Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Vereniging met Christus

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Vereniging met Christus – Adrio König

Vereniging met Christus

Ons het hier ‘n begrip wat baie verwaarloos is in ons geloofsbelewing, terwyl dit een van die sentrale begrippe in Paulus se prediking is en ‘n heerlike, verheffende betekenis het.

In die Gereformeerde geloofsbelewing staan regverdiging en geloof in die sentrum. Nie dat ons altyd die begrip regverdiging gebruik nie. Trouens ons gebruik dit waarskynlik baie min. Maar die betekenis daaragter is dat Christus aan die kruis vir al ons sondes ten volle betaal het. Dit is die hart van die evangelie in die Gereformeerde tradisie. En daarvoor kan ons die Here dank. Dis ‘n heerlike boodskap.

Maar dit is nie die hele boodskap nie. En dit laat ons taamlik ver van Christus af staan: 2000 jaar gelede het Hy iets wonderliks vir ons gedoen. Vir ons. Ver van ons af. En Goddank dat Hy toe so ver van ons af was. As ons toe naby Hom moes wees, saam met Hom aan die kruis, het ons vir ewig onder die toorn van God beswyk. Dankie vir afstand tussen my en Christus – wanneer dit nodig is.

Maar dalk bly ons nog altyd so ver selfs wanneer dit nie meer nodig is nie. Wanneer word dit Christus in ons, ons in Hom, ons saam met Hom aan die kruis, ons saam met Hom uit die graf? Daarvan het ons te min. Verbond is juis nabyheid.

Die begrippe `in Christus’ en `saam met Christus’ is van die heel belangrikste begrippe in Paulus se prediking. Die geloof, die doop, die beëindiging van ons ou lewe, die weergeboorte, die nuwe lewe, die bekering, draai alles om hierdie verbondenheid aan Christus.

Ons kom in verskillende verhoudings tot Christus te staan. So staan ons twee keer voor die kruis en voor die oop graf. Ons kyk eers op ‘n dankbare afstand na die kruis. Dáár het die beslissing vir ons geval – Goddank. Dit is regverdiging.

Maar dan kyk ons weer na die kruis, en hierdie keer loop ons tot by die kruis. Want as ons in Hom glo, verenig God ons met Hom en dan het ons deel aan sy hele geskiedenis sodat ons ook deel kry aan sy kruis en opstanding. As ons in Hom glo, beteken dit dat ons op een of ander byna onbegryplike manier saam met Hom aan die kruis was toe Hy gekruisig is! En toe Hy die môre uit die graf opstaan, het ons saam met Hom opgestaan! In hierdie sin is dit nie net Hy wat aan die kruis gesterf het nie. Die kruis was ook ons dood. Ons is saam met Hom gekruisig sodat ons ou-lewe-in-die-sonde gekruisig, gestorwe en begrawe is. En ons het saam met Hom opgestaan wat beteken dat ons deel het aan sy nuwe lewe wat Hy net vir God leef. Trouens ons het nie meer ‘n lewe van ons eie nie. Goddank, want ons eie lewe is ‘n lewe in sonde. Nou het nog net Hy ‘n lewe, ‘n nuwe lewe wat Hy by sy opstanding van God ontvang het. En Hy gee ons deel aan hierdie nuwe lewe van Hom, sy verheerlikte oorwinningslewe.

Wat kan Paulus anders bedoel as hy skryf: `Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, (is nie meer my eie lewe nie, maar) ek leef dit in die geloof in die Seun van God …’ (Gal 2:19-20). Hoeveel keer herhaal hy dit: ons is saam met Christus gekruisig, saam met Hom begrawe, saam met Hom opgewek (Rom 6; Ef 2; Kol 2-3). Hoe merkwaardig hy dit met ons doop verbind, word elders behandel.

Die grootste misverstand wat hier kan ontstaan, is dat ons meen dat ons self vir die sonde moet sterf. Ons ken mos al die uitdrukkings: ons moet ons eie-ek doodmaak, ons moet ons vlees kruisig, `I must become a bent I, that is a C’ (vir Christus), en duisend ander onmoontlike dinge as dit van ons afgehang het, maar almal dinge waaraan ons klaar deel het as ons op Hom vertrou. Trouens sou ons vir een oomblik wou dink dat God ons daarmee sou vertrou dat ons self ons ou sondige lewe moet beëindig? Hy weet mos ons kan nie.

Hy het dit gedoen. As ons glo, verenig Hy ons met Christus sodat ons die betekenis van sy kruis en sy opstanding saam met Hom beleef, en nou in sy nuwe lewe deel. Christus sondig nie, en daarom kan ons voortaan vir die sonde nee sê en ons lewe (nee, sy lewe waaraan ons deel het) net aan God wy.

Om ons dubbele betrokkenheid by sy kruis te verstaan, kan ons onthou dat Christus ons verteenwoordig én ons in Homself insluit. Ons praat van sy verteenwoordigende (representatiewe) én sy insluitende (korporatiewe) betekenis. As ons verteenwoordiger het Hy aan die kruis vir ons, in ons plek, sonder ons, gesterf en gedoen wat ons nooit kon doen nie, ons skuld by God betaal. Maar omdat God wil hê dat ons regtig ‘n nuwe lewe moet lei, neem Christus ons ook in Hom op wanneer ons glo. Hy verbind ons aan Hom sodat sy ervaringe aan die kruis en in sy opstanding nou ons ervaringe word, sy dood vir die sonde ook ons dood vir die sonde, sy opstanding tot ‘n nuwe lewe ook ons opstanding. Die punt is dat ons ons eie lewe by God verbeur het. Nou gee Hy ons in sy genade deel aan ‘n ander lewe, aan Christus se lewe, ‘n lewe wat klaar vir die sonde gesterf het en opgestaan het om net vir God te lewe.

Onthou die `moet’ in Rom 6:11. Dis ‘n opdrag. As jy op die Here Jesus vertrou en jy meen nog altyd jy is nie dood vir die sonde nie en jy het nog nie ‘n opstandingslewe nie, doen jy sonde, ontken jy die waarheid: deur die geloof het Hy jou met Christus verenig.

Dit beteken natuurlik nie dat ons nooit weer probleme met die sonde sal hê nie. Trouens net die eerste vers na Rom 6:11 sê dit duidelik (`Moet dan nie toelaat dat die sonde langer in julle heerskappy voer … nie’). Dit beteken dat ons inderdaad die opdrag van vers 11 kan verontagsaam (en hoe!), maak asof ons nog nie vir die sonde dood is nie, en nog altyd hierdie tiran se bevele uitvoer. Maar die oplossing is nie om nog iets ekstra by te kry nie (‘n tweede genadewerk of vervulling met die Gees), maar om die evangelie te glo en te gehoorsaam: ek is dood vir die sonde as ek op Jesus vertrou, ek kan vir die sonde nee sê en my lewe volkome aan God wy (natuurlik net omdat ek aan sy nuwe lewe deel het, of anders uitgedruk: deur die krag van sy Gees). Ons probleem is nie dat ons meer en meer nodig het nie. Waar sal ons in elk geval meer kry as ons alreeds ‘n aandeel het aan sy nuwe lewe? Ons probleem is dat ons nie glo wat ons het en in terme daarvan leef nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König