Ek is terneergedruk (1)

Never presume God will grant you apart from prayer what he has ordained to grant you only by means of prayer. —Sam Storms

 

Ek is terneergedruk (1)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk kyk.

 

Kampioene vier gewoonlik hulle oorwinnings – sjampanje word oor die koppe uitgegooi. Elia het pas ‘n groot oorwinning oor die Baälprofete op Karmelberg behaal. Hoofstuk 19 begin glad nie soos ons verwag nie. Ons verwag dat Israel weer na God sou terugkeer. Na God die vuur uit die hemel gestuur het, val hulle op hulle knieë en roep uit: Die Here is God! Die Here is God!  Ons verwag dat die bose Agab na sy paleis sou terugkeer en vir Isebel wegjaag en so van haar bose invloed ontslae raak. Nee. Sy berou en belydenis was vals. Hy hardloop terug en skinder van Elia by Isebel. Sal sy haar vals teologie afsweer en bely? Nee, sy probeer Elia doodmaak.

 

Ons sou verwag dat Elia sou vas staan. Die mag van die Here het immers van hom besit geneem. Nee, dit gebeur nie. Elia bejammer homself en hardloop weg van Isebel. Elia gaan van die bergtop na die vallei waar hy onder ‘n besembos slaap. Hy het vroeër ander bedien, maar nou fokus hy op homself. Hy het met moed die vals profete gekonfronteer; nou hardloop hy weg. Ons het gesien dat hy vir vuur en reën bid, maar nou bid hy dat God sy lewe moet neem.

 

Elia se geloof en gebedslewe het ons uitgedaag. Nou dien sy geestelike ineenstorting as waarskuwing. Dit gee ook vir ons wyse raad. Elia was ‘n mens soos ons (Jakobus 5:17). Dit beteken dat hy dieselfde versoekings en uitdagings as ons ondervind het – insluitend geestelike ontmoediging en wanhoop. Geestelike termeergedruktheid is ‘n goeie beskrywing van sy toestand. Ons moenie verbaas wees oor geestelike terneergedruktheid nie, maar ons moenie daar bly nie. Ons moet leer uit Elia se stryd. Ons glo tog dat die vrug van die Gees vreugde insluit.

 

Dit beteken geensins dat jy die hele tyd met ‘n glimlag moet rondloop nie. Daar is baie klaagpsalms. Nie alle gebrokenheid is negatief nie: soms is dit toepaslik. Ons moet hartseer wees oor ons verlore naastes, ongeregtigheid, armoede en ander gevolge van ‘n gebroke wêreld. Soms in terneergedruktheid ‘n normale fisiese ervaring. Jy kan nie aanmekaar die elastiese band rek sonder dat dit op ‘n stadium sal breek nie.

 

Soms is ons vir geen goeie rede geestelik terneergedruk. Soms is die beste ding om met ons gevoelens te doen, is om hulle uit te daag. Waarom is ek so in vertwyfling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my Helper en my God (Psalm 42:12).

In hierdie hoofstuk lees ons van sommige van die oorsake van Elia se geestelike terneergedruktheid en hoe God met teerheid reageer.

 

Volgende keer kyk ons na die verloop van Elia se geestelike terneergedruktheid.