Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Insameling van Voedsel(3) – Hennie Stander

Heuning

Alhoewel ons weet dat die Egiptenare swerms bye in byekorwe aangehou het, is ons nie presies seker van wanneer of die Israeliete dit begin doen het nie. In 2 Kronieke 31:5 word van heuning gepraat in die lys van dit wat die Israeliete as “eerste opbrengste” ingebring het. Aangesien al die ander items wat genoem word, produkte is wat hulself verbou het, mag dit wees dat die heuning in hierdie geval afkomstig was van hul eie “heuningboerdery”. Ons lees dat die Beloofde Land “oorgeloop” het van heuning (Eksodus 3:8; 13:5). Heuning is in die bos gevind (1 Samuel 14:25-27), in rotsskeure (Deuteronomium 32:13; Psalms 81:17) en selfs in die karkasse van diere (Rigters 14:8-9). Johannes die Doper het selfs in die woestyn heuning gevind (Matteus 3:4).

Heuning was die natuurlike versoeter omdat die Israeliete nie suiker gehad het nie. Daar is dus gesê dat God se bepalings soeter is as heuning (Psalms 19:11); aangename woorde is soos heuning (Spreuke 16:24), en so ook is kennis en wysheid (Spreuke 24:13-14). Heuning is egter nie net as ‘n versoetmiddel gebruik nie, maar ook as voedsel. Sommige antieke Bybel­manuskripte vertel vir ons dat Jesus ‘n stuk vis en ‘n stuk heuningkoek geëet het nadat Hy aan Sy dissipels verskyn het kort na sy opstanding uit die dode (Lukas 24:41-43-vgl hier die Ou en die Nuwe Afrikaanse vertaling met mekaar.)

Skrywer: Prof Hennie Stander