Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(1) – JP Louw

Baie mense in ‘n bevolking beoefen hulle politieke en godsdienstige oortuigings” sonder veel drama terwyl ander sterk aangetrokke is tot drukgroepe en selfs aktiviste word. In Bybeltye was dit nie anders nie: Veral in die moeilike tye na die Babiloniese ballingskap, die herbou van die Tempel in Jerusalem, en in die tyd van Jesus onder Romeinse oorheersing het die Joodse bevolking onder swaar druk geleef. In tye soos hierdie ontstaan daar altyd verskeie groepe met sterk geformuleerde ideale. Om die sosiale en politieke groeperings met hulle religieuse onderbou, wat veral in die tyd van die Nuwe Testament baie aktief en divers was, te begryp, is dit goed om na die gebeure terug te gaan toe Samaria in 721 v. C. verwoes is en die bevolking weggevoer is na Assirië, en toe Jerusalem later ook verower is en die volk in 586 v.C. in ballingskap weggevoer is.

Die Samaritane

Hierdie groep het hulle naam ontleen aan die stad Samaria wat die hoofstad was van die Noordelike Ryk wat ontstaan het na die skeuring onder Salomo se opvolgers. Omri (1 Konings 16:24) het Samaria gebou en,sy seun Agab het die Baäldiens ingestel met ‘n tempel van Baal in Samaria (1 Konings 16:31-33). In 721 v.C. het die Assiriërs die stad verwoes en omtrent 27 000 van die beste en kun­digste mense van Samaria in ballingskap na Assirië weggevoer (2 Konings 17:24). Hierdie wegvoering staan bekend as die Assiriese ballingskap. Die As­siriërs het ander verowerdes geneem en hulle in Samaria aangestel as regeerders sodat dit kon lyk asof hulle die oorblywende bevolking nie direk regeer het nie. Tog het hulle dit wel gedoen deur so ‘n middelman wat lojaal aan die Assiriërs was vir hierdie guns. Dit was die Assiriërs se manier van doen om stabiliteit te bewerk. Maar dit het nie goed gegaan nie en in 2 Konings 17:25-34 lees ons van die probleme. As gevolg van die drastiese vermindering van die bevolking het die wilde diere van die omgewing vinnig vermeerder en het leeus mense begin aanval, en heelwat mense gedood. Die nuwe heersers het toe besluit dat hulle van die priesters wat weggevoer is, moes terugkry omdat hulle self nie mooi geweet het hoe om die Jode se God te vereer nie. Een priester is toe teruggebring om die Joodse godsdiens te herstel. Maar dit het nie veel gehelp nie, want die diverse bevolking het nog hulle eie gode saam met die erediens aan die God van Israel beoefen en so ‘n mengelgodsdiens tot stand gebring. Later het sommige van die Israeliete in Samaria wat hulle godsdiens getrou bewaar het, na Jerusalem opgesien – en in 2 Kronieke 35:17 lees ons selfs van ‘n geleentheid waar hulle aan die paasfees in Jerusalem deelgeneem het. Toe Jerusalem later self in 586 v. C. deur Babiloniërs vernietig is, het die Jode in Samaria hulle eie godsdiens voortgesit. Toe Babel later voor die Perse geswig het en die Jode in die Babiloniese ballingskap toegelaat is om Jerusalem te herbou, het die Samaritane verskillend reageer. Sommige het gemeen hulle moet saam help om te bou en die Joodse godsdiens te versterk (Esra 4:2), maar die terugkerende Jode wou niks van hulle weet nie (Esra 4:3). Moontlik het hulle geglo dat die mengelgodsdienste in Samaria ‘n gevaar ingehou het. Ander Samaritane was teen die herbou van Jerusalem gekant, want hulle wou Samaria handhaaf (Nehemia 2:10, 4:3). Alle Samaritane was immers nie suiwer Jode nie, want daar was in Samaria ook die volke wat deur die Assiriërs daar geplaas is en van die Jode het met hulle vermeng. Die Samaritane was dus nie vir die terugkerende Jode uit die Babiloniese ballingskap aanvaarbaar nie. Trouens die Samaritaanse Jode was nog steeds deel van die ou Noordelike tienstammeryk en die terugkerende Jode uit Babel het tot Juda en Benjamin behoort, die twee stamme van die ou Suidelike Ryk toe die volk na Salomo geskeur het. Hierdie ou vetes het herleef. Die Samaritane is dus beskou as ou vyande van die ware Jode van Jerusalem en verder is hulle ook as onrein beskou omdat hulle met soveel heidene in hulle midde gemeng het. Dit is dus begryplik dat die dissipels wat Jesus met ‘n Samaritaanse vrou sien praat het verbaas was (Johannes 4:9), want die Jode van Jerusalem het geen kontak met die Samaritane gehou nie. Dat Jesus twee dae in Samaria gebly het en dat baie Samaritane in horn geglo het (Johannes 4:39-40), moes vir die Fariseërs in Jerusalem ‘n gruwel gewees het en ‘n bewys” dat Jesus nie die Messias kan wees nie. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan sou sekerlik nie goed op die ore van die Fariseërs geval het nie. Hulle eie sosiale opvattings het so ‘n Messias nie aanvaar nie. Die slotwoorde van die boek Nehemia toon duidelik hoe sterk die ortodokse Jode van Jerusalem die Samaritane gehaat het (Nehemia 13:23-31).

Na die afwysing van die Samaritane deur die terugkerende Jode uit Babel, het hulle op ‘n stadium besluit om hulle aan Jerusalem te onttrek en ‘n eie tempel te bou (Johannes 4:19-20) te Sigem op die berg Gerisim wat ‘n belangrike plek in die geskie­denis van oud Israel was (Deuteronomium 11:29, Josua 8:33). So het die Samaritane ‘n eie tak van die Joodse godsdiens ontwikkel. Een besondere ken­merk hiervan was dat die Samaritane nie die hele Ou Testament as Bybel aanvaar het nie. Slegs die eerste vyf boeke van die Ou Testament wat hulle toegeskryf het aan Moses, is as Bybel aanvaar. Hierdie vyf het heelwat later (160 n. C.) bekend geword as die vyfdelige boek wat destyds in Grieks “pentateuchos” genoem is en so is later algemeen gepraat van die Samaritaanse Bybel as die Samari­taanse Pentateug. Die Jode in Jerusalem het die boeke altyd, en nog steeds, die Torah (Wet) ge­noem. Die Samaritaanse Pentateug stem grootliks ooreen met die Joodse Torah maar daar is tog baie kleiner verskille. Een belangrike is, byvoorbeeld, dat die woord Ebalberg in Deuteronomium 27:4 in die Samaritane se Bybel Gerisimberg lees.

In kort het die Samaritane se teologie behels dat die pentateug die enigste gesag is, dat daar een God is met een profeet nl Moses wat eendag as redder sal terugkeer, soms ook Messias genoem (Johannes 4:25). Verder het hulle geglo dat daar ‘n Dag van Oordeel kom en dat Gerisim die plek is wat God aangewys het as die korrekte plek om Horn te aanbid. Hierdie laaste stelling het vir die Samaritane die elfde gebod geword (Johannes 4:20).

Gedagtig aan die swak verhouding tussen Jode en Samaritane, is dit opvallend dat Lukas 17:16 vermeld dat van die tien melaatses wat gesond geword het net een kom dankie se het-hierdie een was ‘n Samaritaan, en in vers 18 word van horn gesê “hy is nie eers ‘n Jood nie”. Hieruit blyk dat die Jode in Jerusalem hulleself as Jode beskou het, maar die Samaritane (vanweë die ander volke in Samaria met wie hulle gemeng het) as heidene beskou het-of hulle nou egte heidene of egte Samaritaanse Jode was. Alle Samari­tane was vir die Jode gelyk aan heidene.

Hierdie houding teen die Joodse Samaritane wat op die berg Gerisim hulle tempel gehad het, was so sterk dat in 128 v. C. een van die Joodse heersers in Jerusalem met die naam Johannes Hirkanus, wat tot die Hasmoneërs (‘n Makkabese groep wat fanatieke Jode was) behoort het, die tempel op Gerisim verwoes het toe hy Sigem ingeneem het. In die tyd, êrens tussen 6 en 9 n.C., het ‘n groep Samaritane weer die Tempel in Jerusalem ontheilig deur doodsbeendere daar tydens paasfees rond te strooi. In Handelinge 8 lees ons egter dat Jesus se houding teenoor die Samaritane onder Christene ‘n verandering gebring het. Filippus het daar gepreek en toe die gemeente in Jerusalem hoor dat die Samaritane die Evangelie aanvaar het, is Petrus en Johannes gestuur wat vir hulle gebid het sodat hulle ook die Heilige Gees ontvang het (Handelinge 8:15-17). Hierdie verandering van gesindheid is iets besonders wat die krag van die Evangelie van Jesus Christus illustreer.

Skrywer:  Prof JP Louw