1

Ek sal hulle genees (57:14-21) – Francois Malan

Na die aanslag op die oortreders in 57:3-13a verander die toon weer skielik in 57:14-21. Die teenstelling tussen oordeel en versekering is tipies van Jesaja wat telkens God se oordeel baie ernstig opneem, maar herhaaldelik hoop ná die oordeel beklemtoon. Die gedeelte sluit in vers 21 met ‘n herhaling van 48:22 (vgl. die slotvers van die boek  66:24): vir die goddelose is daar geen vrede nie, sê my God.

57:14 Die vers herhaal die metafoor van die hoofpad wat as ‘n beeld vir die terugkoms na Jerusalem gebruik is (35:8; 40:3; 49:11). Omdat Israel reeds in Kanaän terug is en die tempel reeds opgebou is, verwys die metafoor waarskynlik na die pad vir die torah, dat gesorg moet word dat daar geen obstruksies sal wees wat volle gehoorsaamheid aan die woord van die Here sal verhinder nie. Die beeld praat van die blye opbou van die samelewing volgens die voorskrif van die Here.

57:15 Die karakter en identiteit van Jahweh word hier op ‘n besondere genuanseerde wyse bevestig: Die teenoorstelling van hoog en heilig teenoor nederig en verdruk is die kern van die Here se selfopenbaring, die misterie van God wat die onderwerp is van die Bybelse geloof. Dit is die beskrywing vir die groot Regeerder van die heelal. Vanuit sy verhewe troonsaal (6:1) reik sy koninklike teenwoordigheid en sy koninklike sorg uit na die laagste en onwaardigste van sy onderdane.  Dit is hierdie optrede van die Here wat die lewenswyse van Israel lei op nuwe weë – my gedagtes is nie julle gedagtes nie…soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede en my gedagtes verhewe bo julle gedagtes en optrede (55:8-9; vgl. sy woorde aan die vertrapte slawe in Egipte in Eks 3:7-8). So het die Seun van God Homself prysgegee deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, gehoorsaam tot die dood aan die kruis (Filip 2:6-8).

Die doel van God se identifisering met die nederiges en verguisdes is om hulle harte en gees te vernuwe, te laat herleef. Die God wat so deur die teruggekeerdes vereer word as die hoë God, gee lewe aan diegene wie se lewe uit hulle gemergel is. Dit is die paradoks van God. Die ereplek, heerlikheid en mag in die Here se koninkryk en tempel behoort nie aan die trotse ambisieuses en sterkes nie, maar aan die nederiges van gees (Mat 5:3-10).

57:16-19 Hier word uitgebrei op die wonderlike aankondiging in vers 15, met ‘n teologiese verslag van die hele verloop van die Here se optrede teen Israel, binne die denkwyse van Israel se tradisie oor die toorn van God oor  sonde. Die basis vir wat volg is die goeie nuus van die Here se versekering dat Hy nie toornig sal bly op Israel nie (vgl dieselfde versekering in Ps 103:9-10).  Die Here se toorn is beperk deur sy identiteit as barmhartig en genadig, geduldig en vol troue liefde (Ps 103:8; vgl. Eks 33:19, aangehaal in Rom 9:15).

‘want ‘n gees word swak/flou voor My, en die mense (letterlik: die wat asem het) wat Ek gemaak het’ (1983-vertaling: want anders sou dit die einde beteken van die mens aan wie Ek die asem gegee het)

Die Here erken dat Hy kwaad geword het vir Israel wat opgeroep is vir die hofsaak teen hulle omdat hulle sy verbond verlaat het en erge straf verdien het. As sy toorn voortgaan sal dit egter sy werk aan sy skepping negatief beïnvloed. Daarom word sy toorn oor die skepsels wat Hy gemaak het, gestaak.

57:17-19  Die Here se optrede teen Israel word in drie stappe aangebied, volgens die Jesaja-tradisie:

1 Ek was kwaad …..voor die ballingskap (v17)

2 Ek sal genees ……. verlossing van die bannelinge (v18)

3 ‘Vrede, Vrede’…… sy teenwoordigheid by Israel na die ballingskap (v19).

57:17 Die vernietigende toorn van die Here wat Israel in ballingskap gestuur het, was ten volle geregverdig. Die Here wat gehoorsaamheid aan die verbond vereis, moes optree teen mense wat daarop uit was om geweldaddig en vernietigend op te tree vir eie gewin. Daarom het die Here hulle geslaan met die ballingskap en Homself vir hulle verberg. Hulle was hardkoppig, daarom moes die Here hardhandig teen hulle optree; hulle het hulle rug op die Here gedraai en wou nie na Hom luister nie, en daarom het Hy Hom vir hulle verberg en doof gehou vir hulle klagtes.

57:18 Die Here sê: ‘Ek het gesien…’ ‘maar… ’ ‘Ek sal hom genees…’ ‘Ek sal hom lei…’ ‘Ek sal vergoed met vertroostinge aan hom en sy treurendes.’  Die Here as Heler wil genees en krag gee vir ‘n goeie lewe. ‘Lei’ verwys na die uitlei uit Egipte en uit Babilon en die Here se beskerming en sorg oor hulle (soos die wolkkolom en manna van ouds). Troos is die sleutelwoord reeds in 40:1. Die drie beloftewoorde verseker Israel van die Here se teenwoordigheid en sorg, soos in Ps 23 uitgespel word met groen weivelde, beskerming en ‘n gedekte tafel. Israel se afdraande lewensreis ná hulle terugkom uit die ballingskap en hulle herstel word uitgespel, maar bevestig ook dat die Here barmhartig en genadig is, en onreg straf (vgl. Eks 34:6-7).

57:19 Die beweging van toorn (v17) na genesing (v18) lei tot sjalom die heelheid van lewe –  dit is totaal in kontras met die vernederdes en verdruktes van v15, en met die toorn van die Here (v17).  Die Here kom met die versekering:  sjalom, sjalom! Vir dié wat ver en dié wat  naby is, vir Jode wat reeds terug is in Jerusalem en dié wat nog verkeer in die verstrooiing dwarsoor die hele Persiese ryk. Dit is die nuwe gawe van die hoë en heilige God (v15) wat besig is om die laagstes en verdruktes te vernuwe (Die Dooie See manuskrip laat die tweede sjalom uit, maar die Septuaginta plaas dit, soos in die Afrikaanse vertaling, elk aan die begin van ‘n sinsnede).

Die vers begin met ‘skeppende (die een wat skep) die vrug van die lippe (woorde) – dit is die Skepper Here wat  met sy skeppingswoord vrede skep (soos met die skepping). Slegs die Skepper kan woorde praat wat doen wat Hy sê (55:11). Die vers sluit met ‘en Ek sal hom (die naby Jode en die wat ver is) genees’ (soos aan die begin van vers 18) om dié wat treur oor hulle sonde, hebsug en ellende nogmaals te verseker van sy heling, van die mens en die samelewing te midde van die bedreiging van die goddeloses wat tussen hulle woon.

57:20  Die paragraaf sluit af  met ‘n uitsluiting: die belofte van sjalom geld nie vir die goddelose nie. Hulle is soos  die see wat rondgeslinger word sonder stilte – wat nooit tot rus kan kom nie, en slyk en modder opwerk. Die goddelose is soos die eindelose bruisende waters van chaos – meedoënloos wreed, verwar, uitdagend, afbrekend – wat altyd vullis en geweld laat opbruis en oorspoel uit hulle harte. Die sjalom van dié wat van die Here afhanklik is, is ‘n gawe wat juis met  die diepgaande verdeeldheid in die samelewing wil gaan. So het Jesus die onstuimige see beveel: Bedaar, wees stil! (Mark 4:39). Alleen die woord van die Here maak alles veilig vir sy volgelinge.

57:21 In die hart van die goddelose is daar geen plek vir vrede nie (48:22), die sjalom van verse 2,18,19. Daarom tree hulle so woes en onvergenoegd op.

Skrywer:  Prof Francois Malan