Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(10) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die Tempel van Herodes

Om die Jode te beïndruk het Herodes die tempel in Jerusalem vergroot en verbou. Dit het behels dat die nuwe tempel twee keer so groot geword het as die een wat na die terugkeer uit die ballingskap gebou is. Die binnehof is byvoorbeeld verleng na die suide toe om die ou paleisgeboue in te sluit en is omring deur groot pilaargange. Die binnehof is geplavei met marmer en dele van die gebou is selfs met goud versier. Die Herodestempel het ook verdere ontwikkeling in die godsdiens getoon, soos ‘n voorhof vir die heidene, sodat nie-Jode ook deel kon hê aan die Joodse godsdiens. Dan was daar ook ‘n voorhof vir vroue en een vir mans, en ook ‘n voorhof vir die priesters. Elk van die voorhowe het beperkings gelê op die mate van deelname aan die verrigtinge en toegang tot by die sentrale heiligdom. Die hoofdeel van die tempel was op ’n platform gebou en ommuur. Die oostelike pilaargang was die bekende Pilaargang van Salomo (Johannes 10:24, Handelinge 3:11, 5:12) teenoor die voorhof van die heidene, en dit het ‘n ingang gehad met die naam “Goue Poort” waardeur ‘n mens na die Olyfberg kon gaan. Van hier af was die helling steil af in die vallei tussen die tempel en die Olyfberg. Volgens Matteus 4:5 het die duiwel vir Jesus op die hoogste punt van die tempel laat staan wat volgens sommige die dak van die sentrale tempeldeel kon wees of dalk by hierdie poort. In werklikheid bly dit spekulasie en is die presiese plek nie te bepaal nie.

Die voorhof van die heidene was baie groot want dit het ook as ‘n mark gedien. Hier is ook die offerdiere verkoop en geld gewissel want die tempel het sy eie geld gehad. Offerdiere wat ritueel rein verklaar is, moes daar gekoop word deur die gewone Romeinse geld in to ruil teen wisselkoerse wat vir die priesters voordelig was. Dit is hierdie mense vir wie Jesus volgens Matteus 21:12-13 uitgejaag het toe Hy die tempel gereinig het.

Die voorhof van die heidene was eintlik die hele gebied rondom die sentrale of eintlike tempel waarin die voorste deel van die eintlike tempel die voorhof van die vroue bevat het. Sommige meen dat ‘n tipe afskorting of skeidsmuur die voorhof van die heidene van die eintlike tempel afgeskei het en dat slegs Jode verby hierdie muur kon gaan. Toe Paulus in Efesiërs 2:14 van die muur van skeiding praat wat Christus tussen Jode en nie Jode afgebreek het, het by moontlik simbolies na hierdie muur verwys. Ander sê dat Efesiërs 2:14 blote beeldspraak is en dat daar nie so ‘n muur was nie, en dat die Grieke wat volgens Handelinge 21:28 in die tempel ingebring is, bloot net met die trappe op na die voorhof van die vroue gebring is. Die poort wat tot die eintlike tempel, en dus direk tot die voorhof van die vroue, gelei het was die Mooipoort (Handelinge 3:2)7

In die voorhof van die vroue was vier vertrekke in elke hoek waarin moontlik materiaal vir die offerandes gestoor was (miskien brandhout), of waar besprekings kon plaasvind soos toe Jesus as kind tussen die skrifgeleerdes gesit het (Lukas 2:46); of waar mense vir ander doeleindes hulle kon afsonder soos toe Paulus en sy metgeselle hulle gereinig het (Handelinge 21:26). Hierdie moontlikhede is waarskynlik, maar nie seker nie, want spesifieke gegewens oor hierdie vertrekke ontbreek. In die tempel, moontlik ook in die voorhof vir vroue, het die offergawekiste gestaan waarin mense bydraes vir die tempel gegooi het (Lukas 21:1-4).

Daar was ook ander vertrekke in die tempelarea. Of van die vertrekke in die voorhof van die vroue hier te pas kom, is nie seker nie, want daar was langs die sentrale tempel met die heilige en allerheiligste ook vertrekke agter langs hierdie deel. So lees ons van Sagaria in Lukas 1:8-9 dat by deur die lot aangewys is vir ‘n beurt om die wierookoffer te bring. Was daar ‘n vertrek vir priesters? Joodse geskrifte noem die Saal van Gekapte Klip as vergaderplek van die priesters en van die loting. Maar hierdie saal word ook die vergaderplek van die Sanhedrin genoem.

Deur die voorhof van die vroue kom ‘n mens by die Nikanorpoort genoem na ‘n Siriese generaal wie se kop in hierdie omgewing gehang is in die ou tempel gedurende die Makkabeëroorloe in die periode tussen die Ou en Nuwe Testament. Hierdie poort gee toegang tot die voorhof van die manne vanwaar ‘n mens oor ‘n lae muur na die voorhof van die priesters kan kyk waar hulle die offers gebring het en waar die groot waskom en reinigingswaentjies gestaan het net voor die binnetempel met die heilige en allerheiligste dele. In die heilige was die wierookaltaar (Lukas 1:9-10) asook die kandelaar en toonbrode.

Die heilige is van die allerheiligste geskei deur ‘n gordyn, die voorhangsel van die tempel (Matteus 27:51), wat van bo na onder geskeur het toe Jesus gekruisig is. In die allerheiligste, waar vroeër die verbondsark gestaan het wat na die vernietiging van die tempel van Salomo nie weer herstel is nie, was in die tempel van Herodes, soos in die voorafgaande tempel, net ‘n rots wat uit die vloer gesteek het. In 2 Kronieke 3:1 word gemeld dat Salomo die tempel op die berg Moria gebou het waar die Here aan Dawid verskyn het. Dit is later ook die berg Sion genoem, die heuwel waarop Jerusalem deels gebou is. Joodse tradisie verbind Moria ook met Genesis 13:2 as die plek waar Abraham geoffer het. Die rots in die allerheiligste het vir die Jode hierdie plek aangedui.

Skrywer:  Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...