Gee my wysheid (8)

 

You block your dream when you allow your fear to grow bigger than your faith – Mary Manin Morrissey

 

Gee my wysheid (8)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Die krag van geloof

Hy het vir hulle geantwoord: “Vanweë julle kleingeloof. Amen. Ek sê vir julle: As julle geloof het soos ‘n mosterdsaadjie sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie (Matteus 27:20) [Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling.]

Jesus gebruik hierdie geleentheid om vir ons die krag van geloof te wys. Hier word na die kwantiteit van die saad verwys – as jy maar net ‘n greintjie ware geloof het, al is dit so klein soos die kleinste saadjie, sal jy wonders kan doen.

 

Die geloof waarvan hier gepraat word, het as voorwerp daardie besondere openbaring waardeur Jesus vir sy dissipels die krag gegee het om wonders in sy Naam te doen. Dit was ‘n geloof waarin hulle in hierdie besondere geval tekortgeskiet het. Moontlik het Jesus se afwesigheid twyfel in hulle gedagtes laat ontstaan of hulle in staat sal wees om dit te doen. Ons moenie in onsself en op ons eie krag vertrou nie. Jesus Christus is ongelukkig as ons nie vertroue in krag wat hy gee, het nie.

 

As jy net ‘n klein bietjie geloof het, sal niks vir jou onmoontlik wees nie. Die dissipels het nie die krag wat hulle ontvang het, vertrou nie. Daarom het hulle misluk. ‘n Opregte geloof kan berge verskuif – nie deur ons nie, maar deur Goddelike krag en ‘n Goddelike belofte.