Ek is besig met ‘n groot werk

 

When you sell a man a book you don’t sell him just twelve ounces of paper and ink and glue–you sell him a whole new life. -Christopher Morley, skrywer

 

Ek is besig met ‘n groot werk

In Nehemia 6:1 – 9 lees ons van pogings om die bouwerk aan die muur om Jerusalem tot stilstand te bring. Die werk het gevorder; die muur is klaar herstel; die poortdeure moet nog gehang word. Sanballat en Gesem, Nehemia se vyande, gaan oor tot aksie. Hulle nooi Nehemia om hulle te ontmoet. Nehemia ken hulle en word nie mislei nie. Hy gee nie aan hulle die voordeel van die twyfel nie. Is jy realisties oor jou vyande en hulle bedoelings? Hoe reageer jy as iemand jou uitnooi na ‘n plek waar jy weet die duiwel jou wil hê? Waar jy kwesbaar is? Leer by Nehemia: Ek is besig met ’n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom? Nehemia het nie tyd vir afleidings nie – daarvoor is sy taak te groot.

 

Nehemia se werk was nie groot omdat die wêreld so gedink het nie – Jerusalem was ‘n klein stad op die uithoeke van die Persiese Ryk. Dit is ‘n groot werk, want God se Naam was op die spel. Daardie mure gaan God se mense beskerm. Doen jy ook ’n groot werk? As jy besig is om dissipels te maak, doen jy ’n belangrike werk al dink die wêreld nie so nie.

 

Dit gaan nie oor wat ons doen nie, maar oor hoe ons dit doen en vir wie ons dit doen. Nehemia doen ‘n groot werk, want hy is aan God se Naam, sy beloftes en sy mense toegewy. Om mekaar lief te hê en te dien en die evangelie te verkondig is ‘n groot werk.

 

As jy ’n groot werk vir God doen, sal daar vyande wees wat jou aandag van jou werk sal wil aflei. Wat is besig om jou af te lei van dit waarvoor God jou geroep het? Nehemia staan vas. Hulle het dieselfde boodskap vier keer gestuur en elke keer het ek dieselfde antwoord teruggestuur. Hy gaan nie die werk verlaat nie.

 

Sanballat stuur toe ’n brief wat nie verseël was nie. In die brief gee Sanballat ’n alternatiewe verduideliking oor hoekom Nehemia die muur herbou. So probeer hy Nehemia intimideer en manipuleer. Hierdie gerugte lyk nogal of hulle waar kan wees. Dit was ‘n kwaadwillige siening van wat werklik gebeur. Mense versprei steeds vals aanklagte oor wat Christene besig is om te doen. Hoe reageer jy op sulke gerugte? Moet jy dit waarmee jy besig is, staak en probeer vasstel wie die gerugte versprei? Moet ons toelaat dat hulle ons van ons verantwoordelikhede wegtrek? Hoe reageer Nehemia? Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim. Hy verwerp die aanklagte … en gaan voort met die werk wat God vir hom gegee het. Hy besef hulle doel was om die werk te laat staan sodat dit nie voltooi kan word nie.  Reageer ons soos Nehemia – volhard in die werk waartoe God ons geroep het? Ons is dikwels geneig om stadiger te gaan, selfs op te hou. Dit is nie hoe Nehemia op die krisis gereageer het nie.

 

Volharding in die waarheid laat die lig op vals aanklagte val. God se vyande probeer steeds om God se mense te ontmoedig. Ondersoek dinge versigtig, analiseer doelgerig, soek wyse raad voor jy reageer. Moenie te gou reageer nie; moenie ontmoedig word nie; moenie dit waarmee jy besig is, afskaal nie. Maar doen wat Nehemia gedoen het: Sterk tog my hande, o God! Nehemia bid.