Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Geloofsekerheid

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Geloofsekerheid – Adrio König

Geloofsekerheid 

Onder geloofsekerheid (of heilsekerheid of sekerheid van saligheid) word verstaan dat ‘n mens nie in twyfel hoef te leef oor jou verhouding met die Here nie. ‘n Mens hoef nie maar net jou bes te doen en dan vir die beste te hoop nie. ‘n Mens kan `weet dat jy die ewige lewe het’ (1Joh 5:12,13). Dit is ‘n baie belangrike saak omdat dit gelowiges sterk motiveer. Daar kom ‘n vastigheid en geborgenheid in ‘n mens se lewe wat jou inspireer in jou diens aan die Here. Wie leef uit die genade, uit die oortuiging dat God die goddelose regverdig, kan net weens ‘n misverstand huiwer oor die vraag of jy persoonlik in die heil deel.

In noue verband met geloofsekerheid kom die getuienis van die Heilige Gees ter sprake. Hiervoor kan ‘n mens jou beroep op o.a. Rom 8:16. Daar is ook ander uitsprake wat hiermee in verband gebring word (soos Joh 17:7; 1Joh 5:10). Die getuienis van die Gees is natuurlik allereers sy getuienis deur die evangelie wat ons hoor en lees. ‘n Mens sou dit sy uitwendige getuienis kon noem. Maar daar is skynbaar ook van ‘n inwendige getuienis sprake: `Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is,’ `Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart.’

Daar is uiteraard verskillende interpretasies hiervan (‘n intuïtiewe sekerheid, ‘n stemmetjie), en dit bly ‘n uiters moeilike saak om in woorde te beskryf. Dit is egter duidelik dat gelowiges wat bewustelik in gemeenskap met die Here en met ander kinders van God leef, ‘n oortuiging oor hulle verlossing ontwikkel wat nie aan voortdurende twyfel onderworpe is nie – al sal krisiservaringe nie noodwendig ‘n persoonlike worsteling uitsluit nie. Die belewing en omskrywing van hierdie `inwendige sekerheid’ is egter baie sterk gekoppel aan die besondere spiritualitiet van verskillende groepe.

Dit is egter ‘n vraag of die nadruk moet lê op heilssekerheid of op verlossing. Wanneer ‘n mens iemand vertrou, soek jy nie sekerheid oor jou verhouding met so ‘n persoon nie. ‘n Man wat sekerheid soek oor sy vrou se verhouding met hom, doen dit net omdat Hy klaar ‘n probleem het. Wat hy moet soek, is nie sekerheid nie, maar ‘n gesonde verhouding. Die vraag is nie of ons seker is van ons verlossing nie, maar of ons verlos is. ‘n Mens is verlos as jy die evangelie glo, as jy glo wat God in Jesus vir jou gedoen het.

Hierdie nadruk is nodig omdat `die soeke na sekerheid’ op allerlei uiterstes kan uitloop van (oor-)emosionele innerlike worstelinge wat nie net totaal onnodig is nie (glo liewer eenvoudig net die evangelie!) maar baie ontwrigtend kan wees. ‘n Mens kry nie sekerheid van jou verhouding met die Here in jou binneste nie, maar in die evangelie wat jy hoor of lees, en dan glo. God is betroubaar. Ons hoef nie naas sy Woord nog ekstras te soek nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König