Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(2) – JP Louw

Daarom is die Joodse godsdiens so radikaal anders. Al die seremonies was maar net ‘n menslike dop of raamwerk waarin die essensie gehou is. Die raamwerk was kultuurgebonde. Dit was gegiet in vorme wat in die antieke wêreld bekend en gebruiklik was.

‘n Ander unieke faset was die feit dat die Joodse wette – godsdienstig en alledaags – almal saam deel van hierdie verhouding met God was. Ook hier het die Jode baie ooreenkomste met die wette en reëls van ander volke vertoon, maar die lewensbeskouing daaragter was totaal verskillend. Daarom is dit te verstaan dat die Jode hulle altyd so streng van heidense volke afgeskei het. Die Jode het hulle dus altyd heftig verset teen enige oorheerser wat ‘n vreemde godsdiens op hulle wou afdruk of wat maar net iets gedoen het wat die Joodse godsdiens enigsins aangeraak het. Die aanhoudende teenstand en opstand teen die Hellenistiese Griekse en Romeinse oorheersers in Palestina is bewys hiervan. Die Joodse Messiasverwagting het nou hiermee saamgehang. Die Messias sou hulle vry maak om hulle godsdiens sonder vreemde oorheersing te beoefen en so hulle eie staat te orden. Maar soos dit met mense gaan, word die essensie van ‘n saak meermale vertroebel deur die uiterlike vorm waarin dit gegiet is. Jesus was dus nie vir die Joodse leiers aanvaarbaar nie. Al het Jesus volgens Matteus 5:17 gesê dat Hy nie gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie, maar om volle betekenis daaraan te gee, d w s om die essensie te onderstreep, het die uiterlike so belangrik gelyk dat hulle Horn verwerp het. As Paulus in Galasiërs 3:24-25 sê dat ons in Christus nie meer onder die toesig van die wet (in terme van die letterlike toepassing soos die Joodse rabbi’s dit verstaan het) leef nie, maar deur Christus in die regte verhouding tot God herstel word op grond van geloof, was hierdie essensiële verhouding of verbondsverbintenis vir die Joodse leiers vreemd omdat hulle die essensie versteek het in die uiterlike raamwerk waarin hulle hul geloof beoefen het.

Dit was die Christendom wat ware betekenis aan God se verbond met Abraham, gegee het. Paulus sê dan ook in Romeine 8:4 dat ons die wet – d w s die Ou Testament in wese nou kan vervul nadat Christus weer die volle betekenis herstel het omdat ons nie meer deur die eie menslike natuur gelei word nie, maar deur die Gees van God.

Uit die voorgaande paragrawe kan ons nou duidelik sien waarom so ‘n groot deel van die Nuwe Testament enersyds nou aansluit by die Ou Testament, maar andersyds weer skerp teen die verstarde praktyke wat daaruit ontwikkel het in opstand gekom het ten einde die essensie terug te bring. So word Paulus se briewe wat so dikwels, soos veral in Romeine, die wet bespreek duidelik, want sonder die milieu waarin dit gesê is lyk dit of die Nuwe Testament die wet wil afmaak. Daarom vra Paulus ook in Romeine 7:7 “is die wet sonde?” en antwoord by “beslis nie”. Die wet leer ons wat die sonde is, maar die wet is nie ‘n doel op sigself nie. Die wet is volgens Romeine 7:12 heilig, reg en goed, maar slegs Christus verlos, want godsdiens is nie die nakom van voorskrifte en rites nie, maar die resultaat van ‘n persoonlike verhouding met God.

Skrywer:  Prof JP Louw