1

Ek is terneergedruk (2)

 

The whole life of man until he is converted to Christ is a ruinous labyrinth of wanderings – Johannes Calvyn

 

Ek is terneergedruk (2)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

In 1 Konings 19:1 – 4 lees ons van die verloop van Elia se geestelike terneergedruktheid. Ons kan dit verdeel in vyf stadia

 

  • Elia verloor perspektief.

Hy vergeet dat ‘n korttermyn oorwinning allermins beteken dat die oorlog gewen is. Hy het op Karmel die oorwinning behaal, maar hy sou vir die res van sy lewe in ‘n stryd betrokke wees. Isebel was ‘n vyand wat aanhou baklei het. Sy het baie hulpbronne tot haar beskikking gehad. Sy was kwaad oor wat op Karmelberg gebeur het. Sy het waarskynlik die reën aan Baäl se ingrype toegeskryf. Agab vertel vir haar alles wat Elia gedoen het: die reën, maar ook die doodmaak van die profete. Sy is ‘n swak verloorder en besluit om van Elia ontslae te raak.

 

Vir die gelowige is die oorlog nooit verby nie. Gister se oorwinning verseker nie vandag se sukses nie. Ons moet  elke dag op God se mag vertrou om ons uitdagings te hanteer. Sonder God se mag was Elia maar swak. Ons uitkyk op die Christelike lewe moet ‘n langtermyn een wees. Todat ons vir Jesus Christus sien, is ons in ‘n stryd betrokke.

 

  • Elia verloor sy toewyding aan God se woord

Elia laat nie toe dat God se woord sy pad vir hom rig nie. Na Isebel se dreigement word Elia bang en vlug vir sy lewe. Toe hy by Berseba kom, laat hy sy slaaf daar agter. In Hoofstukke 17 – 18 kom die woord van God na Elia en hy gaan. Nou is daar geen woord van die Here nie en hy vlug op sy eie. “Die woord van die Here” verskyn eers weer in vers 9. Elia laat God se woord agter en leef asof hy sy eie meester is. Hy het sy geestelike rigting verloor en dryf weg van sy roetine om op God se woord vir sy optrede te vertrou.

 

Ons staan voor dieselfde versoeking. Gaan ons volgens God se gesag leef of gaan ons doen wat ons wil en hoe ons wil? As ons vergeet van die eenvoudige praktyk van Bybellees en God se woord toepas, dryf ons weg in geestelike duisternis. As ek nie in God se woord leef nie, is die vraag nie of ek sal wegdryf nie, maar wanneer en hoe ver.

 

  • Elia verloor die visie van God se grootheid

Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Hoe kan hy wat nou pas ‘n groot oorwinning behaal het, bang word? Hy het nie meer die grootheid van God raakgesien nie. Hy staan moedig voor Agab: So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan (17:1). Maar hier vergeet hy sy siening van God en word paniekerig. Hier sien ons ‘n menslike beeld van Elia wat vir sy lewe hardloop. Moontlik het moegheid, ‘n gebrek aan geloof en ‘n gevoel van ek gee nie meer om nie, bygedra tot sy val. Hierdie was nie God se agenda wat hy hier uitvoer nie.

 

Ons moet nooit God se grootheid vergeet as ons deur die uitdagings van die lewe beweeg nie. Selfs iemand soos Elia kon vergeet wie Hy is en wat Hy kan doen.

 

  • Hy het sy veglus verloor.

Hy vlug al die pad na Berseba – die suidelikste punt van die land. Daar los hy sy dienaar en gaan ‘n dagreis ver die woestyn in. Ons is ook in ‘n geestelike stryd gewikkel Ons moet daardie sake wat die koninkryk van God in ons lewens bedreig, hanteer. Doen ons dit nie, sal ons later kleinere sake ook nie kan hanteer nie. Jy kan nie vir lank om jou uitdagings werk nie. Op een of ander stadium moet jy hulle hanteer,

 

  • Hy het sy begeerte om te lewe verloor

Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie. Elia was nie die eerste of laaste persoon wat wanhopig in die lewe was nie. Moses het ook vir God gevra om hom dood te maak (Numeri 11:15). Job wens dat hy nooit gebore was nie (10:18 – 19); Jeremia het die dag van sy geboorte vervloek (20:14); Jona vra dat God sy lewe moet neem, want die dood is beter as die lewe (4:3). Die mense verlang na die dood, maar hulle neem nie hulle lewens nie. God onderhou en herstal hulle. God lei ook vir Elia deur alles. Uiteindelik is hy die een profeet wat lewend in die hemel opgeneem word.

 

Het jy al ooit gesê: “Ek het genoeg gehad.” Dan kan jy met hierdie sukkelende profeet identifiseer. Daar is hoop. God hanteer vir Elia met verbasende geduld en genade.

 

Ons het nou die verloop van Elia se geestelike terneergedruktheid gesien. Volgende keer gaan ons na die oorsake daarvan kyk.