Engele in die Bybel (3)

Engele in die Bybel (3)

Hoekom stuur God engele na mense? Ou Testament

God stuur engele om geboortes aan te kondig

Toe Abraham eendag op die warmste deel van die dag by sy tentdeur gesit het, het hy drie mans sien aankom. Hy het hulle dadelik met die besondere gasvryheid van die mense van daardie tyd onthaal, min wetende dat hulle eintlik engele van die Here is. Die rede hoekom hulle gekom het, was om die groot nuus te kom aankondig dat Abraham en Sara teen die volgende jaar daardie tyd ‘n seun sou hê (Genesis 18:10).

God stuur engele om mense te bemoedig

In die tyd wat Jakob by sy oom Laban gebly het, het dit op ‘n stadium gelyk of dinge teen hom begin draai. Laban se seuns het nie daarvan gehou dat Jakob so ryk word nie, want hulle het gereken dat hy besig was om hulle pa se skape te steel. In dié moeilike tyd het die Here toe ‘n engel met ‘n boodskap gestuur. Die Here het vir Jakob gesê dat hy moet padgee by Laban en moet teruggaan na sy geboorteland. Toe het die Here hom ook bemoedig en hom herinner aan wat by Bet-El gebeur het (Genesis 31:12-13).

God stuur engele om aan mense opdragte te gee

In Eksodus 3, toe Moses by die brandende doringbos was, het God ‘n engel gebruik om aan hom die opdrag te gee om terug te gaan na Egipte toe en die Israeliete uit Egipte uit te lei.

God stuur engele om sy boodskap aan profete oor te dra

In die ouer dele van die Ou Testament is daar ‘n paar voorbeelde waar die Here engele gebruik om vir profete ‘n boodskap te gee. In 2 Konings 1 word byvoorbeeld vertel hoe koning Ahasia deur sy bokamer se traliewerk geval het en homself baie ernstig beseer het. In plaas daarvan om die Here te raadpleeg, stuur hy toe boodskappers om by Baäl, die afgod van die Filistyne, uit te vind of hy weer gesond gaan word! Daarop het die Here ‘n engel na die profeet Elia gestuur. Hy moes die koning se boodskappers voorkeer en vir hulle sê dat die Here besluit het dat Ahasia nie weer uit die bed sal opstaan nie en sal doodgaan.

God stuur engele om in krisissituasies in mense se lewens in te gryp

Toe Hagar weggeloop het van Sara omdat Sara haar so sleg behandel het, het die Here ‘n engel gestuur om haar by ‘n fontein in die woestyn voor te keer. Die engel het vir haar gesê dat sy moet teruggaan na Sara toe (Genesis 16).

Daar is ook ander voorbeelde waar die engele nie gestuur word om boodskappe oor te dra nie, maar om iets te doen. Baie keer stuur die Here hulle byvoorbeeld om mense te beskerm. As Abraham sy slaaf stuur om ‘n vrou vir Isak te gaan haal, sê hy vir sy slaaf dat die Here ‘n engel saam met hom sal stuur (Genesis 24:7). As koning Farao se soldate die Israeliete in die woestyn agterna sit, gebruik die Here ‘n engel om agter hulle stelling in te neem en hulle te beskerm (Eksodus 14:19-20).

Daar is ook voorbeelde waar die Here sy engele gebruik om mense te straf. Die bekendste voorbeeld is seker wat met Sodom en Gomorra gebeur het. Die Here het twee engele gestuur om die stede te vernietig omdat hulle so ontsettend sondig was. Tog wys die Here ook sy genade in dié situasie as hy dieselfde engele gebruik om vir Lot-hulle te help om betyds te vlug (Genesis 19).

As ‘n mens na alles kyk wat oor engele in die ouer dele van die Ou Testament gesê word, is daar een ding wat ‘n mens feitlik by almal kan raaksien: Daar word gewoonlik eintlik maar bitter min oor die engele self gesê. Hoe hulle lyk of watter klere hulle dra, word nooit gesê nie. Nie een van hulle het ooit ‘n naam nie. Dit is ook opvallend dat die mense aan wie hulle verskyn, gewoonlik nie eens besef dat hulle met ‘n engel te doen het nie. Daaruit moet ons aflei dat die skrywers van hierdie gedeeltes aan engele gedink het as wesens wat maar net soos mense lyk.

  • Toe Abraham die drie mans genooi het om by hom te eet, het hy byvoorbeeld glad nie besef dat hulle engele was nie (Genesis 18).
  • Ook Lot het die twee engele genooi om by hom te oornag sonder om te besef dat hulle engele was (Genesis 19).
  • Dieselfde kan gesien word in die manier hoe Gideon opgetree het toe die engel by hom was. Hy het met die engel gepraat asof hy ‘n gewone mens was en hom selfs “meneer” genoem (Rigters 6:13). Hy het eers besef dat dit ‘n engel was net voor die engel van hom af weg is. Die engel het met die punt van sy stok aan die offer geraak en dit het skielik aan die brand geslaan. Toe eers het hy besef dat dit al die tyd ‘n engel was wat hom besoek het.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie