Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(5) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die Selote

In Lukas 6:15 en Handelinge 1:13 lees ons van ‘n sekere Simon met die bynaam Yweraar (ou ver­taling) of Fanatikus (nuwe vertaling). Die Griekse woord is zelotes waaruit sommige afgelei het dat die Joodse party van die Selote reeds toe al bestaan het. So word selfs gesê dat Judas die Galileër (Handelinge 5:37) die stigter van die Selote in 6 n.C. was. Die Joodse geskiedskrywer Josefus sê ook dat hierdie Judas ‘n Joodse party gestig het, maar Josefus is bekend vir sy onbe­troubare geskiedskrywing sodat dit nie sonder meer aanvaar kan word nie. Ons ken die Selote egter eers as groep met hierdie naam in die jaar 66 n.C. toe die Romeine ‘n rebellie van die Jode onderdruk het. In die Nuwe Testament kom die woord zelotes meermale voor en word vertaal met woorde soos stiptelik, streng, met toewy­ding optree, ywerig wees, fanatiek wees. In hierdie gevalle dui dit op iemand wat uiters toegewy is aan ‘n saak. Dan word dit as bynaam van Simon genoem in Lukas 6:15 en Handelinge 1:13. Maar in Matteus 10:4 word by Simon Kananites (ou vertaling) genoem.

Onder die Jode was daar fanatieke groepe wat geweier het om aan die Romeine belasting te betaal. Die Romeine het hulle die sicarii, dolk­draers, genoem omdat hulle dikwels met dolke moorde gepleeg het, want hulle het geglo dat slegs die wapen die Romeine sal verdryf. Dit is moontlik dat Simon iemand van hierdie gesind­heid was, maar of by ooit die dolk ingelê het, is te betwyfel. Judas die Galileër was waarskynlik wel meer gewelddadig. Sy opstand is onderdruk en sy volgelinge verstrooi. Hierdie gesindhede het egter onder die Jode gebroei en dit is meer waarskynlik om te sê dat in die tyd van die Nuwe Testament die spore van fanatieke Jode gesien word wat later meegebring het dat ‘n party gevorm is wat hulleself die Selote genoem het. Wat ons dus in die Nuwe Testament vind is moontlik net voorlopers daarvan.

Die Jode wat die Messias as ‘n aardse verlosser van die juk van Rome gesien het, sou by Jesus se intog in Jerusalem seker by die ideale van hierdie fanatieke Jode aanklank gevind het. Miskien het Judas Iskariot ook dieselfde idees gedeel en toe Jesus nie aan hierdie verwagtings voldoen het nie, het by teen hom gedraai en hom verloën.

In die opstand wat in Palestina gelei het tot die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. was die Selote as party nou betrokke. In die proses het ‘n groep van hulle teruggetrek tot in die vesting Masada waar hulle baie lank teen die Romeine uitgehou het. Maar eindelik in 74nC het die Romeine met behulp van ‘’n ontsaglike grondhoop wat hulle teen die berg opgebou het die vesting binnegedring om net lyke te vind, want almal het die nag toe hulle besef het dat dit finaal is, selfmoord gepleeg.

masada

MASADA

Die Selote was ook aktief in die rebellie van Bar Kogba in 135 n.C. toe Jerusalem weer verwoes is en die Jode uit die stad verban is.

image_pdfimage_print

You may also like...