Ek is terneergedruk (5)

image_pdfimage_print

 

You don’t have to bring the fire, bring the thunder, bring the whatever. Just bring the gospel. It will do the thundering. —Jared Wilson

 

Ek is terneergedruk (5)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Hoe hanteer God sy terneergedrukte dienaar? Met genade en geduldige deernis. Daar is veral drie maniere wat God gebruik: brood in die woestyn, ‘n stem in die berge en ‘n visie vir die toekoms. Daar is baie ooreenkomste met die storie van Moses. Dit beklemtoon God se trou, geduld en genade. Dit moet ons ook bemoedig.

 

  • Brood in die woestyn (19:5 – 8)

God se eerste reaksie was nie ‘n teregwysing nie, maar ”eet.” God het Elia reeds laat voed deur ‘n kraai, ‘n weduwee en nou ‘n engel. Elia raak onder ‘n besembos aan die slaap. ‘n Engel skud hom: Word wakker! Eet!. Elia kyk op en sien ‘n roosterkoek en ‘n kruik water. Elia eet en drink en gaan lê weer. ‘n Tweede keer skud die engel hom wakker. Weer eet Elia. Deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. [Jesus het ook veertig dae en veertig nagte in die woestyn gebly – Matteus 4]

 

Hoe bemoedigend dat God nie Elia se gebed om dood te gaan, antwoord nie, maar eerder vir hom kos gee. Inplaas van die dood gee God hom brood. God sal hom later teregwys, maar eers kry ons teerheid en versorging.

 

Voel jy gedreineer en teneergedruk? Jesus sê: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee … want Ek is sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:28 – 29). Wat ons nodig het is geestelike rus in Jesus Christus, die brood van die lewe. Daar kry ons vergifnis en vreugde, want ons weet: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1). Hy is voldoende as ons terneergedruk is.

 

Goeie kos en goeie slaap is wonderlike genesing vir geestelike terneergedruktheid. Slaap en kos is ook gawes van God. Ons het ‘n wonderlike God. Toe Elia weggehardloop het, maak Hy vir hom kos. Toe Petrus hom verloën het, maak hy vir hom kos (Johannes 21). Hy vernuwe hom fisies en geestelik.

 

Elia word hier deur die genade van God vernuwe. Elia is ‘n man soos ons. As ons terneergedruk is, het ons geselskap nodig. Dit kry ons in die geloofsgemeenskap. Miskien wil God hê dat ek ‘n eensame, terneergedrukte dienaar van Hom moet bedien. Neem vir hulle brood en spandeer tyd met hulle.

 

Volgende keer gaan ons na ‘n volgende manier kyk waarop God vir Elia gehelp het.

 

image_pdfimage_print