Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(3) – Hennie Stander

Die slingervel

Die slingervel was ‘n eenvoudige maar effektiewe wapen wat ook deur herders gebruik is. Dit het bestaan uit ‘n klein leersakkie waarin ‘n klippie van sowat veertig millimeter in deursnee kon inpas. Hierdie sakkie is weer aan twee stukkies tou of leer van ongeveer 60 sentimeter lank vasgemaak. Die klippie is in die sakkie geplaas en dan is dit baie vinnig in die rondte gedraai en die middelpuntvlieënde krag het gesorg dat die klippie op sy plek gebly het. Wanneer ‘n mens egter op hierdie stadium een van die toutjies laat los het, het die klippie die sakkie teen n geweldige spoed en met baie groot krag verlaat. Hierdie slingervel is met groot vaardigheid en akkuraatheid gebruik deur herders wat baie tyd gehad het om daarmee te oefen. Dawid het byvoorbeeld vir die Filistyn Goliat daarmee gedood (1 Samuel 17:40,50). Ussia het selfs sy leër uitgereik met onder andere klippies vir die soldate se slingervelle (2 Kronieke 26:14). Maar die slingervel is ook gebruik om die skape mee te beheer. ‘n Goed geplaaste klippie wat direk voor ‘n skaap val wat besig was om weg te dwaal, het die skaap weer laat terugkeer na die kudde toe.

 

‘n Skaapkraal van klip naby Berg Nebo, Jordanie

Die stok en die staf

Verder het ‘n herder ook ‘n stok en ‘n staf gehad (Psalm 23:4). Beide is vir ondersteuning en beskerming gebruik en dit is nie altyd duidelik presies wat die verskil tussen die herder se stok en staf was nie. Voorts is beide van die takke van borne gemaak. Die vorm van die stok het blykbaar alles afgehang van die persoon wat dit wou gebruik se individuele behoeftes. So kon dit byvoorbeeld die vorm van ‘n knuppel aangeneem het met die een punt daarvan baie groter en dikker as die ander punt. Soms is allerhande klippies (en later ook spykers) in die “slaankant” daarvan ingekap.

Die herderstaf is ongeveer twee meter lank met ‘n groterige haak aan die een punt daarvan. Dit is gewoonlik gebruik om die herder te help om oor die weg te kom in ‘n gebied wat baie heuwelagtig of ongelyk was. Verder is dit ook in die hantering van die skape gebruik. Wanneer die skape deur ‘n nou ingang beweeg het, soos byvoorbeeld wanneer hulle snags na die skaapkraal gegaan het, is hulle getel (vgl Jeremia 33:13) terwyl hulle onderdeur die herderstaf geloop het. Esegiël gebruik hierdie beeld om te se dat God die opstandiges sal verhinder om na hul huise terug te keer na die ballingskap. Slegs hulle wat getrou gebly het aan God sal “Ek onder my herderstaf laat deurgaan” (Esegiël 20:37-38). Volgens Levitikus 27:31-33 lyk dit of hierdie metode (“om die vee onderdeur ‘n herderstaf te laat loop”) gebruik is om te bepaal watter diere as tiendes vir God gegee moes word. Terwyl die beeste en kleinvee onderdeur die herderstaf deurgeloop het, is elke tiende dier gemerk en hulle was dan aan God geheilig. Hierna was dit nie meer toegelaat om die diere te ondersoek ten einde vas te stel of hulle goed of sleg was nie, en ook mag die diere nie meer op hierdie stadium, nadat hulle vir God uitgesit is, omgeruil word nie.

Die herderstas

Herders het ‘n leersakkie gedra wat heelwat groter was as die een in die slingervel. Dit het bekend gestaan as ‘n herderstas of ‘n slingersak. Ook reisigers en bedelaars het sulke tassies gedra. Dit is waarskynlik gebruik om veral geld en kos in te bêre. Dawid het sy herderstassie met klippies gevul (1 Samuel 17:40); een daarvan het vir Goliat gedood. Dit is waarskynlik ook die sakkie waarna Jesus verwys het toe Hy sy dissipels verbied het om enige reissak met hulle saam te neem toe Hy die twaalf dissipels uitgestuur het (Matteus 10:10).

herderenfluit

‘n Herderseun speel op sy fluite te Palmyra, die Bybelse Tadmor, in Sirie.

Verder het herders rietfluite gehad as deel van hulle uitrusting. Dit was ‘n blaasinstrument waarmee hulle musiek gemaak het. Die rietfluite het uit een of twee stukkies riete bestaan wat uitgehol was. Die geluid is gemaak deur oor ‘n skerp kantjie te blaas en die verskillende note is gemaak deur verskillende gaatjies in die twee pypies te blokkeer. Dikwels is beide riete gelyktydig bespeel. Daar, kon vrolike musiek daarmee gemaak word, by­voorbeeld tydens feestelike geleenthede (1 Konings 1:40), maar hulle kon ook droewige musiek daarop maak (Jeremia 48:36). Dit was maklik om hierdie rietfluite te maak maar die riete het ook maklik gebreek. Wanneer so ‘n rietfluit beskadig is, het dit geen verdere waarde gehad nie. Die stukkende een is doodeenvoudig weggegooi en ‘n nuwe een is gemaak. Dit is egter van Jesus gesê dat “Hy nie ‘n geknakte riet sal breek nie” (Matteus 12:20; Jesaja 42:3).

 Skrywer:  Prof Hennie Stander