Ek cope nie meer nie: Posttraumaties stresversteuring – Jan van der Watt

Posttraumaties stresversteuring is verwant aan die sogenaamde gevegs­uitputting of “bomskok”. Hierdie is ’n uitmergelende toestand wat volg nadat die persoon blootgestel is aan erge siel­kundige trauma, soos ontvoering, aanranding of verkragting en motor- of vliegtuigongelukke. Natuurrampe soos aard­be­wings of vloedskade kan ook daartoe bydra. Posttraumatiesse stres kan ook ontwikkel as jy net ’n insident sien en nie nood­wendig self direk daarby betrokke is nie. Dit kan iemand van enige ouderdom tref.

Persone met die posttraumatiese stresversteuring kry her­haalde gedagtes en geheuebeelde wat hulle herinner aan die aanvanklike insident. Dit speel oor en oor voor hulle gees­tes­oog af. Dit is of hulle nie daarvan kan ontsnap nie. Die terug­flitse wat hulle ervaar, kan soms geheuebeelde en visuele beelde wees. Met ander tye kan hulle egter klanke, reuke en gevoelens ervaar wat verband hou met die aanvanklike insident.

Hulle kan dikwels aggressief, gewelddadig en geïrriteerd wees. Daaglikse gebeurtenisse wat hulle herhinner aan die insident kan ook simptome afvuur en hulle irrasioneel laat optree. Hierdie mense vermy plekke en situasie wat die herin­ne­ringe terugbring.

Hierdie mense raak later emosioneel afgestomp en staan soms koud teenoor die mense rondom hulle. Sekere mense herleef die trauma. Hulle ervaar nagmerries en slaapprobleme. De­pressie tref hulle dikwels. Weens dié probleme kan hierdie mense nie effektief werk nie. Hulle sukkel om te konsentreer. Hulle skakel ook moeilik in by die samelewing en sukkel om te sosialiseer. Dikwels wend hulle hulle tot alkohol.

Behandeling bestaan uit ’n kombinasie van geneesmiddels en psigoterapie (sielkundige terapie). Die geneesmiddels wat die meeste gebruik word, is die trisikliese antidepressante. Ander geneesmiddel is ook Benzodiasepines. Hierdie genees­middels word in ander afdelings van die boek vollediger be­spreek.

Die sielkundige behandeling is eerstens daarop gemik om stres en angs te hanteer wanneer hulle dit er­vaar. Ontspan­ningstegnieke en progressiewe spieront­spanning­stegnieke, wat reeds bespreek is, word aangeleer.

Die tweede doel van die psigoterapie is desensitasie. Die pa­siënte word gelei­delik bloot­gestel en soms selfs teruggeneem na die plek waar die insident gebeur het. Daar word hulle ge­-leer om hulle eie vrese en gevoelens te beheer.

Obsessief-kompulsiewe versteuring

’n Obsessie beteken dat iemand sekere gedagtes, idees of beelde het waaraan hy gedurig dink. Hy weet dit is sinnelose gedagtes wat irrasioneel is, maar kan dit nie effektief weerstaan nie. Hierdie gedagtes maak hom bang en veroorsaak angs.

Die tweede been van hierdie toestand is die sogenaamde kom­pulsie. Dit is ’n daad of ’n ritueel wat die persoon doen om van die angs ontslae te raak of om dit te ontlont. Hierdie ob­ses­sies wat die mense ervaar, is onwelkom, maar tog is dit aan­hou­d­end teenwoordig en hou net aan en aan. Dit lei tot ’n intense behoefte van die persoon om die ritueel te doen om van die angs ontslae te raak.

’n Voorbeeld is dat iemand aanhoudend gedagtes ervaar dat voorwerpe met kieme besmet is. Dit maak die persoon angstig en om van die angs ontslae te raak, was hy sy hande aan­houdend. Hierdie handewassery maak dan ’n groot deel van hulle daaglikse aktiwiteit uit.

Almal van ons ervaar somtyds obsessies. Die obsessies word egter ’n probleem as dit meer as een uur van jou dag in beslag neem, byvoorbeeld deur die rituele te doen, of as dit jou lewenspatroon affekteer en negatief beïnvloed. Die algemeen­ste obsessies wat voorkom, is vrees vir kieme of gedagtes van geweld, soos om iemand naby aan jou kwaad aan te doen. Hierdie gedagtes is dikwels baie ontstellend en druis in teen jou sin vir waardes en geloof. Dit lei tot angstig­heid.

Hierdie mense het ook sekere ander afwykings. Depressie kom baie algemeen voor en hulle is dikwels geneig om eetsteur­nisse te ervaar en oormatig gewig te verloor. Hulle kan ook obsessioneel wees in hulle oefenmetodes. ’n Sekere persentasie mense wend hulle tot alkohol en selfs tot die ge­bruik van dwelmmiddels.

Die obsessief-kompulsiewe versteuring kom in mans en in vroue voor. Een uit elke vyftig mense ly daaraan. Dit mag enige tyd in die lewe begin, selfs in die kin­der­jare. Die verloop van die toestand varieer. Sommige mense ervaar die probleme met die obsessies en kompulsies net met sekere tye, sodat dit kom en gaan. In ander mag dit heeltemal verdwyn. Dit mag egter soms ’n progressiewe toestand wees wat steeds ver­erger en tot baie probleme lei.

Behandeling behels ’n kombinasie van geneesmiddels en gedragsterapie. Die geneesmiddels wat effektief is, is die sogenaamde selektiewe-serotonien-heropname-inhibitore, soos Fluoxetine en Paroxetine (Aropax).

Redelike hoë doserings van hierdie medikasie moet gebruik word en behandeling moet ten minste vir  agt tot tien maande geskied. Die ander middels wat gebruik word, is die trisikliese antidepressante.

Die sielkundige behandeling by hierdie mense is daarop gemik om te keer dat hulle toegee aan die kompulsies. Hulle sal byvoorbeeld blootgestel word aan vuil voorwerpe indien hulle bang is vir kieme. Met hulp sal die natuurlike respons om onmiddellik die hande te was teengewerk word.

Maak gebruik van professionele hulp

Soms is dit nodig om ’n spesialis te kry om jou te help as jou kar breek en jy nie self weet hoe jy die probleem gaan oplos nie. Net so is daar spesialiste om jou te help as jy voel dinge loop heeltemal verkeerd vir jou. Natuurlik praat ons nie hier van elke klein probleempie nie. Jou vriende of familie kan jou mak­lik daarmee help. Dit gaan hier oor probleme wat ons die ge­voel gee dat ons nie meer kan cope nie, omdat die probleme han­de begin uitruk.

Daar is mense wat opgelei is om spesifieke probleme op ’n pro­fessionele manier te hanteer en op te los. Moenie huiwer om hulle kennis en professionele opinie te gebruik nie. Moet ook nie skaam voel om dit te doen nie; jy sal nie die eerste een met jou probleem wees wat daar opdaag nie.

Afhangende van wat jou probleem presies is en wat jy graag wil hê, is daar verskillende moontlike professionele mense wat jou kan help. Daar is byvoorbeeld die geneesheer of leraar en natuurlik ook allerhande gespesialiseerde beraders, soos sielkundiges, terapeute en so meer. Ons gaan hier meer uit­voerig aandag gee aan die dokter en hoe hy ’n mens kan help.

’n Dokter kan jou help

Vir siektetoestande soos suikersiekte of verkoue be­hoort jy hulp te gaan soek by ’n dokter. Hy het verskillende ma­niere waarop hy jou kan help. As hy dink dat jy meer ge­spesia­liseerde aandag nodig het, kan hy jou verwys na ’n gespesia­liseerde persoon soos ’n kliniese sielkundige of ’n psigiater.

As jy siek voel, behoort die dokter na ’n ondersoek vir jou te kan sê wat verkeerd is met jou. Moenie sommer self besluit wat verkeerd is met jou nie. Mense wat met lae bloedsuiker of ’n abnormale skildklierfunksie of selfs met hartprobleme suk­kel, mag dieselfde simptome toon as iemand wat stres er­vaar of sukkel om te cope.

Depressie of die misbruik van alkohol of dwelmmiddels mag byvoorbeeld die simptome van stres of angs wees. Na ’n behoorlike ondersoek sal die dokter vir jou raad kan gee oor die behandeling en hantering van jou probleem.

Omdat stres en angsaanvalle jou liggaam affekteer, is dit belangrik om die dokter tog maar te gaan raadpleeg, veral as jy die fisieke tekens van hartkloppings, kortasem, duiseligheid, swak konsentrasie en so aan begin ervaar. Ons het reeds gesien hoe kognitiewe gedragsterapie ’n persoon met ’n probleem kan help. Hier gaan net ’n idee gegee word van watter genees­middels daar tot die beskikking van die geneesheer is en wat hulle effekte is.

Geneesmiddels

Daar is wonderlike middels om angs te beheer. Sommige mense ervaar  ’n hemelse verligting indien hulle van hierdie tablette gebruik. Van hierdie tablette verander die angs in ’n kalmer, rustige gevoel.

Hierdie geneesmiddels kan egter nie die oorsaak van die angs wegneem nie. Dit dien dus net as ’n tydelike ontvlugting. Daarvoor word ’n prys betaal. Die prys is dat sommige van die middels gewoontevormend is. Indien mens hulle misbruik of vir te lank gebruik, kan jy nie weer van hulle ontslae raak nie. Een probleem word dus met ’n ander probleem vervang. Die ge­woontevormende probleem kom veral voor met die soge­naamde Benzodiasepine-preperate. Hierdie middels het dus ’n baie belangrike plek, maar hulle moet met omsigtigheid aangewend word.

Die doel van die geneesmiddels is om die pasiënt te help om oor ’n krisistydperk te kom. Dit moet dus vir ’n kort tydperk soos ’n week of tien dae gebruik word. Slaaptablette kan gebruik word om ’n slaappatroon te vestig. Hierdie middels moet egter nooit as ’n kruk gebruik word en op ’n chroniese ba­sis saamgedra word nie. Gebruik die geneesmiddels om ’n krisis te oorbrug, maar hanteer die probleem deur ander be­stuurs­metodes. Die belangrikste klasse geneesmiddels wat in angs en stres en angstoestande gebruik word, is:

Betablokkeermiddels. Soos ons reeds weet, bestaan die angs-reaksie uit die aktivering van ons veg-vlugreaksie. Hierdie akti-vering van die veg-vlug­-reaksie lei tot vrystelling van adrenalien. Adrenalien is ’n be­lang­­rike streshormoon. Die betablokkeer-middels blokkeer hier­die adrenalien. Hulle voorkom dat adrenalien aan die selle bind en hulle effekte kan uitoefen. Beta-blokkeermiddels neu­traliseer dus die oormatige adrenalien.

Bekende geneesmiddels wat vir die doel gebruik word, is Propranolol (Purbloka of Inderal of Oxprenolol), Trasicor. Hierdie betablokkeermiddels verminder dus die effek van adre­nalien en verstadig die pols, verlaag die bloeddruk, het ’n geringe kal­merende effek , verminder sweet en neem ang­stigheid en bewerigheid weg. Dit is ’n geneesmiddel wat met vrug gebruik kan word waar simptome van bewerigheid, sweterigheid en hartkloppings ter sprake is.

Persone wat in die openbaar moet praat of moet redeneer, vind ook baat by hierdie geneesmiddels. Dit kan jou ook aansienlik minder bewerig maak as jy byvoorbeeld moes klavier speel of teiken skiet. Hierdie geneesmiddels is baie veilig en is reeds vir baie jare op die mark beskikbaar. Ongelukkig het dit sekere newe-effekte. Aangesien dit adrenalien blok en adrena-lien een van ons natuurlike stimulante is, kan dit lei tot moeg-heid in sekere persone. Dit beïnvloed ook ons slaap­patroon en sommige mense ondervind slapeloosheid en dik­wels ook nagmerries.

Die geneesmiddels kan ook in sommige mense lei tot ’n te stadige pols of te lae bloeddruk. In sekere persone lei dit ook tot koue hande en koue voete. Oor die algemeen gesien is die newe-effekte egter vir die meeste persone aanvaarbaar en is hierdie middels baie gewild. Daar is geen verslawingspotensiaal aan hierdie middels verbonde nie.

Benzodiasepines. Hierdie klas geneesmiddels is baie effektief om angs en span­­ning te neutraliseer. Die middels wat aan hierdie klas behoort, het almal tot ’n meerdere of mindere mate die vermoë om angs te breek, om as slaapmiddel te dien of selfs om as ’n antikonvulsiewe agens gebruik te word. Mid-dels wat aan hierdie klas behoort en wat algemeen gebruik word, is byvoorbeeld Diazepam (Valium, Alprazolam, Xanor, Oxazepam, Serepax, Bromazepam, Lexotan en Prazepam, Demetrin) en Lorazepam (Ativan). Dit word gebruik as angio­litiese middels. Dit beteken hulle word gebruik om angs te beveg of te neutraliseer.

Ander geneesmiddels in hierdie groep word weer meer gebruik om mense te laat slaap. Bekende slaapmiddels is Triazolam of Halcion (Temazepam, Normison, Flunitrazepam, Rohypnol) en Midazolam (Dormicum). Hierdie geneesmiddels kan vir kort tydperke in enige angstoestand gebruik word. Vir angsversteurings soos paniekaanvalle is hulle spesiaal geïn­dikeerd. Hierdie middels is baie effektief en werk goed. Hulle het egter sekere newe-effekte. Veral in ouer mense kan dit ’n geruime tyd neem vir die middels om uit te werk en kan dit lei tot effens trae reaksies en oormatige slaperigheid. Hulle kan ook maklik val en hulleself beseer. Die grootste probleem is egter dat hierdie geneesmiddels potensieel gewoonte­vormend is. As dit misbruik word en vir ’n geruime tyd aan­houdend gebruik word, is dit moeilik om dit te los.

Indien dit gelos word, word onttrekkingsimptome on­dervind. Hierdie onttrekkingsimptome sluit in bewerigheid, angstigheid, palpitasies, slaapsteurnisse en abnormale gewaar­wordings en gevoelens.

Indien dit as slaapmiddels gebruik word, los dit nie die probleem op nie en indien dit gelos word, herhaal die slaap­steurnis hom dikwels. Die pasiënte sit dan dikwels met ’n baie groter probleem.

Trisikliese antidepressante. Die trisikliese antidepressante is ’n groep geneesmiddels wat vir ’n verskeidenheid toestande gebruik word. Dit word ge­bruik vir depressie, spierspannings-hoofpyne, slaapsteurnisse, hantering van pyn en dikwels ook vir angs. Onder hierdie groep geneesmiddels word ingesluit Clomipranine (Anafranil, Amitriptyline, Tryptanol asook Trimipramine, Sermontol). Die geneesmiddels is baie veilig en het nie ’n verslawende potensiaal nie. Hulle werk deur die chemiese stof noradrenalien in die brein te verhoog. Alhoewel hierdie middels baie veilig en effektief is, is daar tog ’n groot persentasie mense wat hulle newe-effekte nie goed kan verdra nie. Hierdie middels lei onder andere tot versteurde visie, droë mond, hardlywigheid en soms tot oormatige slaperigheid. As ’n beginsel moet daar met ’n lae dosis begin word en dit moet geleidelik verhoog word en die pasiënt moet veral aangemoedig word om daarmee voort te gaan vir ten minste twee weke. Die newe-effekte verdwyn of verbeter dikwels tot heeltemal aan­vaarbare vlakke. Hierdie middels is veral aangedui in sekere toestande byvoorbeeld paniekversteurings of algemene angsversteurings.

Selektiewe serotonien-opname-inhibitore. Hierdie is ’n nuwe klas geneesmiddels wat baie effektief is in verskeie toestande. Hulle veroorsaak dat die serotonienvlak in die brein verhoog. Dit voorkom dat die serotonien weer deur die selle opgeneem word. Veral in sekere toestande soos  paniekversteurings of obsessief-kompulsiewe angsver­steuring is daar abnormaliteite in die serotonienvlak. Hierdie middels is dus effektief in hierdie toestande.

Dit is egter oor die algemeen ook effektief vir angs. Die middels het relatief min newe-effekte en is baie aanvaarbaar vir die pasiënt. Hulle lei nie tot oormatige slaperigheid nie, maar kan tog soms lei tot newe-effekte soos hoofpyn, slaap-steurnis, moegheid of buikpyne. Hierdie klas genees­middels is topverkopers en is van die geneesmiddels wat die meeste in die wêreld verbruik word. Hulle hoofindikasie is depressie. Hierdie groep geneesmiddels sluit in Fluoxetine (Prozac, Sertra-line of Zoloft, Paroxetine of Aropax), Citalopram (Cipramil).

Die geneesmiddels het dus ’n presiese plek in die hantering van angs. Geneeshere sal altyd probeer om die geneesmiddels op die korrekte manier voor te skryf. Die geneesmiddels is egter nie die oplossing tot angs nie en is maar net een van die strategieë wat ons kan toepas om die angs in ons lewe onder beheer te hou.

Gaan soek hulp!

As jy jou voet sny, sal jy dokter toe gaan om steke te kry. Dit sal ’n skande wees as jy dit nie doen nie. Nou wonder ons waarom dit ’n skande vir sommige mense is om dokter toe te gaan as jy voel jy cope nie meer nie of as jy met angs sukkel. Gaan dokter toe sodat hy jou kan help, want hy kan. Moenie dit vir die mense rondom jou moeilik maak bloot omdat jy nie dokter toe wil gaan nie.

Help jouself om jouself te wees.