Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(4) – JP Louw

Die markplek

Die markplek het gewoonlik vanaf die poort gestrek. Hier het ook die owerhede hulle sittings gehad (Handelinge 16:19). Die inwoners het hier hulle ware verkoop en koopmanne van ver was hier bedrywig. Die mark was elke dag van die week oop (Nehemia 10:31), want sonder yskaste moes elke dag inkopies gedoen word.

Wanneer ‘n karavaan handelaars aankom, was so ‘n markdag baie spesiaal-byna ‘n fees. Baie poorte se werklike ingang was te klein om waens of selfs kamele in te laat. Die goedere moes per hand ingedra word. Dit is moontlik dat Jesus in Lukas 11:46 die vragte wat gedra moes word, as beeld van die Fariseërs se baie voorskrifte gebruik het. Miskien het Paulus ook hierby aangesluit toe by in Galasiërs 6:2 gesê het dat ons mekaar se laste moet dra. Hoe dit ook al sy: in die antieke wêreld is baie vragte maar oral op die skouers gedra.

Die markplek was ‘n besige bedryf met baie mense wat daar doenig was. In Athene het Paulus elke dag op die stadsplein, die mark dus, met verbygangers gepraat (Handelinge 17:17). Die mark was ook ‘n plek waar kinders gespeel het (Matteus 11:16-17). Werkloses het daar gaan staan in die hoop om gehuur te word (Matteus 20:3).

Strate

In die Ou Testamentiese tye het die strate vanaf die mark uitgeloop. Dikwels was die strate maar baie smal sodat mens skaars twee langs mekaar kon loop. Die huise is baie na aan mekaar gebou en die strate was soms weinig meer as ‘n laning tussen die huise. Vandag nog is daar in Jerusalem baie van hierdie ou strate te sien. Uit die strate het dikwels nog kleiner lanings na agterdele van huise geloop. Dit was nogal moeilik om jou weg te vind as jy vreemd was. Die eerste strate was net van grond en is sommer ook gebruik om enigiets op weg te gooi. In Jesaja 5:25 word die gesneuweldes vergelyk met die vuilgoed op die strate. Dikwels lees ons in die Ou Testament van modder in die strate (Psalm 18:43, Jesaja 10:6, Miga 7:10, Sagaria 9:3, 10:5), want almal het enige water daar uitgegooi en as dit gereën het, was die modder nog erger. Omdat strate so modderig geword het, is later plaveisel aangebring wat ‘n groot verbetering was. Strate het soms name gehad (Jeremia 37:21, Handelinge 9:11), maar die was aanvanklik min.

smalstraat

 ‘n Smal straat in die ou deel van Jerusalem

Omdat die strate smal en donker was, veral snags, was hulle ook gevaarlik. In die antieke wêreld was honde meestal op die strate aangewese vir kos en het so bygedra tot die gevaar. Psalm 59:7 vergelyk die ongeregtiges met honde wat snags op straat ronddwaal. Honde was nie hoog geag nie en was simbool van onsedelike mense (Openbaring 22:15). Eers ten tye van die Nuwe Testament is honde ook as huisdiere gebruik.

Stede wat deur die Grieke en Romeine gebou was, het heelwat anders gelyk. Hulle was beplan en die strate het plaveisel gehad. Voor groot geboue was oop pleine en waar groot strate kruis, is dikwels ook oop pleine gemaak. Sesarea wat deur Herodes gebou is as hawestad om die Romeine na Judea to bring, het ‘n hoofstraat gehad met winkels aan beide kante en met baddens en teaters. Huise is in Sesarea in blokke van vier gebou en daar was groter administratiewe geboue. Die ouer Ou Testamentiese stede was egter meestal maar redelik primitiewe woonplekke. Daarteenoor het Antiogië, waar Paulus dikwels vertoef het, selfs straatligte gehad. Die verskil is basies een van tyd. Dit het lank geduur voordat samelewings ‘n geordende geheel met beplanning en toesig geword het. Die oudste stede het meer spontaan ontwikkel.

Skrywer: Prof JP Louw