Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Insameling van Voedsel(1) – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Toe die antieke mens nog in grotte gewoon het, het by sy voedsel verkry deur to jag of deur wilde diere met strikke te yang. Met die ontwikkeling van die landbou, toe dit besef is dat die saad op een plek gesaai kon word en dat die opbrengs daarvan afgeoes kon word, het nedersettings ontstaan. Dit was belangrik om naby die lande te woon, maar die beste lande was nie altyd naby grotte wat as woonplekke gebruik kon word nie. Diere is gejag om as voedsel te gebruik en ons lees van Nimrod wat ‘n jagter was (Genesis 10:9) en net so ook Esau (Genesis 27:5). Isak het byvoorbeeld vir Esau aan­gesê om sy wapens te neem, sy pyl en sy boog, en om veld toe te gaan en vir horn ‘n stukkie wild te gaan skiet (Genesis 27:3).

Dit lyk of die Jode, nadat hulle Kanaän ingeneem het, geen ander keuse gehad het as om die wilde diere te jag nie omdat daar relatief min mense was en die moontlikheid bestaan het dat die wilde diere so kon vermeerder dat hulle die inwoners oortref het (vgl Eksodus 23:29). Die berge van Libanon en Sirië, asook die Jordaanvallei, was vol dierelewe. Die sinkdal van die Jordaan het ‘n trapvormige kloof met twee vlakke gehad. Op die onderste vlak het die rivier altyd sy walle in die lente oorstroom. Die baie water, tesame met die intense hitte van die somer, het tot gevolg gehad dat daar ‘n digte tropiese bos ontstaan het wat die tuiste geword het van talle wilde diere. Die Meromwaters (Hulemeer) was bekend vir leeus (vgl Jeremia 49:19) en dit lyk of daar selfs in die woestyn baie wilde diere gevind kon word (Markus 1:13).

pairusplante

Papirusplante in die Hulemeer (die Bybelse Meromwaters-Josua 11:5). Hierdie gebied was bekend vir sy Ieeus in die Bybelse tyd.

Die jag van diere

Nogtans was die jag van diere nooit ‘n sportsoort soos wat dit in Egipte en in Assirië was nie. Die Israeliete het primêr vir voedsel gejag asook om die wilde diere van hul kleinvee of weg te hou. Die Assiriese konings het egter groot wildreservate aangehou, en daar is baie in die Nylvallei gejag. In die Romeinse tyd is daar weer op diere jag gemaak om hulle in die oorloë en in die arenas te kon gebruik.

Dit was geen maklike taak om wilde diere te jag nie. Putte of kuile is gegraaf waarin groot diere gevang kon word. Hierdie putte is met bossies bedek en dikwels is daar toegangsweë tot hierdie putte gebou sodat die diere maklik soontoe gejaag kon word. Esegiël vertel hoe ‘n mensvretende leeu in so ‘n vanggat gevang is en hy gebruik dit as ‘n beeld van dit wat met die konings van Israel gaan gebeur (Esegiël 19:1-4; sien ook Jeremia 48:44). Maar daar is ook van nette gebruik gemaak. Soms is so ‘n net oor ‘n vangkuil laat hang maar ander kere weer is dit op die grond gespan. In sekere gevalle sou die net waarskynlik die gevange dier heeltemal bedek het.

Job 18:8-10 verwys na sommige van die metodes wat gebruik is om diere te vang maar in hierdie geval word dit op die goddelose van toepassing gemaak:

“Want hy raak in ‘n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van ‘n vangkuil.

‘n Vangnet gryp sy hakskeen, ‘n strik hou horn vas.

‘n Tou is vir horn verberg in die grond en ‘n valstrik vir horn op die pad.”

Wanneer die dier gevang is, is dit met ‘n pyl en ‘n boog, spies of mes doodgemaak (sien ook Prediker 9:12; Jesaja 51:20; Esegiël 12:13; Amos 3:5).

Op grond van die voedselwette van die Ou Testament was dit nie toegelaat om alle diere te eet nie (Levitikus 11). Dan was daar ook nog wette wat voorgeskryf het op watter wyse diere doodgemaak moes word alvorens hulle geëet kon word (Levitikus 17:13). Die bloed moes onder andere eers uit die diere gedreineer word (Deuteronomium 12:15). Indien die jagter iets geëet het wat hy nie doodgemaak het nie, omdat dit van nature gesterf het of omdat dit deur ‘n ander dier doodgemaak is, het hy ritueel onrein geword (Levitikus 17:15-16).

leeus

‘n Assiriese relief wat uitbeeld hoe ‘n leeu gejag word

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...