Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(3) – Hennie Stander

Joodse opvoeding

Toe die Joodse volk uit die woestyn gekom het en Kanaän ingeneem het, het hulle nog nie ‘n ontwikkelde onderrigsisteem gehad nie. So ‘n opvoeding­sisteem het eers later ontwikkel soos wat die Joodse gemeenskap ontwikkel het. Hulle is ook hierin deur die praktyke van die nasies wat hulle omring het, beïnvloed. Aanvanklik, dus, was die onderrig by die huis gesetel. Dit was veral die moeder se verantwoordelikheid om die Joodse kind groot te maak en op te voed, totdat hulle gespeen is op ‘n ouderdom van ongeveer drie jaar. Sy het ook die dogters allerhande huishoudelike take geleer en dit is duidelik dat die Joodse vrouens baie bekwaam was (vgl Eksodus 35:25-26; 2 Samuel 13:8).

Wanneer die seuns groter geword het, het die vader se verantwoordelikheid ook al hoe groter geword. Nogtans was die moeder en vader se rol in die opvoeding van die kinders deurentyd as ewe belangrik beskou (Spreuke 1:8; 6:20). Van die vader is verwag dat hy aan sy seun ‘n professie sou leer. ‘n Rabbi het eenkeer gesê: “Hy wat sy seun nie ‘n bruikbare professie leer nie, is besig om horn as n dief groot te maak”. Jesus was nie net die seun van ‘n timmerman nie (Matteus 13:55), maar was self ook ‘n timmerman (Markus 6:3). Alhoewel die Jode se opleiding geen wetenskaplike karakter ge­had het nie en alhoewel hulle nooit vakke soos plantkunde, dierkunde en ander natuurweten­skappe bestudeer het nie, het hulle nogtans talle praktiese vaardighede en professies bemeester (vgl Eksodus 35:30 ev; 1 Kronieke 4:21=23).

Die Joodse opvoeding het aanvanklik suiwer rondom die godsdiens gekonsentreer en die doel daarvan was om die kind te leer om God te ken en te dien (Deuteronomium 6:7 ev; Spreuke 1:8) sodat hy nooit in sy lewe van God sou afdwaal nie (Spreuke 22:6). Die kulturele faset van opvoeding is egter heeltemal verwaarloos. Die kinders is ge­stimuleer om vrae te stel oor feeste (Eksodus 12:26; Deuteronomium 6:20-25) deur hulle byvoorbeeld bloot te stel aan sekere rituele praktyke (Eksodus 13:13-15) of aan sekere visuele objekte (Josua 4:5-7). Op hierdie wyse is die dade van God op ‘n natuurlike wyse aan hulle geleer.

Heiligdomme het begin om ‘n al hoe belangriker rol te speel in die lewens van die Joodse yolk en diegene wat daar werksaam was het begin met ‘n soort formele opleiding. Met die ontstaan van die koningskap reeds, was daar ‘n profetiese professie en ons lees van profete wat in groepe opgetree het (1 Samuel 10:5, 10; 19:20). Dit wil voorkom of sekere van die profete weer vir ander “afgerig” of voorgegaan het (1 Samuel 19:18-21; 2 Konings 2:3 ev). In ieder geval, die profete het ongetwyfeld ‘n opvoedkundige funksie in die volk Israel vervul, en hulle is as die leermeesters van die hele yolk beskou. Alhoewel Jesaja 29:11 moontlik mag suggereer dat nie almal kon lees nie, is daar nogtans aanduidings dat geletterdheid redelik algemeen was.

Die opdrag van Deuteronomium 6:9 en 11:20, byvoorbeeld, veronderstel dat elke familiehoof kon skryf. Verder lees ons ook dat priesters kon skryf (Nu­meri 5:23) en ook Samuel kon skryf (1 Samuel 10:25). Dawid het ‘n brief aan Joab geskryf (2 Samuel 11:14) en ook Jesaja kon skryf (Jesaja 8:1). Rigters 8:14 vertel vir ons van ‘n jongman wat vir Gideon ‘n lys name neergeskryf het. Toe Hiskia ‘n watertonnel onder die stad Jerusalem deur laat bou het, het die werkers wat daarby betrokke was ‘n inskripsie op die muur geskryf op die plek waar die tonnelgrawers bymekaar uitgekom het (sien die foto). Skryfwerk is met ink op stukke erdewerk (ostraka) gedoen. Penne is van riet gemaak en die punte daarvan is skerp gemaak (Jeremia 17:1). Die ink het gewoonlik bestaan uit n mengsel van roet, gom, olyfolie en water.

tonnelkap

Hierdie inskripsie is op die muur van Hiskia se tonnel gevind, op die plek waar die twee groepe grawers, wat van twee teenoorgestelde kante af gegraaf het, mekaar ontmoet het. Dit lui soos volg: “Kyk die tonnel. Hier is die storie van die uitgrawing daarvan. Terwyl die grawers hulle pikke geswaai het, die een in die rigting van die ander en toe daar nog net 1.5 meter oor was, is die stem van een man wat roep gehoor”

Skrywer:  Prof Hennie Stander