Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(7) Interessante Bybel Gedeeltes – Hennie Stander

“Tugmeester”?

Galasiers 3:24. Die Griekse woord paidagogos word in die Ou Afrikaanse Vertaling met tugmeester vertaal. In die antieke tye was die paidagogos ‘n man (gewoonlik ‘n slaaf) wat verantwoordelik was om die Griekse kind na die skool toe te neem en weer terug huis toe. Hy het ook die verantwoordelikheid gehad om sorg te dra vir die algemene gedrag van die kind. Die Griekse woord het dus later die betekenis van gids, voog of leier aangeneem. In hierdie gedeelte sê Paulus dus dat die Wet ons gids was wat ons na Christus toe gelei het

Die Hebreeuse alfabet

Psalm 37; Psalm 111; Psalm 112; Psalm 119. Op etlike plekke in die Ou Testament (Ou Afrikaanse Vertaling) sien ons die woorde alef, bet, gimel . . . Dit verteenwoordig die letters van die Hebreeuse alfabet. Hebreeuse digters was nogal lief om gedigte te skryf waarin elk van die volgende reëls met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin het. Die ekwivalent daarvan in Afrikaans sou wees indien ons ‘n gedig sou skryf waarvan die eerste reël of vers met ‘n “a” begin, die tweede met ‘n “b’, die derde met ‘n “c’, ens. So ‘n gedig word ‘n akrostikon genoem. Dit is natuurlik feitlik onmoontlik om ‘n Hebreeuse gedig wat in hierdie vorm geskryf is net so in Afrikaans te behou wanneer ‘n mens dit vertaal. In die Ou Afrikaanse Vertaling is die Hebreeuse letters telkens in hakies gesit om iets van die oorspronklike vorm weer te gee, maar in die Nuwe Vertaling is dit net uitgelaat.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander