Ek het ‘n dwase belofte gemaak

 

If I had only one sermon to preach, it would be a sermon against pride – G. K. Chesterton

 

Ek het ‘n dwase belofte gemaak

In Rigters 10 – 12 lees ons die treurige verhaal van Jefta. Jefta maak ‘n gelofte teenoor die Here: As u die Ammoniete vandag heeltemal oorgee aan my mag, sal die een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer (11:30). Sy enigste kind, sy dogter, kom hom tegemoet.

 

Wat moes Jefta met hierdie dwase belofte gedoen het: Ons eerste reaksie is: ignoreer dit. Hoekom sê ons so? Wat van hierdie gedeeltes?

  • As jy aan God ‘n belofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie (Prediker 5:3 – 4).
  • In die bergrede waarsku Jesus teen die aflê van ‘n eed (Matteus 5:33 – 37). Hy eindig met hierdie woorde: Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ ‘nee.’ Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.

 

Nou sal sommige mense sê: “Moenie dwase beloftes aan God maak nie, maar as jy dit wel gedoen het, moet jy dit nakom. Twee verkeerdes maak nie ‘n regte nie. Niks is erger as om vir God te jok nie.” Hierdie logika mag opreg wees, maar dit is gevaarlik. Natuurlik moes hy nie sy dogter geoffer het nie. Hoeveel van ons het nie al probeer om private ooreenkomste met God aan te gaan nie. “As U my uit hierdie situasie kry, sal ek …” Dikwels is dit iets dwaas – onmoontlik, onvolhoubaar, ens.

 

Wat doen ons hiermee?

  1. Bely jou dwase belofte aan God – moenie sondig om God “gelukkig” te maak nie.
  2. Leer uit die impulsiwiteit of vals geloof wat jou die belofte laat maak het.

 

‘n Deel van die rede waarom ons dwase dinge aan God belowe, is omdat ons dink dat God met ons grootsheid beïndruk sal wees. Hoe gouer ons hierdie idee vergeet, hoe beter. Dit is ‘n onvolwasse siening van God om te dink dat Hy met ons beïndruk sal wees. Wat ons nodig het, is die regte siening van God.

 

Ons moet leer van die impulsiwiteit wat ons die dwase belofte laat maak het en die geloof wat ons laat dink het hierdie dwase belofte sal die moontlikheid dat God ons gebed gaan beantwoord, verhoog.

 

As God berou en belydenis sien, glimlag Hy soos ‘n goeie Vader, want dit is ‘n teken van volwassenheid. God is nie ‘n advokaat wat ons probeer vastrek in woorde wat ons in die verlede gesê het nie. God is ‘n goeie Vader wat wil hê dat ons uit elkeen van ons foute moet leer. As jy jou verhouding met God in hierdie lig sien, sal jy jou woorde goed oorweeg.

 

God sal eerder ‘n dwase belofte in een van sy kinders wat besig is om te groei,  vergewe as om te sien dat ‘n eiesinnige kind sy dwaasheid deurvoer. God word meer verheerlik deur ons te vergewe as ons ‘n dwase belofte verbreek as wanneer ons ‘n dwase belofte uitvoer.