1

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (8) – Hennie Stander

Die markplek

Ons weet baie min van hoe daar op plaaslike vlak handel gedryf is. Daar was gewoonlik ‘n oop plek of vierkant binnekant die stadsmure wat as ‘n markplek gedien het, en die strate wat weg van die markplek geloop het, het die handelaars gehuisves. Daar was ‘n straat van die bakkers in die tyd van Jeremia (Jeremia 37:21), en die vallei tussen die oostelike en die westelike riwwe van Jerusalem het as die vallei van die kaasmakers bekend gestaan. Daar moes ongetwyfeld ook stalletjies gewees het om die mense in die stad te bedien omdat vars kos elke dag gekoop moes word. Daar was ook ‘n weeklikse mark vir mense van die omringende dorpe waar hulle produkte kon koop en verkoop. Dit was vir Nehemia nodig om dinge so te reël dat markte nie op die Sabbatdag met hul werksaam­hede voortgegaan het nie (Nehemia 13:15-22).

 

Wat die vorm van die mark betref: al die goedere is op die grond uitgestal en die verkoper het tussen die goedere gesit. Spesiale markte is gehou wanneer daar ‘n karavaan aangekom het. Die pryse was selde vasgestel met die gevolg dat daar oor elke prys onderhandel moes word. In Spreuke 20:14 lees ons van die man wat kla oor die hoë prys wat hy moet betaal terwyl hy met die verkoper onder­handel, maar wanneer by by die huis kom, spog hy oor sy winskoop. In ruil vir die handelsware is ander goedere daarvoor ontvang, of ook metaal of muntstukke wat afgeweeg is (Lukas 16:5-7). ‘n Maateenheid moes altyd vol wees. Toe Jesus be­skryf het hoe ‘n goeie maateenheid goed ingestamp moes wees, en dat dit ook behoorlik geskud en tot oorlopens toe volgemaak moes wees, het Hy die standaardpraktyk beskryf soos wat dit op die mark­plekke gebeur het (Lukas 6:38).

Skrywer:  Prof Hennie Stander