Ek is ontevrede

image_pdfimage_print

The Son of God came to seek us where we are in order that he might bring us to be with him where he is. —J.I. Packer

 Ek is ontevrede

11Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. 12Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om ’t ewe.

13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans, omdat Jesus my bron van krag is.

(Filippense 4:11 – 13 – Die Boodskap).

 

Gelowiges se tevredenheid word nie deur hulle omstandighede betaal nie. Tevredenheid word bepaal deur dit wat ons glo; jou geloof word bepaal deur wat jy sien: Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1 – 2). As ons die las van ontevredenheid wil afgooi, moet ons begin deur te kyk waarna ons kyk.

Toe Paulus sy brief aan die Filippense geskryf het, sit hy in die tronk. Tronke destyds was nare plekke en mense het dikwels in tronke gesterf. Daarom skryf hy aan die mense in Filippi: Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waarvoor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd,  met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe (1:20). Hoe kan Paulus wat in die tronk sit – honger, wetende hy kan enige oomblik doodgemaak word – skryf Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref?  Omdat hy die Prys gesien het: Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry (Filippense 3:8).

Vir Paulus was Jesus ‘n Skat/Prys en hy het sy Prys gesien. Die geheim van tevredenheid is om die Prys te gesien het. Maar hoe sien ek die Prys?

  • Stop. As ek ontevredenheid in my lewe raaksien … stop. Hou op murmureer en kla. Stop jou kritiese tong teenoor ander – iets wat dikwels uit ‘n ontevrede hart voortspruit. Hou op begeer. Stop … en kyk.
  • Kyk. Kyk na wat jy besig is om te kyk. Jy is ontevrede, want daar is ‘n hindernis tussen jou en die Prys. Dink weer: Wat is die Prys wat ek wil hê?
  • Dink. Ek kan my oë net op die regte Prys fokus as ek daaroor dink. Waaroor ek dink, is dit wat ek waarneem. Ek is ontevrede, want ek het oor die verkeerde dinge nagedink en frustrasie het my plat gedruk – daarom is ek ontevrede. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8).

Moenie ontevrede wees nie. Los die swaar las en vestig jou oë op Jesus.

 

image_pdfimage_print