Eksklusiwiteit

Blog37

Injustice anywhere is a threat tot justice everywhere – Martin Luther King Jr

Eksklusiwiteit

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Met eksklusiwiteit word uitdunning van die kudde belangriker beskou as die uitbou van die koninkryk. Die gunsteling verse vir hierdie mense gaan oor smal paaie en nou poorte. Hulle glo dat genade en barmhartigheid verdien moet word. Natuurlik is daar kostes verbonde om Jesus te volg – dit vereis verandering in ons optrede, waardes en prioriteite.

 

Maar die “toevallige Fariseërs” voel dat dit baie belangrik is om die “gepeupel” uit te hou. Hulle lig die dwarslat en is trots om dit hoog te hou deur te herdefinieer wat die beteken om ‘n Christen te wees. Die ware Christen, volgens hulle, kies altyd die moeiliker pad. Ekstra laste word byvoeg – meer opoffering, dieper studie …  dinge wat hulle sien as bewyse van ware dissipelskap. Hierdie is ‘n resep wat belangrike bestanddele uitlos. Dit beklemtoon ‘n paar geselekteerde verse en ignoreer die res van die Nuwe Testament. Dit is nie ‘n resep vir dissipelskap nie, maar vir Fariseïsme. Niemand probeer doelbewus Fariseërs produseer nie. Mense wat ‘n radikaler en meer aktivistiese geloof voorskryf, het die beste bedoelings. Hulle wil hê dat kerke en mense hulle volle potensiaal moet bereik – geen middelmatigheid nie.  Daar is altyd ‘n hoër vlak om te bereik. Mense wat moeg word, moet net harder werk, langer bid, meer studeer. No pain no gain.

 

Maar Jesus bied egter ook rus aan: Kom na My toe. almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matteus 11:28 – 30). Is dit nie dalk hoekom Hy sy boodskap goeie nuus genoem het nie? Diegene wat altyd meer verwag, verstaan dit nie.

 

Mense probeer altyd die dwarslat hoër lig as waar God dit geplaas het. Hulle voeg meer laste by en noem dit dissipelskap. Hulle sluit die deure vir dié wat swak is en sukkel. Hulle noem dit reiniging van die kerk. Die bedoeling is edel; die vrugte is verrot. Soos Fariseërs probeer hulle die mense waarvoor Jesus gekom het, uit te hou. Hoekom doen ons dit

 

Dit gebeur veral nadat ons deel van die kudde geword het. Ons wil vashou aan wat ons verdien het; ons wil dié wat dit nie verdien nie, uithou. Ons wil nie met ander deel dit wat ons gekry het nie. Ons kry dit in alle beroepe – verhoog die standaarde en toegangsvereistes; maak dit moeiliker vir ander om in te kom. Mense sien dit selde raak. Glo hulle behou die vereiste standaard. Hierdie denke en optrede is loodreg teen Jesus se doel en werk – die rede waarom Hy gekom het.