Evangelisasie

 

If there is one thing which pierces the Master’s heart with grief it is not the world’d iniquity but the Church’s indifference – John Owen

 

Evangelisasie

Die woord laat ons dink aan ‘n tydperk wat verby is – Christendom. Evangelisasie destyds het uit deur tot deur getuienis, traktaatjies en groot byeenkomste (dink aan Billy Graham) bestaan. Maar soos ons kultuur toenemend gefragmenteer en sekulêr word, belemmer hierdie benadering evangelisasie. Dit word gesien as ‘n poging om rekrute te werf en nie as liefde vir ons naaste nie.

 

Hoe moet evangelisasie lyk in ons post-Christendom tydperk? Die vorige benadering het gewerk, want die samelewing was bekend met die Christelike benadering. Ons kan nie meer dit aanvaar nie. Ons huidige samelewing is Bybelongeletterd – hulle ken nie meer die taal van die kerk nie. Hulle verstaan nie meer waarvan ons praat nie.

 

“Bekeer julle en glo in Jesus” word verstaan as “Hou op slegte dinge doen, doen goeie dinge en God sal jou red.” Daar is ‘n aansienlike gaping tussen die kommunikasie van die evangelie en die ontvangs deur die kultuur. Hoe kan ons deur hierdie kulturele verwarring sny om ‘n duidelike boodskap oor te dra? Ons moet ‘n nuwe taal leer; ons moet nuwe analogieë ontdek; ons moet mense weer bekend stel aan die ware verhaal van Christus.

 

‘n Fundamentele vraag wat ons dikwels nie hanteer nie, is: Hoe is die evangelie goeie nuus vir diegene wat ons evangeliseer? Dit gaan nie net oor wat die goeie nuus is nie, maar waarom dit goeie nuus is. Ons is gewoonlik goed om die inligting oor wat die goeie nuus is, oor te dra, maar ons het dikwels nie die vermoë om dit met die lewens van mense te verbind nie. As ons die hindernisse wil oorkom, moet ons hierdie vraag kan antwoord: “Wat het die dood en opstanding van ‘n Jood in die eerste eeu te doen met ons in die 21 ste eeu?”

 

Dit beteken nie dat die hoop op verlossing by ons berus nie. Die Heilige Gees het die finale seggenskap om mense te oortuig dat die evangelie goeie nuus is. Maar die Heilige Gees kies ons om die evangelie te verkondig. Ons wil soos Paulus en Barnabas wees wat gepreek het met die gevolg dat ‘n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het (Handelinge 14:1).

 

Ons moet weer ‘n evangelie verkondig wat mense kan glo – een wat verby die kulturele en persoonlike hindernisse strek om die krag van die evangelie te ontdek. Wat maak dat mense die evangelie glo? Nie ‘n een grootte pas almal nie, maar een waarin ons die beelde van die evangelie – eenheid met Christus, vryspraak, bekering, aanneming, ‘n nuwe skepping – in die lig van verskillende kulturele identiteite verkondig.

 

Hier is ‘n paar voorbeelde.

 

  1. Soekers na aanvaarding

Een van die grootste behoeftes van mense vandag is aanvaarding – hulle wil voel dat hulle welkom is en nie verwerp word nie. Hierdie mense dra dikwels ‘n skaamtegevoel in hulle en vrees dat hulle uitgevind, geoordeel en verwerp sal word as hulle nie aan die verwagtinge voldoen nie. Mense probeer aanvaarding kry in akademiese prestasies (studente), besigheid, ens – dit werk nie al is hulle ook hoe suksesvol.

 

Vir diegene wat aanvaarding soek, belowe vryspraak volkome aanvaarding voor ‘n heilige God en sy unieke Seun, Jesus Christus. Vryspraak bring verligting en vreugde vir diegene wat aanvaarding soek.

 

  1. Soekers na hoop

Die beeld van die nuwe skepping is veral oortuigend vir mense wat na ‘n nuwe begin in hulle lewens soek. Mense wie se lewens deur mislukking, mishandeling, lyding en verslawing gekenmerk word, soek hoop – hulle wil ‘n nuwe skepping word. ‘n Nuwe skepping verban die ou lewe en verwelkom ‘n nuwe lewe deur geloof in Jesus Christus. Dit bring hoop in die hart van die hopeloses.

 

  1. Soekers na intimiteit

Ons soek intimiteit in ons verhoudings Ons wil raakgesien en versorg word. Ons soek almal ‘n plek waar ons onsself kan wees en weet dat ons aanvaar word. Ons soek verhoudings wat veilig is – waar ons ons innerlike gedagtes en stryd kan vertel. Vir diegene wat intimiteit soek belowe eenheid met Christus toegang tot die intiemste, mees liefdevolle en onbreekbare verhouding wat die mens ken. Dit bring genesing en vreugde vir diegene wat intimiteit soek.

 

  1. Soekers na verdraagsaamheid

Mense soek verdraagsaamheid. Ons is baie geneig om sommer onmiddellik mense se wêreldsiening af te skiet. Vra eerder vrae om agter te kom hoekom dit hulle perspektief is. Waardeer hulle sienings. Hulle het dikwels goeie redes daarvoor. Eerbiedige dialoog kan die siening dat Christene net oordeel verander. Dit mag deure open wat andersins toe sou bly. Vir mense wat verdraagsaamheid soek, sal vryspraak die soeke na verdraagsaamheid hanteer. Dit gee aan mense die geleentheid om genade en vergifnis te ondervind.

 

Hierdie beelde uit die evangelie bied verskillende perspektiewe op die evangelie, wat, as dit op die soeke van mense toegepas word, lei tot geloof, hoop en liefde. Beelde hanteer die diepte, ingewikkeldheid en krag van die evangelie. Dit help ons om nie net die wat van die evangelie te antwoord nie, maar ook die hoe.

 

Vir evangelisasie om geloofwaardig te wees, moet dit Bybels wees. As ons die evangelie van genade verkondig, moet ons Bybelse waarhede, stories en beelde gebruik. As ons hier ophou kommunikeer ons nie doeltrefeend hoe die evangelie goeie nuus vir mense is nie. Soos goeie beraders moet ons na mense luister sodat ons kan weet hoe om die rykdom van Christus doeltreffend te kommunikeer op so ‘n wyse dat dit hulle unieke lewensverhaal aanspreek.