Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (6) – Hennie Stander

Belasting

Mense is ook aangestel.om belastings in te vorder. In die begin van Israel se geskiedenis is “belastings” gehef ter ondersteuning van die Tabernakel en later die Tempel (Deuteronomium 14:22-29; 18:1-5). Toe die volk ‘n koning wou hê, het Samuel hulle gewaarsku dat hulle ekstra belastings op. hulle hals gaan haal indien hulle dit sou doen (1 Samuel 8:45, ev). Dit het toe

so gebeur. Salomo se bouprogramme en lewenstyl (1 Konings 4:22-28) het­ meegebring dat die Israeliete swaar belastings moes betaal. Hy. het onder andere streekbestuurders aangestel oor twaalf gebiede met die oog op die onderhoud van die koning en die hof (1 Konings 4:7-19). Die belastinglas was so swaar dat dit ‘n rebellie veroorsaak het wat die koninkryk kort na Salomo se dood verdeel het (1 Konings 12:4 ev).

 

Daar is getuienis dat hierdie vorm van belasting­heffing voortgesit is in die koninkryke van Juda en Israel. Ostraka wat in ‘n Samaritaanse stoorplek gevind is, het ook kwitansies vir die ontvangs van olie en wyn bevat, en op grond van die handvatsels van kruike wat regoor Juda gevind is, is daar aanduidings gevind dat die kruike olie en wyn bevat het wat vir die koning gestuur is. Dit lyk of selfs die eerste gras wat afgesny is, na die koning gestuur moes word (Amos 7:10).

 

Die mees afkeurenswaardige vorm van belasting was die betaling van beskermingsgeld: Dit was die praktyk dat magtige konings hulle buurstate ver­plig het om belastings aan hulle te betaal. Enige skending hiervan is as rebellie interpreteer en sou gevolg word deur die uitstuur van ‘n strafekspedi­sie van die leër na die swakkere staat. Tiglat-Pileser (ook Pul genoem) van Assirië het Israel verplig om sulke belastings te betaal tydens die koningskap van Menahem.(2 Konings 15:19-20). Farao Neko van Egipte-het dieselfde gedoen aan Joahas van Juda (2 Konings 23 :33-35) .

 

In die Nuwe Testamentiese tyd moes belastings aan die Romeinse Ryk betaal word. Die Romeinse amptenare het die reg om belastings in ‘n spesifieke gebied te hef verkoop aan die persoon wat die hoogste bod daarvoor gemaak het. Die belasting­kommissaris (hooftollenaar) moes dan ‘n sekere bedrag geld betaal. Hy het weer op sy beurt plaaslike mense as geldinvorderaars (tollenaars) ge­huur, en sowel die hooftollenaar as die ander tollenaars sou dan swaar belastings op die mense lê sodat hulle alles aan die staat kon betaal wat van hul verwag was en nog terselfdertyd ‘n goeie bestaan kon voer.

 

Saggeus was ‘n hooftollenaar en hy het sy bedrog erken deur te onderneem om alles wat hy van iemand anders op onregmatige wyse gevat het, viervoudig terug te gee (Lukas 19:8). Levi was waarskynlik so ’n plaaslike tollenaar (Lukas 5:27). Die Jode het die tollenaars gehaat, nie alleen omdat die tollenaars die Jode se geld gevat het nie, maar ook omdat die tollenaars as verraaiers gesien is deurdat hulle met die onderdrukkers saamgewerk het. Die naam tollenaar is dus met minagting bejeën. Die Joodse leiers kon nie aanvaar dat Jesus met hierdie mense bevriend was nie (Matteus 9:11; 11:19; vgl ook 21:31). Die afkeer wat die mense aan die tollenaars gehad het, was dus nie heeltemal sonder goeie rode nie. Ook Johannes die Doper het horn uitgespreek teen die tollenaars se praktyk om meer in te vorder as dit wat vasgestel was (Lukas 3:12).

Skrywer:  Prof Hennie Stander