Gebruike en Gewoontes in die Bybel: ’n Besoek aan Moderne Jerusalem (1) – JP Louw

Jerusalem

Baie mense kry geleentheid om Jerusalem te besoek en staan altyd verruk om die ou Bybelse stad te sien. So baie van die Bybelse gebeure kry dan ‘n lokale raamwerk hoewel ‘n mens moet onthou dat dinge verander en dat gidse soms aan toeriste baie optower wat misleidend is.

jerusalem1

Jerusalem en die Rotskoepel soos gesien vanaf die Olyfberg.

Die tempelterrein

Die Tempel is tans op die suidoostelike deel van die stad waar Herodes die muur verleng het wat oorspronklik deur Salomo gebou is en deur Serubbabel, die Persiese stadhouer in Juda, herstel is na die terugkeer van die Jode uit die ballingskap. Die tempeldak was hoog en van hierdie punt van die Tempel was dit moontlik waar Satan vir Jesus wou laat afspring het (Matteus 4:5). Verder na die noorde is die Goue Poort wat die westelike ingang tot die Tempel was, maar tans toegebou is en volgens die Jode eers oopgemaak sal word as hulle Messias kom. Die westelike muur is nie deur Titus afgebreek nie en dit is tans die sentrum van die Joodse godsdiens waar Jode teen die muur bid en klaag. Die Tempel self is tans ‘n plek van aanbidding van Islam, want dit lê in die Arabiese deel van Jerusalem. Hier is ook die oorblyfsels van Salomo se stalle to sien, die dorsvloer van Arauna (2 Samuel 24:18) en die rots van die berg Moria (2 Kronieke 3:1) waar Salomo die Tempel gebou het. Die rots is tans ‘n Moslem heiligdom met ‘n groot koepeldakgebou daaroor.

 jerusalem3

Die westelike muur wat oorgebly het en tans die sentrum van die Jode se godsdiens is.

 

Die plek van die kruisiging

Die oorblyfsels van die plek waar Jesus gekruisig en begrawe is en opgestaan het, word tradisioneel in Jerusalem gewys aan Christene op ‘n plek waar daar tans ‘n kerk gebou is – die Kerk van die Heilige Graf. By meer van die “historiese” plekke is Kerke gebou soos in Getsémané en die Kerk van die Hanekraai. Of die presiese area histories getrou is, word baie oor geargumenteer. Die heilige plekke is tans met baie ornamentele bykomstighede versier. Sowat drie- tot vierhonderd meter van die Kerk van die Heilige Graf is die Graftuin waar aan toeriste die graf van Jesus gewys word.

jerusalem2

Die Kerk van die Heilige Graf wat volgens tradisie die plek is waar Jesus gekruisig en begrawe is

Die Olyfberg

Met ‘n bus kan mens na die oostekant van die Olyfberg ry na Betanië toe, en dan terugloop oor die rif van die berg na Jerusalem toe. Die Olyfberg is maar ‘n plat heuwel en is maklik begaan­baar. In Betanië is daar ook ‘n kerk gebou oor ‘n plek waarvan gesê word dat Marta, Maria en Lasarus daar gewoon het. Lasarus se graf word net buite die dorp aan toeriste getoon. Al is die

plekke wat aangewys word nie histories seker nie, plaas dit ‘n mens tog in ‘n omgewing van soortgelyke aard. Bo op die heuwel is Betfage en ook hier is ‘n kerk wat Jesus se intog in Jerusalem simboliseer. Van hier soos ‘n mens afdaal, bied die terrein ‘n pragtige uitsig op Jerusalem. ‘n Entjie af is nog ‘n baie klein, maar beroemde kerkie, met die naam Dominus Flevit (“Jesus het geween”), gebou in die vorm van ‘n traan om te herinner dat Jesus oor Jerusalem geween het. Aan die anderkant van die heuwel is die Kedronvallei en Getsémané. Weer is daar ‘n kerk met ‘n rots in waarvan gesê word dat Jesus daar gebid het. Die kerk heet die Kerk van Alle Volke. Buite die kerk is ‘n tuin wat deur Franciskaanse monnike in stand gehou word met baie ou olyfbome, moontlik deel van antieke Getsémané.

jerusalem4

Die Olyfberg soos gesien vanaf die stadsmuur.

 

Plekke wat met Jesus se veroordeling verband hou

Op die berg Sion, waar Jerusalem geleë is, staan ‘n mooi kerk waarvan gesê word dat dit oor Kajafas se paleis gebou is. Langs die kerk is ‘n antieke trappegang wat na Kajafas se paleis sou gelei het. Die kerk word genoem Petrus Gallicantus (“Petrus van die Hanekraai”). Hier word ook aan toeriste die binneplein aangewys waar Petrus horn verwarm het by die vuur.

By die Burg Antonia is ‘n klooster wat Ecce Homo, (“Sien die Mens”) genoem word om aan te dui dat Jesus daar deur Pilatus oorgelewer is. Hier begin ook die smal straat wat as die Via Dolorosa bekend staan, die Weg van Smarte. Verder word hier ook gewys waar die soldate met Jesus gespot het en die doringkroon op sy hoof geplaas het met die kleed en septer. Van hier kan ‘n mens na Herodes se paleis loop. In later eeue was dit ‘n Turkse fort en tans ‘n museum. Die huidige gebou is oor die plek gebou van die oorspronklike paleis en een van die torings se fondamente word nog aangewys.

Skrywer: Prof JP Louw