Ek gaan nie kerk toe nie

The worst moment for an atheist is when he is genuinely thankful, but has nobody to thank – Dante Gabriel Rosetti

Ek gaan nie kerk toe nie

Thom Schultz (Why Nobody Wants to Go to Church Anymore) het vier herhalende temas gekry in hulle ondersoek waarom mense nie meer kerk toe gaan nie.

  • Kerkmense oordeel my – 87% van Amerikaners sê dat Christene veroordelend is. Of dit waar is of nie maak nie saak nie. Dit is ‘n baie sterk persepsie dat kerkmense graag oordeel of afkeur. Dit gaan oor gedrag, klere, keuse van vriende, besluite oor lewenstyl en selfs voorkoms.
  • Ek wil nie toegespreek word nie. Mense wil aan die bespreking deelneem; mense wil vrae vra; mense wil hulle gedagtes met ander deel. ‘n Een-rigting gesprek trek niemand aan nie.
  • Kerkmense is vals. Sjoe. Dit moet sekerlik die uitsondering wees – net 85% sê dat kerkmense vals is! Kerkleiers tree op asof hulle alleen die antwoorde het. Net hulle kan vir ander sê hoe hulle moet optree.
  • Julle God is irrelevant vir my lewe, maar ek wil graag hoor daar is ‘n God en Hy gee om vir my. Net 44% van mense wat eredienste gereeld bywoon, sê dat hulle gereeld God se teenwoordigheid in die kerk ondervind. Hulle soek iets eenvoudig; hulle wil gerusgestel word dat God werklik is; dat Hy nie net ‘n historiese figuur is nie, maar dat Hy vandag steeds teenwoordig is; dat Hy aktief is in die lewens van mense.

Ons hou nie hiervan nie, maar dit is wat die mense oor die kerk sê. Ons kan natuurlik onsself verdedig teen hierdie aanklagte. Wat gaan dan gebeur? Die kerk sal net vinniger agteruit gaan. Ons moet hierdie kritiek eerder met liefde beantwoord. Van een ding kan ons seker wees: God het nie sy kerk afgeskryf nie.