Ek het ‘n fout gemaak (1)

image_pdfimage_print

No people can be safe, when they have provoked God to leave them” – Matthew Henry

Ek het ‘n fout gemaak (1)

Dit is baie maklik om ‘n fout te maak. Op Opstandingsondag het Maria Magdalena ‘n ongelooflike ondervinding gehad. Sy was die eerste persoon om die opgestane Jesus te sien; sy was die eerste persoon wat aangewys is om aan ander persone die Goeie Nuus te vertel. Maar sy het eers ‘n fout gemaak – sy het nie vir Jesus herken nie.

Hoekom het sy nie aanvanklik vir Jesus herken nie? Hoekom het sy later vir Jesus gesien vir wie Hy werklik is? Kan sy ons help om ons sintuie op te skerp sodat ons meer bewus  word van die teenwoordigheid van die lewende Jesus? Twee vrae kom na vore:

  • Hoekom het Maria Magdalena aanvanklik nie vir Jesus herken nie?
  • Hoekom het Maria Magdalena later die opgestane Jesus herken net om deur Hom aangestel te word om sy oorwinning oor die dood aan die apostels en ander aan te kondig?
  • Mislukking: Hoekom het Maria Magdalena aanvanklik nie vir Jesus herken nie?

Ons kan baie leer uit Maria se onvermoë om Jesus te herken. In Johannes 20:11 – 18 kry ons vier redes waarom sy Jesus nie herken het nie al staan Hy voor haar, al praat Hy met haar en al is Jesus op daardie oomblik al waaraan sy kan dink. Elke rede hou verband  met ‘n aspek van Maria se persoon – persoonlike aspekte wat ons almal met haar deel. Dit is aspekte van ons eie onvermoë om bewus te wees van Jesus se stem en teenwoordigheid.

Rede #1: Hart

Maria se hart is daarop gefokus om Jesus se lyk te kry. Sy soek beslis nie ‘n gesonde mens nie. Sy het pas in die graf ingekyk en gesien dat Jesus se lyk verdwyn het. Sy het self gesien hoe Josef van Arimatea en Nikodemus daardie Vrydag die lyk in die graf neergelê het. Nou is die lyk weg. Maria aanvaar dat iemand Jesus se lyk verskuif het. Daarom wil sy by die “vreemdeling” in die tuin weet of hy die lyk verwyder het en waar hy die lyk neergelê het. Sy bied selfs aan om die lyk weg te neem. Niks was vir haar op daardie oomblik belangriker as om Jesus te eer deur sy lyk te versorg nie. Daarom is sy tydelik blind om die opgestane Jesus wat  reg voor haar staan en met haar praat, te herken. Kan ons ook onbewus van sy stem en teenwoordigheid wees? Kan ons harte so gefokus wees op die stories van Jesus dat ons blind en doof is vir sy teenwoordigheid by ons nou? Kan Christelike tradisies ons aandag van die aktiewe en lewende bediening van die opgestane Jesus om ons aflei? Dit is steeds ‘n probleem vir Christene vandag.

Rede #2: Liggaam

Maria huil – sy huil toe sy buite die graf staan en toe sy in die leë graf kyk. Sy was baie hartseer. Sy was immers teenwoordig toe Hy aan die kruis gesterf het. Nou neem haar hartseer toe, want sy glo iemand het Jesus se lyk ontheilig. Haar oë was vol trane; sy kon nie ordentlik sien nie. Hartseer het haar hele denkproses ontwrig. Sy kon nie helder sien of hoor of dink nie. Gebeur dit nie ook met ons nie? Ons skuldgevoelens kan ons sien, hoor en dink verwring. Ons oordeel onsself en oorkompliseer ons persepsies van God se genade. Ons is bang vir sy oordeel en ignoreer sy oorvloedige goedheid en vergifnis.

Rede #3: Gees

Maria se gees is afgelei deur haar gesprek met twee engele by die leë graf. Daarom fokus sy nie op haar onmiddellike omstandighede toe die opgestane Jesus met haar gepraat het nie. Maak afleidings nie ook vir ons blind vir Jesus se teenwoordigheid nie? Almal van ons se lewens is vol afleidings. Daarom is om op Hom en wat Hy besig is om te doen, te fokus dikwels ‘n uitdaging.

Rede #4: Verstand/denke

In Markus 16:12 lees ons dat Jesus anders gelyk het na sy opstanding. Jesus is bly, want sy verlossingswerk is afgehandel. Sy onlangse pyn en vreugde mag almal op sy gesig gewys het. Vir diegene wat nie in terme van hoop en verandering gedink het nie, was dit waarskynlik ‘n uitdaging om Hom te herken. Ons persepsies van Jesus se voorkoms kan ons steeds verwar. Jesus self het gesê dat Hy aan ons as die geringste sal verskyn. Kan ons visualiseer wat hierdie aanspraak alles behels?

Volgende keer gaan ons na die tweede vraag kyk: Hoekom het Maria Magdalena later die opgestane Jesus herken net om deur Hom aangestel te word om sy oorwinning oor die dood aan die apostels en ander aan te kondig?

image_pdfimage_print

You may also like...