Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(2)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(2) – Hennie Stander

Slawe
Die rykes het verder die moontlikheid gehad om hul huishoudings deur die toevoeging van slawe te vergroot. Die meeste slawe is in tye van oorlog gevange geneem (Numeri 31:26; Deuteronomium 21:10) of hulle is gekoop (Levitikus 25:44). Alhoe¬wel sulke slawe as deel van jou eiendom beskou is (Levitikus 25:45), is hulle streng deur die Wet beskerm. Dit was nie toegelaat om hulle te verdruk nie (Deuteronomium 23:15-16) en hulle het die reg gehad om op die Sabbatdag te rus (Eksodus 20:10) en ook om aan alle godsdienstige feeste deel te he (vgl Deuteronomium 16:10-11).

Die behandeling van die slawe het baie afgehang van die karakter van die eienaar self, maar oor die algemeen is die slawe goed behandel. Daar is in al die noodsaaklike behoeftes van die slawe voorsien en hulle het teenoor hulle feitlik net soos teenoor ‘n gewone lid van die gesin opgetree. Job verklaar dat hy altyd goed en reg teenoor sy slawe opgetree het aangesien hulle, net soos hyself, skepsels van God was (Job 31:13-15).

Dit was moontlik vir ‘n Jood om ‘n slaaf te word ten einde geld terug to betaal wat hy verskuldig was vanweë skuld of diefstal; of bloot omdat hy in iemand anders se huis groter sekuriteit gevind het as in sy eie. Families en kinders kon so verkoop word (Eksodus ;21:7; vgl ook 2 Konings 4:1, Matteus 18:25). So ‘n persoon het sy dienste ge¬woonlik vir ‘n tydperk van ses jaar verkoop (Deu-teronomium 15:12-18) behalwe as hy wou aanbly as een van die familie (vers 16), in welke geval sy oor seremonieel met ‘n els teen die deur vasgesteek is (vers 17).

Aan sommige slawe is baie gesag verleen deur hul base. Abraham het sy slaaf gestuur om vir sy seun Isak ‘n vrou te gaan soek (Genesis 24). ‘n Betroubare kneg is deur sy baas oor al sy besittings en oor sy ander knegte aangestel. Dit was byvoorbeeld die posisie wat Josef beklee het in die huishouding van Potifar (Genesis 39:3-4) en ook die posisie van die verstandige bestuurder van wie Jesus ons in een van Sy gelykenisse vertel (Lukas 12:42). Die baas se dogter kon wel met ‘n slaaf trou (1 Kronieke 2:34-35), maar indien hierdie skoon¬seun (d.w.s. die slaaf) tog later die familie wou verlaat, was hy verplig om sy vrou en kinders agter te laat (Eksodus 21:4). Gewoonlik is slawe toege¬laat om in die jubeljaar (hersteljaar) na hul eiendom, wat hul as erfdeel ontvang het, terug te keer aangesien dit dan ook aan hulle terug gehandig moes ‘word (Levitikus 25:10-16 en 25:39-41). Slawe kon op enige ander tyd vrygelaat word indien hul skuld deur hulself of deur ‘n ander lid van die familie terugbetaal is (Levitikus 25:48-49).

Ook slavinne het ‘n belangrike rol gespeel. Hulle het onder andere omgesien na die behoeftes van hul meesteres (Genesis 16:1; 1 Samuel 25:42) en kin¬ders opgepas (2 Samuel 4:4). Die huisheer kon so ‘n slaaf as byvrou neem (Genesis 30:3,9) en dan het haar posisie aansienlik verbeter.

Die ruimhartige wette van die Israeliete met betrekking tot slawe is in skrille kontras met die harde wette wat in ander dele van die Midde-Ooste gegeld het. Die ekonomiese stelsels van die Griekse en Romeinse Ryke het swaar op slawerny gesteun.

Die Nuwe Testament het slawerny as ‘n feitelik¬heid aanvaar (Efesiërs 6:8; Kolossense 3:22; File¬mon 16), maar dit het tog ook die leerstellige grondslag gele vir die afskaffing van slawerny (Galasiërs 3:28).

Benewens die huishoudelike slaaf, waarop boge¬noemde betrekking het, was daar ook die slawe van die staat of dit wat as dwangarbeid bekend gestaan het. Ook Koning Salomo het van sulke dwangar¬beiders gebruik gemaak (1 Konings 9:15-21). Die dienaars van Salomo; tesame met die van Hiram, was verantwoordelik vir die ontginning en die vervoer van goud (1 Konings 9:26-28). God het ook die Israeliete aangespreek omdat hulle uitlan¬ders aangewend het om in die heiligdom te werk in plaas daarvan dat hulle dit self gedoen het (Esegiël 44:7-9).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander