Ek is …

Ek is … – Francois Malan

Marie vra:

Hoeveel keer en waar in die Bybel kom die “EK IS en EK IS WIE EK IS” woorde/frase voor?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die vraag is nie duidelik nie. Verwys EK IS na alle kere wat ‘ek is’ gebruik word? Dan is daar ongeveer 780 maal ‘ek is’ in die Bybel. Indien dit spesifiek gaan oor die kere wat God sê: Ek is bv. Ek is die Here (jou God) dan 36 maal in Levitikus, 9x in Num, ens. deur die Bybel.

Nadat Moses vir die God van sy voorvaders Abraham en Isak en Jakob wat met hom in die brandende braambos gepraat het om sy Naam gevra het, het Hy in Eksodus 3:14 geantwoord: ‘Ek is wat Ek is’ (Hebreeus ehejeh esher ehejeh – die eerste persoon vorm van die werkwoord hajah om te wees) – wat altyd/ewig is, voortgaande onvoltooide aksie. Vgl. Openbaring 1:4 die Een wat was, en wat is, en wat kom (ook in 1:8; 11:17; 16:5). Sê vir die Israeliete ‘Ek is’ (ehejeh) het jou na hulle gestuur. In verse 12 en 13 word die werkwoord ehejeh viermaal gebruik. Met die herhalings beklemtoon die skrywer hoe die Hebreeuse naam Jahweh ontstaan het, wat die Griekse vertaling as kurios Here weergegee het, op grond van die Hebreeuse woord adonai Here – die Jode was bang om die naam van die Here ydellik te gebruik, en daarom het die Masorete later die klinkers van die woord adonai onder die medeklinkers jhwh geplaas. Elke keer as hulle die naam jhwh gelees het, het hulle dit adonai uitgespreek (so het die foutiewe naam Yehovah ontstaan). As jy nou regtig wil weet hoeveel maal EK IS vir God gebruik word in die Bybel, moet jy al die kere wat die naam ‘Here’ gebruik word by tel, bv. as Hy sê ‘Ek is die Here jou God.’ Die naam ‘Ek is’ wil sê dat die Here is teenwoordig. Vgl. ‘n letterlike vertaling van Jesaja 52:6: Voorwaar, op daardie dag sal my volk my naam uit ondervinding ken, voorwaar Ek is Hy, die Een wat sê: Hier is Ek. Vgl. ook Jes. 41:4; 43:10,11; 46:4; ens. Reeds in Eks.3:12 het die Here gesê ehejeh Ek sal wees met jou mond. Vergelyk ook Eks.33:19 waar die Here aan Moses verskyn het.

In Johannes sê Jesus: (in Grieks ego eimi) Ek is die brood van die lewe 6:35; Ek is die lig vir die wêreld 8:12; Ek is die deur vir die skape 10:7; Ek is die goeie herder 10:10; Ek is die opstanding en die lewe 11:25; Ek is die weg en die waarheid en die lewe 14:6; Ek is die ware wynstok 15:1; ook net ‘Ek is’ (in Grieks ego eimi) in 4:26; 6:20; in Afrikaans vertaal as ‘ek is wat ek is’ in 8:24,28; 13:19; en as ‘dit is ek’ in 18:5,6,8. Daarmee vereenselwig Jesus hom met Yahweh/die Here. Vgl. ook Mat.14:27; 22:32; 24:5; 26:22,25; Mark 6:50; 13:6; 14:62 waar ego eimi gebruik word.

Maar as jy net die Afrikaanse vertaling se EK IS en EK IS WAT EK IS wil tel, sal jy dit net in Eks.3:14 en die tekse in Johannes kry.

 

Skrywer: Prof Francois Malan