Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(1)- Hennie Stander

Na hul semi-nomadiese lewe, het die Jode hulself in Kanaän gaan vestig. Hulle verblyf hier is onderbreek slegs deur die tyd wat hulle in Egipte vertoef het. Terwyl hulle in Kanaän was, moes hulle verskeie vaardighede ontwikkel wat reeds vroeër deur die Kanaäniete, wat deur hulle verdryf is, ontwikkel was. Sommige vaardighede het met moeite gekom. Hulle het byvoorbeeld nooit dieselfde hoë gehalte van pottebakkerskuns bereik as dit wat deur die nasies rondom hulle beoefen is nie. Vanweë die geweldige baie erdewerk wat opgegrawe is, het ons baie kennis van hierdie bedryf soos wat dit deur die antieke mense beoefen is. Daar was egter ongetwyfeld ‘n drastiese verlaging van standaard in die pottebakkerskuns in Palestina nadat die Jode die land ingeneem het. Hulle potte was wel sterk, maar dit het nooit die fyn afwerking of die mooi versierings gehad soos wat dit gevind kon word by ander nasies van daardie tyd nie. Die eerste keer wat pottebakkery wel in die Bybel genoem word, is toe Dawid gevlug het voor Absalom en die Jordaanrivier oorgesteek het om na die oostelike kant daarvan toe te gaan. Daar het die Gileadiete en die Ammoniete vir horn beddegoed, skottels en erdegoed gebring wat by nodig gehad het (2 Samuel 17:27-28).

Nadat individue sekere vaardighede bemeester het, is dit weer geleer vir hul eie gesinne en ander groepe mense. Later het dit heel algemeen geword om groepe ambagsmanne bymekaar te kry. Daar was ‘n Potskerwepoort in Jerusalem wat op die Hinnomvallei uitgeloop het in die tyd van Jeremia (Jeremia 19:2), en die naam van hierdie poort is waarskynlik ontleen aan al die pottebakkers wat daar naby was. Toe die muur van Jerusalem in die tyd van Nehemia herbou is, was daar ‘n Bakoondtoring (Nehemia 3:11; 12:38) waarskynlik omdat die oond van die bakkers daar geleë was. Soos die tegnologie en die materiaal ontwikkel het, en soos die bevolking toegeneem het, het daar algaande ‘n groter mark vir goedere ontstaan. Ambagslui het dus saamgestaan om produkte in groot maat te vervaardig. Die sentrums waar produkte vervaardig is, het selfs hul eie handelsmerk gehad wat op die produkte geplaas is. Daar is vandag al baie produkte gevind tydens opgrawings met sulke handelsmerke daarop. In Efese was daar byvoorbeeld genoeg silwersmede wat kon saamstaan om ‘n hele openbare betoging teen Paulus aan die gang te sit omdat sy prediking die verkope van die silwerbeelde van die tempel van Artemis nadelig beïnvloed het (Handelinge 19:23-29).

Skrywer:  Prof Hennie Stander