Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(6)- Hennie Stander

image_pdfimage_print

Metaalwerkers

Ook die metaalsmid het ‘n baie ou beroep beoefen. Die naam “Kain” hou verband met ‘n Hebreeuse woord wat “smid” beteken. Verder word daar gesê dat een van Kain se afstammelinge, met die naam van Tubal-Kain, ‘n smid was wat allerhande koper- en ysterwerktuie gemaak het (Genesis 4:17,22). Kain was die vader van die Midianitiese stam, die Keniete, wat nou betrokke was in vele aspekte van Israel se geskiedenis (sien byvoorbeeld Genesis 15:19; 1 Samuel 15:6). Dit lyk of hulle saam met die Egiptenare die koper van die Sinai ontgin het. Voorwerpe wat deur Kenitiese metaalwerkers gemaak is, het bale argeologiese inligting vir ons gegee rakende die antieke metaalwerke.

Goud was een van die eerste metale wat gemyn en aangewend is. Die rede hiervoor is dat dit in ‘n relatiewe suiwer toestand gevind word. Verder kan dit ook by lae temperature smelt en dit is dan in gietvorms gegooi. Dit is (net soos silver) gelouter deur dit in ‘n smeltkroes van klei te verhit en die boonste deel van die vloeistof is daarna afgeskep om so van al die onsuiwer­hede ontslae te raak (Sagaria 13:9). Dit is tot dun plate geslaan en is in drade opgesny; daarna is dit ingeborduur in wolstowwe en in goed geweefde linne (Eksodus 39:3). Israelitiese kuns en handwerk was op sy beste in die klein artikels soos juwele wat hulle gemaak het. Ook die goudsmede het dus ‘n belangrike funksie gehad om te vervul (vgl Nehemia 3:8).

Koper is uit die erts ontgin deur dit warm te maak. Dit kon ook uitgeklop en gevorm word deur dit te slaan wanneer dit koud was. Koper is gemyn in skagte wat tot vyftig meter diep was. Die beskrywing van mynwese soos dit in Job 28:2-11 opgeteken is, toon ongetwyfeld dat die outeur nie onbekend was met hierdie bedryf nie. Die erts is in klein stukkies gebreek in die meule en in ‘n eenvoudige oond gesmelt. Die oond het basies uit ‘n holte in die grond bestaan waar die vloei-koper uiteindelik versamel sou word. Dit is met drie lae mure van klip en klei omring. Die een muur het ook plek gehad vir die blaasbalk en vir die wind. Talle oorblyfsels van sulke meulens, oonde en slakhope is langs die Golf van Akaba gevind.

juweliersware

Silwer Juweliersware wat by die Bybelse Silo gevind is

Teen die jaar 2000 v.C. reeds het metaalwerkers uitgevind dat indien daar tot ongeveer 4% tin by die koper bygevoeg word, hulle ‘n harder metaal verkry het met ‘n laer smeltpunt wat ook in persvorms gegooi kon word. Dit is hoe brons gemaak is. In Hebreeus word dieselfde woord vir beide brons en koper gebruik. Omdat brons mooi en ook goedkoper as goud was, is dit soms in die plek van goud gebruik (vgl 1 Konings 14:26-27). Die koperindustrie het later in die suide doodgeloop vanweë ‘n gebrek aan brandhout. Hierdie bedryf het ook nie weer in die land herleef tot voor die Romeinse tye nie.

Aanvanklik is yster as ‘n onsuiwerheid uit koper uitgehaal. Dit was eers nadat sekere tegnologiese vooruitgang gemaak is dat yster uit erts gewin kon word. Dit het meer hitte benodig vir beide die winning en vir die vorming daarvan (vgl Jesaja 44:12; Jeremia 6:28-29). Die Hetiete was die eerste om yster so ontwikkel en hulle het die yster en die vaardighede wat daarmee gepaard gegaan het na die Kanaäniete en die Filistyne uitgevoer. Aangesien yster baie sterk is, en aangesien die Kanaäniete ysterstrydwaens gehad het, kon Juda nie die inwo­ners van die Vlakte uitdryf nie. Op ‘n later stadium het die Filistyne, wat ‘n groot getalsterkte gehad het, die Jode gedomineer omdat slegs die Filistyne die nodige vaardigheid met yster gehad het (1 Samuel 13:19-22). In 1500 v.C. was yster so nuut dat dit gebruik is vir die maak van juweliers­ware, maar teen 1000 v.C. is dit vir die vervaardi­ging van wapens gebruik. Dawid het egter massas yster en brons gereed gehad vir die bou van die tempel (1 Kronieke 22:3).

kruikolielampiemetaal

‘n Israellitiese kruik en olielampie, albei van metaal

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...