Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (3) – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Gewig

In Hebreeus is die werkwoord “om te weeg” shakal, en daarom het die “sikkel” die basiese gewigseenheid geword. Absalom se hare het tweehon­derd sikkels geweeg (2 Samuel 14:26). Volgens die syfers wat in Eksodus 38:25-26 gegee word, kan ons uitwerk dat ‘n beka gelyk gestaan het aan ‘n halwe sikkel; ‘n talent was driehonderd sikkels. Op ‘n later stadium is ‘n ver­dere gewigseenheid bygevoeg wat as ‘n mina bekend gestaan het. Dit was ongeveer dieselfde as vyftig sikkels. Ons kan dus die volgende tabel saamstel:

2 bekas               = 1 sikkel

50 sikkels           = 1 mina

60 minas             = 1 talent

 

Die name in die voorafgaande tabel is ook deur ander lande oorgeneem, maar die veelvoude en die werklike gewigte daarvan het verskil. Wat die saak verder ingewikkeld gemaak het, was die feit dat dit lyk of die handelaars twee soorte gewigte gebruik het: ‘n ligte en ‘n swaar stel. Die een stel is gebruik wanneer daar aangekoop is en die ander stel wanneer daar verkoop is (Deuteronomium 25:13). Dit het verseker dat die handelaar ‘n sekere persentasie wins verkry en dit op sigself was nie verkeerd nie. Die probleem was egter wanneer vals gewigte doelbewus gebruik is ten einde ander mense te bedrieg (Levitikus 19:35-36; Miga 6:10-11). Die gewigte self was dikwels klippies wat tot een of ander vorm gemaak is, soos byvoorbeeld diere of ander objekte, met die gewig daarvan daarop aangebring. Die gewigte is op weegskale gebruik (Jesaja 40:12). Dit word bereken dat die talent tussen 28 en 30 kg geweeg het. Dit het sy naam ontleen aan die groot en swaar deksel van ‘n houer.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

image_pdfimage_print

You may also like...