houding en -styl word. Jy sal spoke oral sien opdoem en alle slegte dinge sal al klaar met jou gebeur het nog lank voordat jy in die situasie is. Dit lei tot vrees en paniek  … en natuurlik die gevoel dat ’n mens nie cope nie. Hoe jy dus jou self­ge­sprek­ke voer, is uiters belangrik.

Jou gesprek wat jy die hele tyd met jouself voer, bepaal jou lewe. Die positiewe is dat dit ook kan help om jou lewe te ver­-ander, want as jy reg met jouself begin praat, sal jy nood­wendig ook reg begin leef. Iemand wat na die sterre reik, sal nooit met ’n hand vol modder sit nie. ’n Gelukkige en sinvolle lewe kan jy nie beveel of daarvoor sit en wag nie; dit moet ver­­­dien word … deur jou. Dit is die positiewe sy van die saak, en dit is waar jy aan die werk moet spring.

Dus:

Ek interpreteer dit binne my “wêreld”. Ek sê vir myself hoe ek daaroor voel en wat ek daarvan dink (selfgesprek).

Negatief: aggressief, bedreigd, onseker

Reageer negatief                                                               

Reageer positief op grond van uitslag van selfgesprek

Kom ons kyk na ’n paar van die tipiese negatiewe maniere waarop mense dink en hoe dit reggestel kan word. Dit is werk­lik een van die kernmaniere waarop jy jouself kan help. Mense wat stres of voel dat hulle nie cope nie, praat hulleself dikwels nog dieper in die gat van mismoedigheid in. Dit is nie nodig nie. Daar is ’n ander pad ook

image_pdfimage_print