Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (3)

 

I never made one of my discoveries through the process of rational thinking.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (3)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere. Ons kyk vandag na die derde manier.

 

  1. Ons gehoorsaam die woord heelhartig (Jakobus 1:22)

Ons het gesien ons moet God se woord nederig ontvang en sy woord voortdurend onthou. Ons moet egter ook sy woord gehoorsaam. Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders terwyl julle julleself so bedrieg nie. Ons het nie werklik na die woord geluister as ons dit nie doen nie. Die woord lei tot optrede. As dit nie gebeur nie, het ons nie werklik die woord aanvaar nie. Diegene wat Jesus aanvaar het, gehoorsaam Hom. Gebeur dit nie mislei ons onsself.

 

Hierdie woorde van Jakobus klink baie na dié van Jesus in sy bergrede: Nie elkeen wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar die een wat die wil van my Vader in die hemel doen … En dan sal Ek aan hulle verklaar: Ek het julle nooit geken nie; ‘gaan weg van My af, julle wat wettelose dade doen. Elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit doen, sal soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het (Matteus 7:21 – 25). As jou hele geestelike lewe gebou is op net luister na God se woord en Hom nie gehoorsaam nie, sal jou lewe eindig in vernietiging.

 

Baie mense reageer op God se woord, maar net as dit by hulle leefstyl inpas. Sodra sy woord konfronteer of uitdaag of probeer om hulle te verander, vergeet hulle dit. Moenie gewillig wees om die armes te help nie – help hulle; moenie gewillig wees om die evangelie met ander te deel nie – deel dit. Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders nie. Doeners sal gelukkig wees in sy optrede (vers 25).

 

Jakobus sê in hierdie gedeelte dat ons seën kan verwag as ons God se woord gehoorsaam. Onmiddellik vra ons: Maar hoe gehoorsaam ons God se woord? Ontvang die woord van God in nederigheid – die woord wat in jou ingeplant is. Fokus op sy woord; onthou dit; bêre dit in jou hart en denke. Daardie woord sal in en deur jou werk en jou beweeg om God se opdragte uit te voer.

 

Moenie tevrede wees om net na God se woord te luister nie. Gehoorsaam sy woord. Baie mense weet wat God se woord sê, maar hulle doen dit nie. Die woord sê: “Sorg vir die armes;” “Moenie skinder of pornografie kyk nie;” ens, maar ons ignoreer dit – dit pas nie in by ons leefstyl nie. Ons moet God se woord gehoorsaam, ongeag van die omstandighede.