ETIEK: MY SPESIFIEKE TERREIN

image_pdfimage_print

 “Everyone thinks of changing the world, but no one thinks of changing himself.” – Leo Tolstoy

Etiek: My spesifieke terrein

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Reg aan die begin het ons gesê dat die beginsels van hierdie beweging drieërlei is:

  • Etiek – verbind tot kwaliteit en nie net aan kwantiteit en doeltreffendheid nie. Die uitdaging is om die beliggaming van Jesus Christus in ‘n spesifieke plek te wees.
  • Ekologie – ons oproep om Jesus Christus te volg moet binne God se sending van die versoening van alle dinge verstaan word. Ons moenie net aan wat ons doen aandag gee nie, maar ook aan hoe ons dit doen.
  • Ekonomie – dit verwys na God se oorvloedige voorsiening vir God se versoeningswerk.

Die eerste aspek waarna ons gaan kyk, is terrein.

Just remember, you can never franchise the blessings of God – Warren Wiersbe

Daar is sekere kenmerke van die koninkryk van God wat herhaal kan word. As ons hoor dat Jesus die koninkryk met suurdeeg en ‘n mosterdsaad vergelyk besef ons dit is ‘n raamwerk vir groei – organies, dikwels onsigbaar vir die blote oog en uiteindelik geheimsinnig. In Handelinge 8 probeer Simon die towenaar die bevoegdheid van Petrus kry om te verseker dat elkeen op wie hy sy hande lê die Heilige Gees kan ontvang. Petrus wys hom tereg. Dit is duidelik dat ons nie die koninkryk van God kan koop nie.

Baie gemeentes, veral dié gedryf deur die gemeentegroei beweging, kom baie naby daaraan om die Christelike geloof tot ‘n verbruikersartikel te reduseer – iets wat verpak, bemark en verkoop kan word.

Baie gemeentes word tot geestelike vulstasies gereduseer – ons Sondagoggend kuipestop voor ons weer by die rotteresies aansluit. Gemeentes is die plek waar jy godsdienstige goedere en dienste koop. Die gevolg is dat ons die lewe in geestelike en nie-geestelike gebiede verdeel. Die stadige kerk probeer wegbeweeg van hierdie gekompartementaliseerde paradigma. Die wysheid van die kruis is belangrik vir alle aspekte van die lewe.

Terrein is die kombinasie van natuurlike faktore (grond, hoogte bo seevlak, mikroklimaat) en menslike faktore (tradisie en praktyke en bewerking) wat ‘n unieke karakter vir elke klein landbou gebied en die kos wat daar verbou, gemaak en gekook word, is. Net so is die Stadige Kerk se wortels in die natuurlike, menslike en geestelike kultuur van ‘n besondere plek. Dit is ‘n unieke plaaslike uitdrukking van die globale liggaam van Christus.

Die Stadige Kerk verkies kwaliteit bo kwantiteit; dit soek die welstand van die gemeente en die gemeenskap. Dit word deel van die gewone alledaagse lewe van die omliggende gemeenskap – daar waar die mense woon. Ons woon tussen mense; ons werk saam en eet saam met die mense wat in ons gemeenskap woon. Ons is aan mekaar verbind. ‘n Kultuur gebou op spoed maak dit onmoontlik. Dit gaan dus oor nabyheid en stabiliteit, die ontwikkeling van gedeelde tradisies, ons neem standpunt in teen vervreemding. Ons vorm ‘n nuwe gedeelde storie vir die gemeenskap. Terselfdertyd verbind ons ons aan die kosmiese kerk.

Hierdie benadering is ‘n erkenning dat ons lot ingeweef is in die lot van ons bure. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange (Jeremia 29:7).

Volgende keer gaan ons na die gemeentegroeibeweging kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...