Ek moet die evangelie verkoop

image_pdfimage_print

Till men have faith in Christ, their best services are but glorious sins. —Thomas Brooks

Ek moet die evangelie verkoop

Meeste van ons krimp inmekaar as ons iemand hoor klop aan die deur en sien dat dit ‘n verkoopsman is. Of gaan na ‘n plek waar hulle tweedehandse karre verkoop – nog erger. Natuurlik is ons geïnteresseerd daarin om dinge te koop, maar daar is sekere verkoopsmanne wat ons wil vermy – die harde verkopers wat nie nee vir ‘n antwoord aanvaar nie. Hierdie verkoopsmanne volg ‘n voorafbepaalde roetine. Hulle wil hê ons moet iets koop wat ons waarskynlik nie nodig het nie. Always Be Closing = ABC is hulle leuse.

 

Dikwels word sekere kerkmense  wat hulle geloof wil deel in dieselfde lig as hierdie verkoopsmanne gesien. Ons leer sekere evangelisasietegnieke en memoriseer hoe ons die evangelieboodskap moet oordra. Daar mag selfs ‘n lys van besware wat mense mag hê, wees en hoe ons daarop moet reageer. Die doel is edel en reg. Maar, dikwels word evangelisasie ‘n verkoopstegniek. Die evangelie is tog nie ‘n besigheidskontrak nie, maar ‘n verbond  met ‘n persoonlike God soos in Jesus Christus geopenbaar. Ons word opgeroep om met mense in ‘n verhouding te tree.

Goed en wel, maar wat beteken dit? ‘n Dialoog en nie ‘n monoloog nie – ons luister goed en nooi ander uit om op die goeie nuus te reageer – sonder dwang. Ons spreek hulle diepgesetelde persoonlike behoeftes soos duidelik word in ons intieme verhouding met hulle, aan.

Verkoopsmense verkoop produkte – dit is hulle werk. Maar as hulle uit gewoonte reageer sonder om die behoeftes en bekommernisse van die kliënt te hanteer, openbaar hulle nie die nodige respek vir die kliënt nie. Hulle luister nie na die kliënt nie. Hulle skep nie spasie vir die moontlikheid dat die kliënt dalk glad nie belangstel in hulle produk nie.

In hulle ywer vir evangelisasie trap gelowiges dikwels in dieselfde strik. Is die benadering tot evangelisasie vir baie gelowiges nie ook ‘n gepoleerde boodskap wat oral herhaal word met ‘n lys van antwoorde op moontlike besware nie? Ons moet ons beste doen om getroue getuies te wees, maar die resultate moet ons aan ‘n soewereine en genadige God oorlaat.

Paulus en Petrus het nie ‘n statiese benadering gehad nie. Die geloof is een maal oorgelewer (Judas :3), maar hulle het hulle boodskap volgens die spesifieke omstandighede gekontekstualiseer. In hulle prediking fokus hulle op Jesus, maar hulle plaas hulle boodskappe in verskillende raamwerke as gevolg van die verskillende behoeftes van hulle gehore.

In Handelinge 2 praat Petrus met Jode en mense wat tot die Jodedom bekeer is. Sy boodskap maak baie gebruik van die Ou Testament. Hy beklemtoon dat Jesus die Messias is. As Paulus met die Ateners praat, gebruik hy ‘n ander benadering. Hy haal aspekte van die Griekse kultuur en die skepping aan. Die evangelieboodskap verander nie, maar die perspektiewe en behoeftes van die hoorders vereis dat ons met die gehoor op ‘n toepaslike en betekenisvolle manier praat. Let daarop dat in Handelinge 17 waar Paulus met die Ateners praat hy geen druk op hulle uitoefen om ‘n besluit te neem nie. Hy vertel hulle van die evangelie en hulle reageer op drie maniere:  skeptisisme/ verwerping, openheid om verder te praat en aanvaarding.

Ons hoef nie iemand te bekeer nie – ons kan dit in ieder geval nie doen nie. Net die Heilige Gees kan dit doen. Ons moet getroue getuies wees en God wil ons in evangelisasie gebruik, maar ons het nie die vermoë om harte en lewens te verander nie. Ons werk is om mense van die evangelie te vertel  en om mense uit te nooi om Jesus Christus persoonlik te ontmoet – nie om godsdienstige produkte te verkoop nie.

image_pdfimage_print

You may also like...