Gee my wysheid (5)

 

Have faith and the way will open – ou Kwaker gesegde

 

Gee my wysheid (5)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Die outeur van ons geloof

 Terwyl ons dan nou so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins (Hebreërs 12:1 – 2).

Christene het ‘n wedloop om te hardloop. Hierdie wedloop lê voor hulle. Dit is uitgemerk deur die woord van God en deur die voorbeeld van ‘n skare geloofsgetuies. Hierdie wedloop moet met geduld en volharding gehardloop word. Geloof en genade is die gawes wat oorwin. Daarom moet hulle altyd vertroetel word.

 

Christene het ‘n groter voorbeeld om hulle te bemoedig as enigiets wat vantevore genoem is. Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, is die groot leier en voorbeeld vir ons geloof. Hy is die Voleinder van genade en die werk van geloof in die siele van sy mense. Hy is die Beoordeelaar en Beloner van hulle geloof.

 

Ons moet na Jesus kyk; ons moet Hom voortdurend voor ons as ons voorbeeld hou. Ons moet oor Hom nadink Ons sal gou agterkom dat sy lyding ons lyding verreweg oortref, maar ook dat sy geduld ons geduld verreweg oortref.

 

Daar is ‘n neiging in die beste van ons om moeg te word as gevolg van ons beproewings. Ons kan dit verhoed deur na Jesus te kyk. Geloof en nadenke bring vir ons ‘n vars voorraad van krag en moed.