Engele en Serafs – Francois Malan

Bianca vra:

Waar in die Bybel staan dit waar Lucifer as die engel van musiek en lig saam met God geheers het?

En die Serafs saam met hom in die troonkamer heers.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Lucifer is die Latynse naam vir die môrester. Die Romeine het die môrester Lucifer en die aandster Hesperus genoem. Sedert dfie vierde eeu v.C. was dit bekend dat die twee dieselfde planeet is wat toe Venus genoem is oor die mooiheid van die ster. Venus was die ou Italiaanse godin van tuine en lenteblomme, en later ook van liefde en skoonheid.

In Openbaring 2:28 word na die môrester verwys, maar die name Lucifer en Venus kom glad nie in die Bybel voor nie, nie in die Griekse of Latynse of Afrikaanse Bybels nie, aangesien die name ook aan die Griekse en Romeinse afgode verbind is. Die Bybels verwys net na ‘die ster van die môre,’ as die gawe van God die Vader aan die gelowiges in die stad Tiatire as hulle oorwin oor die versoekings van onsedelikheid en van die afgode. Die hemelse heerlikheid word vergelyk met die skitterlig van die môrester, en die lewens van die gelowiges wat oorwin sal in hulle omgewing wees soos die môrester (vgl. ook Daniël 12:3: ‘Die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.’ )

Die beeld van die môrester verwys waarskynlik terug na die seën wat die Here die profeet Bileam oor Israel laat uitspreek het. Israel was besig om deur die land van Moab te trek uit Egipte na Kanaän. In Numeri 24:17 staan: ‘Daar kom ’n ster uit Jakob, daar staan ’n heerser op uit Israel wat die kop van Moab sal vermorsel en al die opstandiges sal vernietig.’ Die ster uit Jakob word in die Nuwe Testament se Openbaring gesien as ’n voorspelling van die wederkoms van die Here Jesus om te oordeel oor die opstandiges wat nie in Hom glo nie, en om ewig by die gelowiges te bly as hulle Verlosser. Ook by sy eerste koms het die sterrekyker uit die Ooste gekom om aan Hom hulde te bewys  (Matteus 2:1-2).

In Openbaring 22:16 word die helder môrester gesien as die aankondiging dat die dag gaan aanbreek. So sê Jesus dat Hy die blink môrester is wat aankondig dat die dag van die ewige heerlikheid kom.

Die Bybel gebruik egter nooit die naam Lucifer nie, maar praat slegs van die môrester, sonder die konnotasie met die Romeinse Lucifer wat die Romeine as die God van mag en sterkte aanbid het.

Die verwysing na die serafs kom slegs in die roepingsvisioen van Jesaja voor, in Jesaja 6:2,6. Die Hebreeuse woord saraf beteken ‘om te brand.’ Die hemelse wesens wat die troon van God omring in Jesaja se visioen se een taak is om die heiligheid van God uit te roep. ‘Die serafs het mekaar telkens toegeroep: Heilig, Heilig, Heilig is die HERE die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.’ Met twee van hulle vlerke het hulle hulle gesig bedek om God nie te aanskou nie, met twee van hulle voete bedek om nie aan God te raak of naak voor Hom te verskyn nie, en met twee het hulle gevlieg om die boodskap van God se heiligheid te gaan verkondig. Met ’n brandende kool vuur het hulle Jesaja se mond aangeraak en hom gereinig om God se boodskapper teen sy volk se sondes te wees.

Daar is geen sprake daarvan dat die serafs saam met God heers nie. Hulle verkondig slegs God se heiligheid, wat die hele skepping met sy heilige teenwoordigheid regeer, en mense in sy diens neem, soos vir Jesaja, om die boodskap van God se heiligheid oor te dra.

Skrywer:  Prof Francois Malan.