Gawes en talente

 

“Take the first step in faith. You don’t have to see the whole staircase, just take the first step.” Martin Luther King, Jr

 

Gawes en talente

Baie van ons ouer mense het ‘n vraelys voltooi om ons gawes vas te stel. Die doel was dat elke lidmaat in die gemeente sy ware bediening kon identifiseer om sodoende Paulus se beskrywing van die liggaam van Christus in 1 Korintiërs te vervul. Die einddoel was doeltreffende bediening en gelukkige lidmate.

 

Die probleem met hierdie benadering was die onsekerhede. Mense kom nie net met gawes en talente nie, maar ook met lewens wat belas is met sonde. ‘n Ander probleem is die definisie van ‘n doeltreffende gemeente. Dit verwys gewoonlik na getalle. Is getalle die manier waarop ons na die liggaam van Christus moet kyk? In die verlede het gemeentes die mense van ‘n spesifieke gebied bedien, maar vandag is gemeentes en verskillende kerke in kompetisie met mekaar.

 

Wat is die “besigheid” van die kerk? Paulus skryf ‘n brief aan die gemeente in Korinte – ‘n gemeente en gemeenskap met baie probleme. In 1 Korintiërs 12 skryf hy vir hulle oor die verskeidenheid van geestelike gawes en die liggaam van Christus met sy baie lede. En dan sê hy: Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is (13:1). Dan volg die hoofstuk oor liefde.

 

Die lewe in die liggaam van Christus word nie op die fondament van gawes en talente gebou nie. As Paulus oor homself as apostel praat sê hy: Sy (Christus) antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 10). Die wonderlike nuus is dat almal van ons swak kan wees.

 

Maar die moderne kerk/gemeente verwerp hierdie swakheid. Ons leer ons kinders dat almal wonderlik en spesiaal is. Maar as ons dan so spesiaal is, hoekom voel ons so sleg? Ons word nie deur ons gawes en talente gered nie, maar deur ons swakhede, ons gebrokenheid – deur ons skaamte en sonde. Christus verbind Hom nie met ons oor ons so wonderlik is nie: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (1 Korintiërs 5:21).

 

Die ware etos van die kerk is nie een wat sukses vier of gawes en talente bevorder nie. Nee, dit is die plek waar die evangelie so duidelik verkondig word dat diegene wat swak en gebroke is, weet dat hulle veilig is.