Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(9) – JP Louw

Die teater

Groter sentra het in die Nuwe Testamentiese tyd ‘n amfiteater met ‘n verhoog vir die opvoering van dramas gehad. Dit was ‘n baie populêre gebeure in die Griekse kultuur en na Aleksander die Grote se verowering van byna die hele Midde-Oosterse wêreld van destyds het die-Griekse kultuur oral versprei. Die teater was egter nie net ‘n plek van die toneel nie, maar is ook vir baie ander samekomste gebruik. In Handelinge 19:29-40 lees ons van ‘n oproer wat in Efese uitgebreek het en hoe die mense na die amfiteater gestorm het om ‘n oproerige vergadering te hou.

Die Jode self het nie erg gehad aan die- Griekse dramas nie want hierdie tonele het verband gehou met die Griekse godsdiens wat natuurlik vir die  Jode onaanvaarbaar was. Die Jode het in hulle eie geledere ook nie dramas ontwikkel nie. Die geskiedenis van Israel is in die sinagoges voorgelees en oorvertel, maar nie opgevoer nie.

Die Romeine het ook teaters gebou en die Grieks-Romeinse wêreld het baie teaters gehad. Die gehoor het in ‘n halfsirkel gesit wat om ‘n verhoog met toepaslike geboue opgerig is -‘n opelug amfiteater. Die sitplekke het teen die skuinste, wat of ‘n natuurlike helling was of ‘n opgeboude een, na bo uitgekring met die belangrikste sitplekke heel voor. Toegang tot die teaters was deur twee poorte wat langs die verhoogdeel was sodat mense van voor of in die teater ingekom het.

teater

Die Romeinse teater to Skitopolis, die Bybelse Bet-San in Oos-Palestina.